Home » Preke 2019 » Galasiërs 3:23-29 – Tweede Sondag in Koninkrykstyd – 23 Junie 2019

Galasiërs 3:23-29 – Tweede Sondag in Koninkrykstyd – 23 Junie 2019

Carolyn Brown het verskeie pragtige idees om kinders by hierdie Sondag se diens te betrek. Sy herinner ons dat reëls vir kinders goed is. Hulle kan nog nie die onderskeid verstaan wat die teks tref nie. Gesels eerder met die kinders oor die verskille tussen mense, wat nie saak maak nie. Vind bv uit oor die verskillende sport-spanne wat hulle ondersteun, verskillende dorpe waar hulle gebore is, ens. Hoewel dit interessant is, maak dit nie saak nie. Wanneer ons God se kinders is, is dit al wat saak maak. Skakels na ‘n paar pragtige stories wat jy vandag kan vertel, ingesluit. Galasiërs is ‘n brief geskryf sonder om asem te skep. Paulus is emosioneel – sy geliefde Galasiërs is op ‘n dwaalspoor, want hulle het afgedwaal van die evangelie van die gekruisigde Jesus Christus. Die evangelie waaroor en waarvoor Paulus so passievol geleef het.

Die dwaling het te make met sekere persone wat die gemeente verlei deur te verkondig dat nuwe heidense gelowiges hulle moet laat besny en ander wettiese bepalinge nakom voordat hulle kan deel hê in die beloftes van God. Dit lei tot twis en rusie en verdeling in die gemeente. ‘n Sentrale tema in ons teks is dié van ons identiteit as kinders en erfgename van Abraham en God wat reeds in Galasiërs 3:7 begin en deurloop tot in 4:1-7. Daarom moet mens eintlik hierdie hele gedeelte saamlees. Dan hoor ons die boodskap van die teks: Ons geloof is buite onsself. Buite ons besoedelende vooroordele, buite ons veranderende reëls. Ons geloof het te doen met God. Dit is ‘n daad van God. Dit is ‘n handeling van God. Dit is genade. Dus, so ook ons vryspraak en ons identiteit as kinders van God. Erfgename van Abraham. Dit het niks, niks, niks met ons reëls te make nie.

Share