Jesaja 55:1-9 – Derde Sondag in Lydenstyd – 24 Maart 2019

Neem ‘n bord vol tuisgebakte koekies, maak dit met foelie toe, sodat die kinders nie kan sien wat in die bord is nie. Begin dan deur te sê dat daar baie lekker en mooi dinge in die lewe is wat baie duur is. Vra dan vir hulle of hulle iets lekker kan noem wat nie vreeslik duur is nie. Wys uit dat daar sommige items is wat dalk goedkoper is, maar wat selfs beter is as sommige duurder items. Neem die bord vol koekies as voorbeeld. Hulle smaak beslis beter as die duurder winkel koekies. God nooi ons, wat geen geld het nie, om te kom koop en te eet! Lees Jes. 55:1-2. Beklemtoon die feit dat God baie dinge vir ons gee wat geen geld kos nie. Dinge soos liefde, vergifnis, krag, hulp en leiding. Beklemtoon veral dat God wil hê dat ons op hierdie dinge moet fokus – die goedkoper, beter dinge in die lewe – in plaas van die duur items wat ons so begeer.

Daar is niks beter as die gratis gawes van God nie. As jy wil, kan jy dan vir elke kind ‘n tuisgebakte koekie gee. Dit verskaf ‘n uitstekende inleiding vir die preekriglyn, want selfs grootmense sal die boodskap daarvan ter harte kan neem. Die boodskap van Jesaja (en Jesus) wil ons energie gee om nuut te dink oor ons menswees, ons identiteit, ons roeping. As ons oë oopgaan vir die nuwe wêreld waarheen God met ons op pad is, word ons God se medewerkers wat nou al, in die winter van die ou wêreld, tekens van die Here se liefde, geregtigheid en trou oprig. Tekens wat verkondig: Die winter is byna verby, God se somer kom. Kom koop, sonder om te betaal, wyn en melk. Sien weer God se planne raak wat ver bo ons planne en gedagtes is. Gryp dit vas. Gehoorsaam. Jy sal vrede vind wat die wêreld nie vir jou kan gee nie en ook nie van jou kan wegneem nie.

Share

Filippense 3:17- 4:1 – Tweede Sondag in Lydenstyd – 17 Maart 2019

Die Filippenseteks sê vir ons dat dit belangrik is dat ons “vasstaan” in God. Ons is God se mense en ons vertroue is in God se mag. Gee vir elke kind ‘n klein papierhartjie om in hulle skoene te sit as herinnering om vas te staan vir Jesus. Moedig hulle aan om dit elke dag vir die res van die week in hulle skoene te sit. Die preekriglyn fokus op lyding as ‘n werklikheid. Soveel mense spandeer soveel energie om lyding uit die weg te ruim, en dit is goed so. Oor die afgelope 2,000 jaar het Jesus se volgelinge ook op baie terreine lyding probeer versag.

Tog is lyding ‘n werklikheid. Daarom sug en verlang ons so dat God die wêreld finaal kom nuut maak. In ons teks praat Paulus oor die lyding wat aktiewe teenstanders van die geloof veroorsaak. “Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe.” Paulus beklemtoon dat lyding en teenstand nie die laaste woord oor mens se lewe sê nie. Ons vreugde, blydskap en vervulling kom nie uit ons omstandighede nie. Die vloei uit ons geloof in Jesus Christus. Jesus en dit wat Jesus doen is die inhoud van ons geloof. Dit is die inhoud van ons geloof wat ons troos en ons bly maak. Daarom kan ons volhard. Daarom kan ons mekaar ook bly ondersteun. Ons is sáám op die reis van geloof na ons heerlike toekoms.

