Job 23:1-9, 16-17 – Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 11 Oktober 2015

Vir Familietyd kan jy Carolyn Brown se voorstel gebruik om die kinders in ‘n klaaggebed te begelei of die pragtige “The Lonely Book” deur Kate Bernheimer vir die kinders lees wat nes Job groot vreugde en erge lyding – geliefd tot vergete – beleef. Die storie maak dit vir kinders makliker om te gesels oor gevoelens van eensaamheid en moedeloosheid. Daar is ook ‘n video beskikbaar. Die preekriglyn begin met die verhaal van Guernica, ‘n Baskiese dorpie in die noordooste van Spanje wat in 1937 op versoek van die Spaanse diktator, generaal Franco, deur Duitse en Italiaanse bomwerpers aangeval en verwoes is. Aan die hand van die muurgrootte olieverfskildery (skakel in preekriglyn) deur die Spaanse kunstenaar, Pablo Picasso, waarmee hy protes aanteken teen daardie sinnelose geweld, onder andere deur verskeie kruisigingsmetafore in die skildery te gebruik, word die gemeente begelei om oor lyding te dink.

Daar is ook ‘n gedig van Neels Jackson daaroor wat jy kan gebruik. Beide as verwoeste dorpie en as Christelike olieverf-interpretasie van die ontsettende lyding is Guernica ‘n teken van die ontsettende swaarkry wat mense ervaar. Dit is ‘n kreet ten hemele om God se bystand en vertroostende teenwoordigheid. Dit gee ‘n uitstekende inleiding om stil te staan by Job se worsteling en krete om God te vind, en sin te beleef te midde van die verskriklike verlies. Die boek Job is soos ‘n Ou Testamentiese Guernica-skildery wat sin wil, maak van die geheimenis van God, en van die oënskynlike afwesigheid van God in die diepste menslike ellende. Die boek roep soos Psalm 22 en Christus aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Te midde van hierdie intense verlies toets en weeg dit die fondamente en sekerhede waarop mens jou lewe bou.

webbanners_Sept2015-4

Share

Job 1:1; 2:1-10 – Negentiende Sondag in Koninkrykstyd – 4 Oktober 2015

In die Jobreeks vir die volgende vier weke kry ons die geleentheid om ons weer in te leef in die ryk storiewêreld wat geskep word deur die meesterverteller van die Jobverhaal. Die kompleksiteit van Job se belewing van verlies en teëspoed, sy pynlike argumente met geliefdes, sy vrae aan God en sy emosionele inkeer is alles bekende elemente aan die menslike drama en daarom so toeganklik vir moderne lesers. Die vier Sondae dien as bakens op Job se reis en staan stil by Job se belewing van verlies, sy soeke na antwoorde en sin, God se antwoord en die openbaring van sy almag en Job se emosionele inkeer. Die laaste Sondag in die reeks val saam met Hervormingsondag en Job se emosionele inkeer kan goed aangewend word om die gesindheid van die proses van “hervorming” te illustreer.

Vir Familietyd kan jy fokus op die eerste Sondag op die doodgewone vertel van die verhaal van Job. Daar is ’n voorbeeld van só ’n vertelling ingesluit plus ’n inkleurprent. Dit preekriglyn sluit aan by twee verhale van verlies, dié van ’n regter, Joan Lefkow, wie se moeder en eggenoot in ‘n wraakaanval in Chicago doodgeskiet is, en dié van Chris Gouws, voormalige skoolhoof op Ugie wie se vrou, Helena, in 2012 in ‘n rooftog gedood is. ‘n Paar weke gelede is ook sy broer en moeder, Ruben en Hermien, in ‘n rooftog vermoor. Hoewel baie verliese nie so dramaties is nie, is alle verliese so werklik en ingrypend. Wat maak ons as Christene met hierdie soort situasies? Hoe bring ons ons geloof in God en intense lyding bymekaar uit? Ligte, maklike antwoorde werk nie. Die boek Job is ‘n uitnodiging – soos sal blyk ons die boek oor die volgende weke voor ons ontvou – om die diepte, misterie en lewende teenwoordigheid van God te ontdek. Juis deur sy verliese en pyn leer Job God op ‘n veel dieper manier ken. Wat hom dra, is die lewende verhouding met God waarop hy nie kan teruggaan, en dit verwerp nie. Mag die Here ons genade gee om regtig soos regter Joan Lefkow te bly sê: “As ‘n reisiger hier op aarde, voel ek nie ek kan aanspraak maak op baie nie. Ek glo regtig die Here gee en die Here neem. Dit is jou verantwoordelikheid om die teenspoed te aanvaar, net soveel soos jy graag die voorspoed aanvaar.” Agter hierdie berusting sit ‘n die geloof en innige blik op wie God is.

