Johannes 18:33-37 – Ses en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Sondag van Christus die Koning – 22 November 2015

Sluit by die kerkjaar aan met ‘n skildery van Jesus voor Pilatus en gesels met die kinders oor koningskap.  Jy kan klem lê op die verskil tussen ‘n goue speelgoed kroon en ‘n doringkroon.  Jesus het die doringkroon gekies.  Jy kan ook aansluit by die storie – met video – van die Sewe Blinde Muise deur  Ed Young wat ‘n vreemde nuwe ding by die muise se watergat moet verwerk. Die preekriglyn fokus op die koningskap van Jesus, en die betekenis daarvan vir ons lewe.  Die Joodse leiers se diepste vrees en afsku is Jesus se afwysende houding teenoor die tempel en die Jode se godsdienstige gebruike.

Daarmee is die godsdienstige leiers se houvas op die tempel in gevaar. Vir hulle is Jesus se optrede moeilikheid en gevaar.  Vandag sal ons sê Jesus se hutsmerke (hash tags) staan hulle nie aan nie: #TempleMustFall, #RomeMustFall, #OneTrueKing, #KingdomOfGod.  Uit sy gesprek met Pilatus blyk duidelik dat Jesus, die Koning, sy gesag nié van die aarde kry nie. Sy gesag is wel vir die aarde, want Hy leer sy dissipels om te bid dat God se koninkryk op die aarde sal kom.

webbanners_Nov2015-3

Share

Markus 13:1-8 – Vyf en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 15 November 2015

Omdat hierdie ‘n moeilike gedeelte vir kleiner kinders is om te verstaan, kan jy die teks in ‘n eenvoudiger vertaling lees. Daar is ook ‘n inkleurprent wat jy kan gebruik. Die preekriglyn werk met die verhaal van Dave Boon wat met sy motor deur ‘n sneeustorting meegesleur is, maar weens sy opleiding en ervaring as skiër die noue ontkoming kon oorleef.  In ons teks gaan Jesus van die tempel af weg. Dit is sterk taal, want veel meer sê as maar net dat Jesus fisies weggestap het.  Dit simboliseer Jesus se finale en beslissende breuk met die tempel. Praat van waarskuwings. Die tempel met al sy mag en weelde verloor sy rol as konneksiepunt tussen God en mens. Jesus self word nou die weg tot die Vader.  Jesus is dus hier gesagvol besig om God te verteenwoordig. Hy neem posisie in regoor, teenoor die tempel.

Jesus leer die dissipels om nie deur tekens mislei te word nie.  Die eintlike vraag is of die dissipels hulle steeds aan Jesus se leer en voorbeeld sal bly steur wanneer die tempel val en die voleinding van die wêreld nader kom.   Naas die gevaar van misleiding, is daar ook die tekenmag van angs en vervreemding wat vyandskap, oorloë, aardbewings en hongersnode sal bring.  Jesus herinner hulle eter daaraan dat die tekens van die tye daar is om hulle te anker in getrouheid, versigtigheid, waaksaamheid en gehoorsaamheid in die hede.  Dwarsdeur al die tye moet die herhalende tekens ons aandag op Jesus fokus.  Dit is egter nie sterwenspyne nie: dit is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

webbanners_Nov2015-1

Share

Markus 12:38-44 – Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 8 November 2015

Met enige Familietyd kan jy in gedagte hou dat jy nie altyd morele “lessies” uit die teks hoef te haal nie. Veral die narratiewe tekste kan gewoon dramaties gelees of oorvertel word.  Daar is drie opsies om dit interessant te doen, onder andere met ‘n video.  Jy kan ook vir ‘n paar kinders 10c-muntstukke gee. Gee vir sommige twee, vir ander meer.  Vra dan vir almal om twee 10c-stukke in die kollektebord te gooi.  Die met net twee, moet alles gee.  Die met tien, gee minder.  Dit is ‘n maklike manier om te verduidelik wat in vandag se verhaal gebeur.  Die preekriglyn werk met die verhaal van Fulvia, ‘n Romeinse vrou, wie se besluit om ‘n Joodse gelowige te word wat daartoe gelei het dat Tiberius alle Jode in 19 n.C. uit Rome verban. Hierdie magsvergryp van Tiberius was groot nuus in die Romeinse Ryk, en ook in die Israel van Jesus se tyd.

