Matteus 9:35-10:8, (9-23) – Tweede Sondag in Koninkrykstyd – 14 Junie 2020    

Oorweeg om ‘n kindervriendelike vertaling van die Skriflesing te gebruik. Jy kan aansluit by die feit dat Judas deel van hierdie groep was. ‘n Ander opsie is om te praat oor die stof afskud. Ons Skriflesing is die begin van Jesus se tweede lang toespraak in die Evangelie volgens Matteus. Hierdie is ‘n belangrike draaipunt in die Matteus-evangelie. Jesus se werk verbreed nou. Jesus sluit al sy dissipels wat Hy geroep het in by sy bediening. Hy rus hulle toe en gee vir sy dissipels in ons teks volledige instruksies oor hoe hulle bediening moet lyk. Hier het ons met die diepste beweegredes agter Jesus se bediening te doen. Hy kry die skare innig jammer, sy hart en ingewande kom in beroering oor hulle. Jesus sien nie neer op die skare se ellende nie, hy het nie ‘n neerbuigende bejammerende houding nie, hy beleef empatie met die mense.

Trouens, Jesus sien geweldige potensiaal in die skare, want hy draai na sy dissipels en sê: Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes (37-38). Die bekende prediker uit die VSA, Thomas Long, skryf: Where others might gaze on such a group and see only desperate, even overwhelming, neediness, Jesus sees in them great potential. Jesus, the embodiment of God’s will, is the compassionate shepherd … [who] sees [the crowds] as a bumper crop ready for harvesting. Wat nodig is, is arbeiders wat saam met Jesus kan werk om hierdie oes in volheid van lewe by God en by nuwe lewensmoontlikhede te bring. Daarvoor moet die dissipels bid, net om te ontdek hulle is die arbeiders wat Jesus ook roep om by die oes uit te kom.

Share