webbanners_Sept2015-1

Share

Jakobus 5:13-20 – Agtiende Sondag in Koninkrykstyd – 27 September 2015

Jy kan in Familietyd ‘n beker koffie gebruik as simbool van gebed. Mens kan dit mos nie dadelik drink nie, al ruik dit heerlik. Jy moet eers wag dat dit koud word. Of gebruik die simboliek van ‘n saadjie wat geplant is, maar nie dadelik opkom nie. Sluit aan by rustig en geduldig te wag by die Here. Jy kan ook Carolyn Brown se idee van ‘n gebed-blad vir elke kind gebruik. Die preekriglyn val weg met ‘n aanhaling van Helmut Thielicke, die Duitse teoloog, uit sy lesings oor die Ons Vader-gebed, dat ons almal skuld het voor God en nodig het om voor hom ons skuld te bely.

Dit is wat Jakobus ook doen. Hy spel gelowiges se verantwoordelik ten opsigte van skuld uit; teenoor mekaar, die gemeente en teenoor God. Hierdie skuld bring letterlik siekte oor individue en die gemeente. Daarom moet man en muis almal intree in gebed voor God. Die Heler van ons skuld en ons siekte.

webbanners-Jul2015R-2

Share

Jakobus 3:13-4:3, 7-8a – Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd – 20 September 2015

Lees Jakobus 4 uit Die Nuwe Testament vir Kinders of gebruik die storie van Jannie en Dirkie om die moeilike begrip van jaloesie te verduidelik. Jannie het vir sy agste verjaardag ‘n fiets gekry en dit is waar Dirkie toe baie jaloers word … Dit is waaroor vandag se Bybelteks gaan geïllustreer in die preekriglyn deur ‘n predikant wat eendag ‘n oorweldigende belewenis van God se heiligheid in die kerk ervaar en só ook sy medeleraar en ‘n paar ander personeellede. Elkeen sê: “O Here, ek is niks nie!” Totdat die skoonmaker dit ook doen, waarop die een dominee vir sy kollega sê: “Wel, kyk wie matig hom darem vreeslik aan. Hy dink hy is ook niks voor die Here nie!” In ons teksgedeelte beklemtoon Jakobus dat die toestand van ons binnekant, ons hart, bepalend is vir hoe ons lewe na buite lyk. Waar daar bittere naywer en selfsug in ons harte is, daar verhef die een hom bo die ander. Aan die ander kant: waar God se wysheid mense aanraak, is daar nederigheid, geen bybedoelings nie en opregtheid. Ons binnekant is belangriker as wat ons dink. Innerlike genesing, deur die wysheid wat God gee, is meer nodig as wat ons dikwels besef.