Share

Lukas 4:1-13 – Eerste Sondag in Lydenstyd – 10 Maart 2019

Help die kinders om hulself in Jesus se situasie in te dink. Wys prentjies van ’n woestyn. Wys dalk ’n klip en ’n varsgebakte broodjie wat baie lekker lyk en vra of hulle dink dat dit vir Jesus moeilik was om nee te sê vir die duiwel as hulle na die woestyn, die klip en die brood kyk. Vertel vir die kinders dat God altyd goed na ons sal kyk al voel dit asof ons in ’n slegte plek soos die woestyn is. Jesus wys vir ons dat ons altyd moet vertrou op God al lyk ander dinge lekkerder (soos die brood teenoor die klip). Daar is nóg voorbeelde wat jy kan gebeuik. In die preekriglyn fokus ons nie op gewone versoekings nie – morele goed, gierigheid, en mag – maar op die lewe met God – die versoeking van ongeloof en ongehoorsaamheid in plaas van vertroue en volharding op die pad wat die Here vir jou wys.

Ons praat oor die uitdagings waarvoor dié pad met God jou plaas. Dit sluit baie keer alleenheid in die woestyn in waar jy moet besluit of jy die pad met die Here gaan loop, al is daar geen ondersteuning nie, net jy en jou geloof in die Here. Die teks wil vir jou vaste kos gee vir die lewe wat jy met God moet loop, sodat dit nie later blyk dat jy vasgeval en in ongeloof en ongehoorsaamheid agter gelaat is nie. Dat jy dit wat vir jou die kosbaarste is, jou geloof in God, versaak en die pad byster geraak het nie.

Share

Psalm 99 – Sondag van die Verheerliking – 3 Maart 2019

Hierdie is ‘n goeie Sondag om veral met kleiner kinders te gesels oor gebed. Gebed is nie inkopielysies nie. Ons gesels met God. Gebruik die verskillende vingers van ‘n hand om vir mense die verskillende aspekte van gebed te verduidelik. Die vierde Psalmboek , Psalms 90-106, fokus op die feit dat die Here reg deur die eeue getrou gebly het aan die volk van Israel ten spyte van die ontrouheid van Dawid se koningshuis en die volk se voortdurende ongehoorsaamheid. Dit eindig met ‘n appèl aan die Here om die ballinge weer terug te bring na Jerusalem, soos dit in Ps. 106:47 uitgespel word. Die vierde Psalmboek in sy geheel, gegewe die koppeling met die tyd van die ballingskap, help ons ook om te verstaan dat selfs in ‘n tyd wat jy swaarkry, ‘n mens blydskap in die teenwoordigheid van die Here kan beleef deur lofprysing. Psalm 99 is een van die prima Aanbiddingspsalms. Twee keer loop die beskrywing van God se wese en werk uit op ‘n gelykluidende oproep om God te aanbid. Psalm 99 roep ons dus op om God te aanbid. Daar is twee redes daarvoor. Eerstens is God die Heilige Heerser wat oor alles troon. Tweedens is God die een wat gebede beantwoord. Dit pas ons aan-aan die eenkant om met ontsag Hom te aanbid. Terselfdertyd nooi Hy ons aan die ander kant uit om soos Moses, Aäron en Samuel met Hom in gesprek te tree oor alles in ons lewe. Hy sal antwoord. Daarop kan ons vertrou. Maar, dit sluit in dat Hy soewerein bly in die tipe antwoord wat Hy gee. En gehoorsaamheid is belangriker as gebedsverhoring.

Share

Sewende Sondag ná Epifanie – 24 Februarie 2019 – Lukas 6:27-38

Gebruik die weergawe van die teks in die Nuwe Testament vir Kinders. Daar is ook ‘n kinderboodskap ingesluit. Die preekriglyn skop af met Rolf Nestingen se verhaal oor sy ouers wat wou hê dat hy ‘n dokter moes word sodat hulle sommer vir niks siek kon word nie. Toe word hy maar ‘n predikant sodat hy vir niks goed kon wees nie. Immers, hoeveel maal word leraars nie gespot oor die feit dat hulle net een dag per week werk nie! Hulle is goed vir niks nie. Nestingen skryf dat dit nogal moeilik is om ‘n dag af te vat as jy net een dag per week werk! Daarmee word die tafel gedek vir ‘n gesprek oor goedwees; dat Jesus ons in hierdie gedeelte uitdaag om presies dit te doen: om lief te hê vir niks; om goed te doen vir niks; om geld uit te leen vir niks; om goed te wees vir niks! Vir niks! Jesus leer ons daarmee dat ons die krag van ons optrede nie moet onderskat nie. In Lukas se tyd was hierdie optrede radikaal anders en was dit ‘n “aggressiewe evangeliese strategie” om gemeenskap met mense te skep wat van die geloofsgemeenskap vervreemd was. Uiteraard sal almal nie positief op hierdie liefde wat niks verwag reageer nie, maar ons ywer om hulle aan die barmhartigheid van die Vader bloot te stel moet nooit verflou nie.

