Matteus 16:21-28 – Dertiende Sondag in Koninkrykstyd – 30 Augustus 2020

Lees die fokusteks in die Nuwe Testament vir kinders. Voltooi die sleutelwoorde om die groot geheim van die fokusteks te ontdek wanneer jy glo (vers 25). In ons teks kondig Jesus aan wat vir Hom voorlê in Jerusalem. Daar wag groot lyding, dood en opwekking op die derde dag. Jesus se onthulling dui op die vervulling van die eeue-oue profesie van ‘n Messias wat as ‘n dienskneg kom en wat sou ly (Jesaja 53); asook van die gryse Simeon dat die Christuskind wat hy in sy arms hou bestem is tot die val en opstanding van baie in Israel en ‘n teken wat weerstaan sou word (Lukas 2:34-35). In die lig van hierdie teks is geloof nie maar net om te erken dat God bestaan nie. Geloof is ‘n verbintenis aan Jesus die gekruisigde en opgestane Here.

Dit is om af te sien van enige poging om die kruis uit sy sentrale plek te skuif en met iets anders te vervang. Positief is geloof om die gedagtes van Jesus te dink, om aan God se kant van diens en selfprysgawe te wees, om aan Christus se dienswerk deel te neem met elke gedagte en elke daad. Om onder die kruis wat jy opgeneem het te leef, beteken om te groei in Christus se volledige JA aan God se wil en Christus se volledige NEE vir die sonde. Dit is om daagliks op Christus se manier te lewe, deur die lewe te vind deur dit te verloor.

Niks, nie eers ons pogings om die wêreld vir God te wen, kan Christus se volgelinge wegtrek van ons verbintenis aan Christus deur die kruis nie. Dit is deur die kruis op te neem, jou lewe te verloor, weg te gee in diens van God en ander, dat mens geskik raak om Christus te dien en in Christus se Naam te bedien. Dit is hoe aktiewe dissipelskap lyk.

Share