webbanners-Jul2015R-3

Share

Jakobus 3:1-12 – Sestiende Sondag in Koninkrykstyd – 13 September 2015

Jakobus praat oor klein goed wat ‘n groot impak kan hê (stang, roer, tong) – ‘n boodskap wat natuurlik vir kinders heerlik is om te hoor! Julle kan lekker saam gesels oor hoe die kinders ‘n positiewe impak kan maak, veral deur hul woorde. Jy kan ook die pragtige storie van “Willow” lees waarvan ons ‘n kort opsomming plaas. Die preekriglyn begin met die verhaal van ie verwoestende veldbrande in die Kaapse Skiereiland gedurende die eerste week van Maart 2015.  Dit het Jakobus se beeld van ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot bos aan die brand kan steek geïllustreer. Woorde het ‘n soortgelyke krag. Omdat dit so ‘n algemeen menslike verskynsel is, kan ons maklik nou maar dink “so what”, almal maak foute, dit is nie so belangrik nie, dit is iets kleins en onbeduidends, almal struikel hieroor, dit is nie so erg nie.

Hier kom Jakobus se wekroep: Dit is nie so onbelangrik soos wat jy dink nie! Dit wat jy sê het ‘n magtige uitwerking! Dit het ‘n groot effek, ‘n groot invloed, groot gevolge.  Die preekriglyn sluit af met die verhaal van die dogtertjie wat alleen in haar kamer in die donker lê, en vra dat haar oppasser met haar gesels. Sê die kind, “As jy met my praat, word dit lig.” Jakobus sê ons moet kies. Ons kan nie albei doen en lig en donker bring nie. So, maak jou keuse vandag en hou daarby. En onthou, Iemand sal jou help.

WBanners-jun15-1

Share

Jakobus 2:1-10, (11-13), 14-17 – Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd – 6 September 2015

Daar is ’n Peanuts – strokie wat presies by vanoggend se teks aansluit. Dit sal jou ook help om die kinders van die barmhartigheidsbedieninge waarby jul gemeente betrokke is, te vertel, en die kinders daarby te betrek. Daar is ook ‘n innemende verhaal van Nasrettin Hoco, ‘n wyse man uit die verhaal The Hungry Coat: A Tale from Turkey. Die preekriglyn begin met die verhaal van David Sharp wie se suurstof opgeraak het ná hy Everest se hoogste piek bereik het en op pad terug was. Niemand wat by hom verby geklim het, wou hom help nie. David het verkluim terwy 40 mense by hom verbygeklim het.

Die verhaal laat mens besef dat wat jy sien, wanneer jy kyk, lewensgevaarlik kan wees. As jy na ‘n sterwende op Everest kyk en ‘n hindernis vir jou eie doelwitte sien, veroorsaak dit die dood. Ons teks is dus só aktueel. Ons moet versigtig wees om mense op die uiterlike te beoordeel. Die gevaar van uiterlike beoordeling is enersyds dat ons verkeerd kan oordeel. Die verdere gevaar is dat ons beoordeel sonder empatie en meelewing. Eerder as om met vrygewigheid te help, bly ons harte toegesluit.

WBanners_Feb15-1

Share

Jakobus 1:17-27 – Veertiende Sondag in Koninkrykstyd (Barmhartigheidsondag) – 30 Augustus 2015

Die groot uitdaging gaan hierdie week wees om nie moraliserend met die kinders te praat nie. Jy kan (versigtig) aansluit by die idee van hoor én doen. Voorbeelde soos: jy weet jy mag nie oor die straat hardloop nie – en dan gaan speel jy bal in die straat. Wanneer ons Jesus se kinders is, hoor ons na wat God sê – én ons doen wat hy sê. Daar is ook ‘n voorstel rondom die gebruik van ‘n resepteboek. As julle aktiwiteite doen, kan julle “oor-alicebands” maak van papierbord. Die preekriglyn begin met die verhaal van Tony Campolo, bekende Amerikaanse spreker, wat op ‘n dag tydens ‘n erediens vir ‘n man met ernstige kanker gebid. ‘n Paar dae later kry hy ‘n oproep van die man se vrou. Sy sê: “Jy het vir my man gebid. Hy het kanker gehad.” Waarop Tony sê: “Hét gehad?”