Share

Vyfde Sondag ná Epifanie – 10 Februarie 2019 – Lukas 5:1-11

Verlede jaar het die balpeutery van die Australiërs in die derde kriekettoets teen Suid-Afrika groot opslae gemaak. Dis nie dat hulle nie die reëls geken het nie. Hulle het geweet dis verkeerd. In krieketkringe is dit onaanvaarbaar. Gesels met die kinders vanuit daardie hoek oor die Christelike lewe. Ons teks begin as’t ware met die kameralens op ‘n wye hoek gestel. Jesus wat die skare leer. Na Jesus die skare geleer het, tree Hy nou in gesprek met Petrus. Petrus is skielik in die kollig. Ná die wonder val hy met ‘n sondebesef op sy knieë voor Jesus. Hy bely sy ontrouheid aan die wet van God. Hy kom tot inkeer. Soos Hy die sondaar Petrus, met al sy gebrokenheid, in diens neem, staan Hy voor ons as die Een wat alle gesag het en daag Hy ons uit om Hom op sy woord te neem en Hom te gehoorsaam en te volg. Immers, diens aan God is die somtotaal van vryheid.

Share

Vierde Sondag ná Epifanie – 3 Februarie 2019 – Psalm 71:1-6

Bou vooraf ‘n fort van komberse en laat die kinders saam met jou in die fort sit terwyl julle gesels. Of, as jy nie kans sien vir die fort nie, vra wie van hulle soms kombers forte in hul huise bou, hoe die forte lyk, hoe hulle dit bou. Verduidelik dat die skrywer van die Psalm bang was. Daarom bid hy dat God vir hom ‘n plek sal wees waar hy veilig voel, soos ‘n rots waaragter hy kan wegkruip. Gesels oor nog plekke waar ‘n mens veilig voel, bv in jou ma se arms. Wys almal op die manier waarop die skrywer van die Psalm skuif: eers vra hy God om vir hom ‘n veilige plek te wees, dan begin hy bely dat God vir hom ‘n veilige plek is. Ons kan ook op die manier vir God vra om vir ons ‘n veilige plek te wees – en vir God dankie sê en vertrou, omdat hy vir ons daardie veilige plek is. Dit is ‘n goeie inleiding tot die prediking.

Wanneer mens hierdie woorde hoor, kom die situasie van so baie mense wat skreeu en dors na reg, geregtigheid en bevryding by mens op. Ons land se misdaadlandskap van fisieke geweld, plaasmoorde, korrupsie, finansiële uitbuiting, huisinbraak, gesinsgeweld, transito rooftogte en voertuigkapings versterk ons gebede en geroep om reg en regverdiging. Hierdie gebed roep tot God dat God sal red en uitkoms sal bied. Dit soek troos in God se reg en geregtigheid. Hierdie Psalm roep egter nie net na God nie, maar vind ook rus in God. Die primêre oproep van Psalm 71 is om die gemeente tot bidders op te roep, wat soos die digter vooruitskouend beloof en roem dat hulle God sal loof en prys omdat hulle glo en oortuig is Hy sal redding bring. Met musiekinstrumente moet ons voortydig die wonders wat sal kom nou al besing! Nou reeds die nuwe dagbreek, die troos en vreugde, die nuwe toekoms hoopvol vier! Want dit gaan verseker kom. Ons moet net biddend wag. En dit sal kom as seën, as geskenk. Dit waarborg dié Here wat ‘n pad in die see gemaak het. Hy gáán iets nuuts vir jou skep. Hy gaan jou verras.