In ons teksgedeelte waarsku Jesus die mense teen ‘n soortgelyke misbruik van mag. Die skrifgeleerdes se vrae getuig boonop van die godsdienstige owerhede se onmag om God se werk in Jesus, en Jesus se gesag as gestuurde van die Vader te herken en te erken.  Daarteenoor – in skrille kontras – sien ‘n mens die “egte” gawe van die arm weduwee, teenoor die byna onuitstaanbare vertoon en skyn van vroomheid van die skrifgeleerdes en die welvarende mense rondom haar.  Dit is nie haar armoede wat Jesus verheerlik nie. Dit is ook nie rykdom wat Hy afskiet nie. Dit is egte geloof en toewyding aan God wat vir Hom die verskil maak.  Die waarde van die offer lê nie in die bedrag nie, maar in die koste vir die persoon wat dit gee.

webbanners_Sept2015-6

Share

Markus 12:28-34 – Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Seisoen van die Voleinding – 1 November 2015

Soos gewoonlik kan jy in Familietyd ‘n eenvoudiger teks gebruik, bv. uit Die Nuwe Testament vir Kinders, om oor die tema van die liefde wat die heel belangrikste is met die kinders te kan gesels. Daar is ook die oulike idee van Carolyn Brown om met karton te werk waarop aan elke kant die 2 kante van die wet neergeskryf word. Dit kan dan met tou aan ‘n prominente deurknop in die huis gehang word. Die preekriglyn werk met die verhaal van die Joodse psigiater Viktor Frankl wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Auschwitz geplaas is. Hy is van alles gestroop, ook die manuskrip van ‘n boek wat sy jarelange navorsing bevat het oor hoe om sin en betekenis in die lewe te vind. In ruil daarvoor het hy die vodde gekry van ‘n prisonier wat na die gaskamer gestuur is.  In die sak van hierdie “nuwe” jas het hy ‘n enkele bladsy gevind wat die Joodse gebed “Shema Jisrael” (Luister, Israel) bevat.  Dit het Frankl diep geraak. Die verslete bladsy het hom uitgedaag om sy navorsing oor die sin van die lewe prakties uit te leef. Frankl het die strafkamp oorleef en later ‘n baie invloedryke boek geskryf, Man’s Search for Meaning. Hy sê: “Hy wat ‘n doel het om voor te lewe, ‘n ‘waarom’, kan omtrent enige omstandighede oorkom.”  Die antwoord van Jesus oor die heel grootste gebod vervul dieselfde funksie in ons lewe, veral omdat dit aansluit by die Shema, maar dit dan ook op ‘n betekenisvolle wyse uitbrei deur Levitikus 19:18 by die eerste gebod om God lief te hê, te voeg: “’Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”  Geen ander gebod is groter as dié twee nie.

webbanners_Sept2015-2

Share

Job 42:1-6, 10-17 – Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd (Hervormingsondag) – 25 Oktober 2015

Om aan te sluit by die Hervorming is daar ‘n kort “toneelstuk” wat jy kan gebruik met Maartin Luther, die keiser en twee ontvoerders as akteurs. Die uitkoms van dié toneelstuk is Maartin se vertaling van die NT in Duits en die begin van die Hervorming. Die preekriglyn val weg met die intense worsteling van Job, en sy pogings om sin van sy lyding te maak wat in Job 42 tot ‘n einde kom. Job se woorde is min wanneer hy die Here in hfs. 42 antwoord. Dis vreemd vir iemand wat vroeër so baie gepraat het. Dit bewys egter alreeds dat die Here Job tot nuwe insig gebring het. Die Here het Job se regsaak gewen.  Daar kom egter ‘n nuwe, persoonlike band tussen Job en God tot stand. In hierdie persoonlike verhouding vind Job vrede, selfs al sit hy steeds op die ashoop van sy lyding. God is genoeg, selfs voor sy lot aan die einde van die verhaal verander.

webbanners_Sept2015-5

Share

Job 38:1-7, (34-41) – Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 18 Oktober 2015