By homself het hy gedink: “Sjoe, dit het gebeur! Die man is genees!” Die vrou sê: “Ja, hy het kanker gehad. Hy is oorlede.” Campolo het verskriklik sleg gevoel. “Moenie sleg voel nie,” het die vrou gesê. “Toe my man verlede Sondag kerk toe is, was hy vol woede. Hy het besef hy gaan oor ‘n kort rukkie sterf, en hy het God daarvoor gehaat. Nadat jy vir hom gebid het, het daar vrede oor hom gekom en hy is met diepe vreugde vervul. Die laaste drie dae was die beste dae van ons lewe. Ons het gesing. Ons het gelag. Ons het saam Bybel gelees. Ons het gebid. Dit was regtig wonderlike dae. Daarom bel ek nou, om dankie te sê dat jy jou hande op my man gelê en vir hom gebid het. Sy siekte is nie weggeneem nie, maar hy is innerlik genees.” Ons teks is ook vol van die krag van God. Jakobus praat oor die woord van God en die woorde van mense as instrumente van lewe. God gee sy woord van waarheid wat lewe skep, mense red, mense laat groei, mense op die regte pad lei. Jakobus daag ons uit om God se woord in ons te laat groei, sodat ons eie woorde ook lewe kan bring en ons op die regte lewenspad plaas.

WBanners-mrt15-4

Share

Johannes 6:56-69 – Dertiende Sondag in Koninkrykstyd – 23 Augustus 2015

As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy die “brood van die lewe” beeld uitpak. Johannes sê om Jesus se ken is die brood wat die lewe die moeite werd maak. Jy kan ook “flashcards” gebruik om te illustreer hoe ‘n mens leer lees. Gesels oor hoe ons soms sukkel om aan te hou om Jesus te volg, maar dan raak dit moeilik.   Verwys dan na die dissipels wat gesê het Jesus se woorde is vir hulle lewe. Sluit weer aan by die “flashcards” en moedig almal aan om te volhard. Die preekriglyn begin by die redes waarom baie mense Jesus verlaat het en selfs teen Hom gedraai het. Die keerpunt was die aansprake wat Jesus oor Homself gemaak het. Hy is die Seun van God wie se vlees geëet en bloed gedrink moes word om die ewige lewe te verkry. Dit was te erg vir die meeste van die volgelinge. Dit was “harde woorde” wat onaanvaarbaar en onuitvoerbaar was.

Die eintlike grond vir hulle weggaan, was nie Jesus se eise nie, maar die ongeloof in hulle harte dat Jesus werklik die Here is. Jesus se woorde kom van die Gees en gee lewe. Tog het dit nie dieselfde uitwerking op alle mense nie. Die mens kan niks bydra tot die ewige lewe nie. Tog moet ons na Jesus “kom”; Jesus in geloof aanneem. Ons word genooi om te kies vir die “eet” en die “drink” van Jesus se gawe aan ons. Petrus se antwoord kan ons ook toeëien: Ons het niemand anders om heen te gaan nie. As soekers na lewe, weet ons daar is net Jesus, die Heilige wat van die Vader kom en deur sy Woord en Gees die hoop is op wie ons kan bou. Jesus het die woorde wat die ewige lewe gee. Die volheid en oorvloed van lewe is alleen by Hom te vind. Ons antwoord op Jesus se woord bepaal die sin van ons lewe: nou en ook na die dood. Jesus het immers die woorde wat lewe gee. Jesus is die Brood van die lewe.

WBanners-jun15-6

Share

Johannes 6:51-58 – Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd – 16 Augustus 2015

As jy dit betyds in die hande kan kry, kan jy die storie Sun Bread deur Elisa Kleven lees. Tydens die kouer, triestige, donker dae van winter bak ‘n bakster ‘n brood wat mense herinner aan die son. Terwyl hulle die brood eet, word hulle gevul met die son se lig en warmte. Net so word ons deur Jesus, die Brood van die Lewe, gevul deur lig en lewe. Kinders kan dalk nog nie die presiese lyn trek nie, maar hulle kan moontlik aan Nagmaalsbrood as sonbrood begin dink – brood wat God se lig deel. Jy kan ook aansluit by die gesegde (in die preek) “jy is wat jy eet”. Of wys ’n prent van die outydse kos-piramide en verduidelik die beginsel daaragter.