Share

Derde Sondag ná Epifanie – 27 Januarie 2019 – 1 Korintiërs 12:12-31a

Jy kan die fokusteks in Familietyd tussen 3 lesers verdeel en dramaties voorlees. Voorbeeld ingesluit. Daar is ook ‘n treffende illustrasie van Carolyn Brown ‘n kleinkind wat ‘n boek vir die oupa aandra en só sy voete word. Ons is tans in die kerklike jaar in die tyd van Epifanie. Die woord epifanie beteken letterlik “verskyning”. Vandag se teks praat oor ons gemeente, oor die geloofsgemeenskap wat die Here hier op aarde kom skep het. Hoe is ons deel van die verskyning van die Lig in die wêreld? Wat vra ons teks van Christusvolgelinge met betrekking tot ons funksionering as liggaam van Christus in die wêreld?

Hoe lyk dit wanneer God se gemeente prakties lewe in die lig wat van God uitstraal? Dit is ironies dat die verskillendes geestelike gawes van God ‘n bron kan word van konflik en wantroue tussen gelowiges. Dit is deels die bron van die konflik in Korinte. Dit is vandag steeds so. Daarenteen is die eenheid in Christus, waarvan ons teks getuig, ‘n eenheid wat alles te bowe gaan. Ons is almal saam in Christus. Dit beteken nie dat ons almal dieselfde is of hoef te wees nie. Dit beteken ook dat die verskeidenheid van gawes die eenheid nie bedreig nie, maar dien. Ons moet net insig daarin hê.

Share

Tweede Sondag ná Epifanie – 20 Januarie 2019 – 1 Korintiërs 12:1-11

Met Familietyd kan jy werk met die tema dat die kerk in diens van God staan. Gebruik ’n gereedskapkis om dit te illustreer. Beskrywing en inkleurprent ingesluit. Daar is ook ’n eenvoudige vertaling uit die Nuwe Testament vir Kinders. Die preekriglyn begin met die konteks van die stad Korinte en die vrae wat die gemeente as gevolg daarvan gehad het oor ‘n wye reeks etiese en praktiese situasies. Daarna word vers vir vers deur die boodskap van die gemeente as die liggaam van Christus gewerk en die implikasies ook vir gemeentes vandag getrek. Daar word ook uitvoerig aandag aan die gawes van die Gees gegee met ‘n bespreking van verskillende sieninge daaroor deur die eeue.

Share

Eerste Sondag ná Epifanie – 13 Januarie 2019 – Jesaja 43:1-7

Die teks leen hom daarvoor om oor God se beskerming te gesels, en dit ook aan die betekenis van die doop te koppel. “Ek het jou op jou naam geroep…” Jy kan die verhaal van Daniël gebruik wat in die leeukuil gegooi is en toe deur God op ‘n buitengewone wyse gespaar is (Daniël 6). Brei dalk uit oor die leeus se stink asems, die harde geroggel as hulle brul en hoe lank die naels aan hulle voorpote is. Fokus dan op die wonder van bewaring in uiterste nood en hoedat Daniël ervaar het dat God hom inderdaad op sy naam geroep het – hoedat die beloftes van Jes 43 vir hom waar geword het. Daar is meer inligting oor leeus in die preekriglyn.

Dit verskaf ‘n goeie inleiding vir die aangrypende teks van Jesaja 43. Ons teksgedeelte verduidelik hoe onbenullige mense aan die verkeerde kant van die geskiedenis en die heersende politieke magte, in ballingskap, die vrede van die Here kan deel. In hierdie verse sê die Here Hy is die een wat Israel nuut skep en vorm. Die woord wat hier met “vorm” vertaal word, is dieselfde woord wat in Genesis 2 gebruik word wanneer God die mens vorm om in God se tuin te leef en werk. Soos die Here Adam gevorm het, vorm Hy Israel. Moenie bang wees nie is die versekering wat die Here gee aan diegene wat geroep word. Vrees word uitgedryf, omdat God die redder, verlosser, bevryder van mense is. God ken hulle by die naam. Net soos Adam die diere in die tuin van name voorsien het, en so beheer oor hul uitgeoefen het, so dui die Here se benoeming van Israel aan dat Israel sy besitting is.

Share
1 2 3 23