Sluit met Familietyd aan by die tema in die Verootmoediging deel van die liturgie om by Job se worsteling aan te sluit. Deel Job se antwoord met die kinders aan die hand van Job 42 en eindig met sy besluit om sy lewe in God se hande te laat. Die preekriglyn begin met ‘n bespreking van die sterkte van die vier basiese natuurkragte wat die fyn balanse in die skepping illustreer: swaartekrag, “swak” en “sterk” kernkragte en elektromagnetiese kragte. Indien slegs een van hierdie kragte ‘n klein bietjie swakker of sterker was, sou die lewegewende wêreld, soos ons dit ken, onmoontlik wees. In ons teks gaan God juis met Job in gesprek oor die wonder van die werklikheid. Op ‘n vreemde manier help dit Job om vrede te vind.

webbanners_Sept2015-3

Share

Job 23:1-9, 16-17 – Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 11 Oktober 2015

Vir Familietyd kan jy Carolyn Brown se voorstel gebruik om die kinders in ‘n klaaggebed te begelei of die pragtige “The Lonely Book” deur Kate Bernheimer vir die kinders lees wat nes Job groot vreugde en erge lyding – geliefd tot vergete – beleef. Die storie maak dit vir kinders makliker om te gesels oor gevoelens van eensaamheid en moedeloosheid. Daar is ook ‘n video beskikbaar. Die preekriglyn begin met die verhaal van Guernica, ‘n Baskiese dorpie in die noordooste van Spanje wat in 1937 op versoek van die Spaanse diktator, generaal Franco, deur Duitse en Italiaanse bomwerpers aangeval en verwoes is. Aan die hand van die muurgrootte olieverfskildery (skakel in preekriglyn) deur die Spaanse kunstenaar, Pablo Picasso, waarmee hy protes aanteken teen daardie sinnelose geweld, onder andere deur verskeie kruisigingsmetafore in die skildery te gebruik, word die gemeente begelei om oor lyding te dink.

Daar is ook ‘n gedig van Neels Jackson daaroor wat jy kan gebruik. Beide as verwoeste dorpie en as Christelike olieverf-interpretasie van die ontsettende lyding is Guernica ‘n teken van die ontsettende swaarkry wat mense ervaar. Dit is ‘n kreet ten hemele om God se bystand en vertroostende teenwoordigheid. Dit gee ‘n uitstekende inleiding om stil te staan by Job se worsteling en krete om God te vind, en sin te beleef te midde van die verskriklike verlies. Die boek Job is soos ‘n Ou Testamentiese Guernica-skildery wat sin wil, maak van die geheimenis van God, en van die oënskynlike afwesigheid van God in die diepste menslike ellende. Die boek roep soos Psalm 22 en Christus aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Te midde van hierdie intense verlies toets en weeg dit die fondamente en sekerhede waarop mens jou lewe bou.

webbanners_Sept2015-4

Share

Job 1:1; 2:1-10 – Negentiende Sondag in Koninkrykstyd – 4 Oktober 2015

In die Jobreeks vir die volgende vier weke kry ons die geleentheid om ons weer in te leef in die ryk storiewêreld wat geskep word deur die meesterverteller van die Jobverhaal. Die kompleksiteit van Job se belewing van verlies en teëspoed, sy pynlike argumente met geliefdes, sy vrae aan God en sy emosionele inkeer is alles bekende elemente aan die menslike drama en daarom so toeganklik vir moderne lesers. Die vier Sondae dien as bakens op Job se reis en staan stil by Job se belewing van verlies, sy soeke na antwoorde en sin, God se antwoord en die openbaring van sy almag en Job se emosionele inkeer. Die laaste Sondag in die reeks val saam met Hervormingsondag en Job se emosionele inkeer kan goed aangewend word om die gesindheid van die proses van “hervorming” te illustreer.

