Genesis 45:1-15 – Elfde Sondag in Koninkrykstyd – 16 Augustus 2020

Dit gebeur maklik in enige huishouding dat een van die kinders dink dat van die ander voorgetrek word. Gesels met die kinders hieroor en probeer hulle spontane reaksie ontlok. Gebruik hierdie bekende situasie kreatief  om die gemeente deur die kinders se reaksie in die teks in te lei. Mens sou dink Josef was nog kwaad vir sy broers… hulle het hom dan destyds verkoop as ‘n slaaf. En nooit het hulle geweet Josef sou uiteindelik in Egipte by die koning tot groot hoogtes uitstyg nie. In vandag se fokusteks doen Josef die ongelooflike… hy verwyt nie sy broers nie maar omhels hulle. Hy neem nie wraak nie. Mag ek en jy dit ook regkry om so te kan vergewe wanneer ander ons te na kom.

Mag ek en jy dit ook regkry om God se werk in ons lewens raak te sien. Die preekriglyn sluit aan by die feit dat die Bybel mense se verhale gebruik om ons oor die lewe te leer en hoe om ‘n pad saam met God te loop. Josef se verhaal in Genesis is een so ‘n verhaal. Om die waarheid te sê, dit is ‘n verhaal met soveel lewenswysheid dat party geleerdes dink dat dit eintlik deel van die Wysheidsliteratuur moet wees. Dit is bedoel om mense oor die lewe te onderrig en te help verstaan wat die sin is van alles wat met hulle gebeur. Josef se lewe het diep donker tye gehad. In ‘n put, versaak deur sy broers. As ‘n slaaf, wat onregverdig in die tronk gegooi word. Wat ‘n pad saam met God stap, maar twee jaar lank vergeet die skinker wat hy met God se hulp gehelp het hom. In Egipte, ná die vet jare, kom die droogte. En tog, wanneer Josef sy verhaal aan sy broers vertel, vertel hy dit as ‘n verhaal van oorwinning en vergifnis. Al die ellendes wat hy in sy lewe ondervind het, sien hy as die verskillende paaie wat hy saam met God gestap het op pad iewers heen, op pad na sy lewensdoel om lewens te red. God het ‘n pad en ‘n plan met Josef. Deur God se pad te onderskei en daarby aan te sluit, herskryf Josef telkens sy lewe – op die manier waarna hy op sy lewe terugkyk en die sin daarin raaksien.

Dit is ‘n belangrike les om by Josef te leer … om terug te kyk op ons lewe en nie die slegte raak te sien nie. Om te besef dat die ellendes wat ons oorgekom het, deel was van ‘n pad waarop ons kon groei. Deur ellendes en swaarkry, is ons saam met God op pad. Eintlik sou ‘n mens dit só kon stel: Ons mag nie terugkyk op ons lewe en net die mislukkings en terugslae raaksien nie. As ons met God op pad is, is ons nie vasgevang in ons swaarkry nie. Ons is op pad. Nooit bly ons vasgevang nie. Want God is dáár, en God stap saam. Ons kan selfs die pyn wat ander mense ons aangedoen het oorkom en dit deel van ons en God se suksesverhaal maak. God beoordeel ons nie op die swakplekke van ons lewe nie. Daarom mag ons dit ook nie doen nie.

Share