Home » Preke 2019 » Galasiërs 6:(1-6) 7-16 – Vierde Sondag in Koninkrykstyd – 7 Julie 2019

Galasiërs 6:(1-6) 7-16 – Vierde Sondag in Koninkrykstyd – 7 Julie 2019

Vir kindertyd kan sade aan die kinders uitgedeel word wat hulle by die huis in klam watte kan laat groei. Daar kan klem daarop gelê word dat wanneer ons wéét dat ons kinders van Jesus is, wanneer ons wortels in die wete geanker is, groei ons. En wanneer ons groei (soos die plant) kan almal dit sien in die manier waarop ons teenoor ander optree. Plante in verskillende stadiums van hul groeiproses kan ook hier ingespan word (bv sade, ontkiemde sade, volgroeide plante). Die brief aan die gelowiges in Galasië het een deurlopende tema: die gelowiges se identiteit in Christus.

In hierdie brief is dit vir Paulus van besondere belang dat die lesers (en hoorders) van die brief sal begryp dat Christus, deur sy kruisdood en opstanding, vir gelowiges ‘n ánder en nuwe lewe bewerkstellig het – nie een wat deur gehoorsaamheid aan Joodse wette en gebruike soos die besnydenis verkry word nie, maar ‘n lewe van vryheid wat reeds aan gelowiges gegéé is. Geloof is om op God en die waarheid van die kruis te vertrou. Om met ons volle gewig op God en sy werk deur Jesus Christus te steun. Om te weet dat dit wat God vir ons sê en wat Hy gedoen het en steeds doen, betroubaar is. En dat hierdie vertroue nie net ‘n kop-ding is nie, maar die geheel-mens insluit, deur die werking van die Heilige Gees wat van ons nuwe mense maak. Aangesien ons Christus vertrou, begin ons volgens die Wet van Christus te leef, soos die Woord ons leer.

Share