Vir Familietyd kan jy fokus op die eerste Sondag op die doodgewone vertel van die verhaal van Job. Daar is ’n voorbeeld van só ’n vertelling ingesluit plus ’n inkleurprent. Dit preekriglyn sluit aan by twee verhale van verlies, dié van ’n regter, Joan Lefkow, wie se moeder en eggenoot in ‘n wraakaanval in Chicago doodgeskiet is, en dié van Chris Gouws, voormalige skoolhoof op Ugie wie se vrou, Helena, in 2012 in ‘n rooftog gedood is. ‘n Paar weke gelede is ook sy broer en moeder, Ruben en Hermien, in ‘n rooftog vermoor. Hoewel baie verliese nie so dramaties is nie, is alle verliese so werklik en ingrypend. Wat maak ons as Christene met hierdie soort situasies? Hoe bring ons ons geloof in God en intense lyding bymekaar uit? Ligte, maklike antwoorde werk nie. Die boek Job is ‘n uitnodiging – soos sal blyk ons die boek oor die volgende weke voor ons ontvou – om die diepte, misterie en lewende teenwoordigheid van God te ontdek. Juis deur sy verliese en pyn leer Job God op ‘n veel dieper manier ken. Wat hom dra, is die lewende verhouding met God waarop hy nie kan teruggaan, en dit verwerp nie. Mag die Here ons genade gee om regtig soos regter Joan Lefkow te bly sê: “As ‘n reisiger hier op aarde, voel ek nie ek kan aanspraak maak op baie nie. Ek glo regtig die Here gee en die Here neem. Dit is jou verantwoordelikheid om die teenspoed te aanvaar, net soveel soos jy graag die voorspoed aanvaar.” Agter hierdie berusting sit ‘n die geloof en innige blik op wie God is.

webbanners_Sept2015-1

Share

Jakobus 5:13-20 – Agtiende Sondag in Koninkrykstyd – 27 September 2015

Jy kan in Familietyd ‘n beker koffie gebruik as simbool van gebed. Mens kan dit mos nie dadelik drink nie, al ruik dit heerlik. Jy moet eers wag dat dit koud word. Of gebruik die simboliek van ‘n saadjie wat geplant is, maar nie dadelik opkom nie. Sluit aan by rustig en geduldig te wag by die Here. Jy kan ook Carolyn Brown se idee van ‘n gebed-blad vir elke kind gebruik. Die preekriglyn val weg met ‘n aanhaling van Helmut Thielicke, die Duitse teoloog, uit sy lesings oor die Ons Vader-gebed, dat ons almal skuld het voor God en nodig het om voor hom ons skuld te bely.

Dit is wat Jakobus ook doen. Hy spel gelowiges se verantwoordelik ten opsigte van skuld uit; teenoor mekaar, die gemeente en teenoor God. Hierdie skuld bring letterlik siekte oor individue en die gemeente. Daarom moet man en muis almal intree in gebed voor God. Die Heler van ons skuld en ons siekte.

webbanners-Jul2015R-2

Share

Jakobus 3:13-4:3, 7-8a – Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd – 20 September 2015

Lees Jakobus 4 uit Die Nuwe Testament vir Kinders of gebruik die storie van Jannie en Dirkie om die moeilike begrip van jaloesie te verduidelik. Jannie het vir sy agste verjaardag ‘n fiets gekry en dit is waar Dirkie toe baie jaloers word … Dit is waaroor vandag se Bybelteks gaan geïllustreer in die preekriglyn deur ‘n predikant wat eendag ‘n oorweldigende belewenis van God se heiligheid in die kerk ervaar en só ook sy medeleraar en ‘n paar ander personeellede. Elkeen sê: “O Here, ek is niks nie!” Totdat die skoonmaker dit ook doen, waarop die een dominee vir sy kollega sê: “Wel, kyk wie matig hom darem vreeslik aan. Hy dink hy is ook niks voor die Here nie!” In ons teksgedeelte beklemtoon Jakobus dat die toestand van ons binnekant, ons hart, bepalend is vir hoe ons lewe na buite lyk. Waar daar bittere naywer en selfsug in ons harte is, daar verhef die een hom bo die ander. Aan die ander kant: waar God se wysheid mense aanraak, is daar nederigheid, geen bybedoelings nie en opregtheid. Ons binnekant is belangriker as wat ons dink. Innerlike genesing, deur die wysheid wat God gee, is meer nodig as wat ons dikwels besef.

webbanners-Jul2015R-3

Share
1 15 16 17 18 19 21