Romeine 8:12-25 – Sewende Sondag in Koninkrykstyd – 19 Julie 2020

Gebruik die storie “I love you like crazy cakes” deur Rose A Lewis. Dit is die verhaal van ’n dogtertjie in ’n kinderhuis in China.  Sy het baie maatjies, maar nie ’n mamma nie.  Aan die ander kant van die wêreld was ’n vrou wat ook baie maatjies gehad het, maar nie ’n baba nie.  Daarom het sy vir die regering in China geskryf en gevra oor die dogtertjies in die kinderhuis.  Die regering het vir haar ’n foto gestuur en gesê sy kan die dogtertjie aanneem as sy belowe om baie goed vir haar te sorg.  Die vrou was baie opgewonde toe sy op die vliegtuig reis na China.  Uiteindelik in China aangekom, het sy haar nuwe dogtertjie ontmoet.  Sy het die dogtertjie op die bed in die hotel neergesit en net na haar gestaar.  “Hoe kan jy so perfek wees?” het sy gevra.  “I love you like crazy cakes.”

Op die vlug terug huis toe het die dogtertjie op die stoel gestaan en vir die man agter haar geglimlag.  Uiteindelik by die huis aangekom, het al haar (nuwe) familie –  ouma en oupa en ooms en tannies – op die lughawe gewag om haar te verwelkom. Romeine 8:12-25 help ons met woordeskat om te praat oor ons belewenis van die wêreld. Dink net aan die “gesug” waarmee ons elke dag leef. Ons het in 2020 mense geword wat sug. Ons sug, want ons worstel met Covid-19, die klimaat en die politiek, met staatskaping, met werkloosheid en die ekonomie, met geweld en misdaad. Ons worstel ook met ons gesinslewens en huwelike. Ons worstel met die lewe!  Te midde van hierdie geworstel, ervaar ons dat die sekerhede waarmee ons grootgeword het, verdwyn het. Baie van ons het grootgeword in ‘n tyd toe leiers gepraat en ons dit sonder meer aanvaar het. So was dit ook in die kerk. As die dominee sê “So sê die Here, Here”, het ons dit aanvaar en daarvolgens gelewe. Vandag is ons eintlik net besoekers, reisigers op pad na ‘n toekoms wie weet waar. Koos du Plessis verwoord dit goed as hy skryf: “Elke dag is ‘n gedagte, elke kamer net gehuur. Elke aardse droom van rykdom en roem, net ‘n skadu teen die muur.” Ons as gelowiges sug ook.

Die uitdagings van die wêreld, is ook gelowiges se uitdagings. Mense se stories, wat ons in die koerante lees, wat ons op die televisie sien, maak ons bang. Dit laat ons in ons dop inkruip, ons geloofsvoete sleep, want ons dink onsself die bangte in. Dit skep spanning. Aan die een kant vertrou ons die Here. Aan die ander kant sukkel ons daarmee en verloor ons geloofsenergie. Gevolglik vra ons maklik: Maar waar is God dan? Wat is die oplossing? Paulus antwoord ons in Romeine 8:12-25. Die wonderlike is God weet van ons gesug. God weet van ons swaarkry. God weet van ons moedeloosheid en hoop-loosheid. God weet waarmee ons elke dag worstel. God draai egter nooit sy rug op ons nie. Inteendeel, God se Gees sug saam met ons. Dit is so asof die Gees die sugte wat ons gee, onderstreep, beaam en sê: “Ja, dit is ongelukkig so!” Dit is egter terselfdertyd die begin van ‘n nuwe sug, ‘n sug van hoop!

Share