Op dieselfde manier is Jesus die fondament van ons lewe. Dit gee ‘n goeie oorgang na die preekriglyn. Jesus neem ‘n seuntjie se vyf garsbrode en twee vissies en voed daarmee ‘n hele skare. Na aanleiding van die broodwonder soek mense die volgende dag na Jesus. Jesus sê egter hulle soek Hom nie omdat hulle wondertekens gesien het nie, maar omdat hulle nog brood wil hê om te eet. Jesus fokus dus hulle aandag op die voedsel wat die ewige lewe gee: daarna moet hulle soek. Wat God van hulle verlang, is om te glo in Hom wat God gestuur het.

webbanners-Jul2015RR-4

Share

2 Samuel 18:5-9, 15, 31-33 – Elfde Sondag in Koninkrykstyd – 9 Augustus 2015

Carolyn Brown meen dat tov 2 Samuel 18 volwassenes oor die algemeen oorweldig word deur Dawid se hartseer en rou oor die dood van sy opstandige seun Absalom. Nie so met kinders nie- hulle is eerder gefassineer met Absalom se hare wat in die boom vassit! Gebruik gerus die ingeslote blokraaisel ahv Die Boodskap se weergawe van die fokusteks. Die preekriglyn begin met ‘n inset oor die hoofberigte op koerante se voorblaaie wat ons elke dag lees. Nieteenstaande die belang van elke berig is die insidente natuurlik ‘n paar dae later vergete. Nie omdat dit nie sensasioneel is nie. Daar is net soveel nuwe voorvalle elke dag! Ons teks is egter nie ‘n maklike teks om oor na te dink nie. Dit begin sleg en dit eindig nog slegter. Dis asof die leser daarvan in ‘n wrede verhaal inklim om nie weer uit die afskuwelikhede te kan uitkom nie. Dis die verhaal van ‘n seun wat teen sy pa in opstand kom. Hy inisieer ‘n oorlog wat skeefloop en hom sy eie lewe kos.

Dit laat die pa gebroke. Hy wens sy lewe eerder as dié van sy seun kon in die slag gebly het. Die hartseer is dat alles wat hier gebeur, en wat dit voorafgegaan het, deel is van die samelewing waarbinne ons vandag leef. Ironies genoeg is ons Leesroosterteks vir vandag – op Nasionale Vrouedag – ‘n teks waarin soveel geweld die botoon voor. En soos ons sal sien, herinner ons teks aan die verskriklike werklikheid waarmee soveel vroue in ons land elke dag moet saamleef. Die manier waarop Absalom sterf is vanuit ‘n Nuwe-Testamentiese perspektief ook opvallend. later sou daar weer ‘n man wees wat hang aan ‘n boom, tussen hemel en aarde. Nie omdat sy muil onder Hom uitgery het nie, maar omdat mense Hom daaraan gekruisig het. En Hy sterf ter wille van die liefdeloosheid van die hele mensdom, ter wille van die wrede vergrype van mense teenoor mekaar. Die kerk het die gesag van God ontvang om versoening te bedien. Ons is geroep om God se liefde en geregtigheid na te jaag. Binne elke gemeente moet ‘n gesprek op leiersvlak ontstaan oor wat ons hieraan gaan doen. Die siklus van geweld moet gebreek word. Mense moet die geleentheid kry om hul potensiaal te verwesenlik. As dit nie veilig is vir die swakste onder ons nie, is dit vir niemand veilig nie. Jesus het ons sy Woord en Gees gegee om van die wêreld ‘n veiliger, meer betroubare plek te maak.

webbanners-Jul2015R-5

Share
1 16 17 18 19 20 22