1 Samuel 8:4-11, (12-15), 16-20, (11:14-15) – Derde Sondag in Koninkrykstyd – 10 Junie 2018

Jy kan die gedeelte met drie voorlesers in Familietyd voorlees (Samuel, verteller en die Here). Met ouer kinders kan jy ’n gesprek voer oor leierskap aan die hand van die profeet vs koning debat. Die preekriglyn werk met die hele hoofstuk sowel as ‘n gedeelte uit hoofstuk 11 waar vertel word hoe Saul toe as die eerste koning van Israel aangestel is. Die seun Samuel waarvan ons verlede week kennis geneem het, het met verloop van tyd ook self oud geword en ‘n opvolgplan in werking gestel. Sy plan en dié van die volk het egter gebots. Hy het tot God gebid, maar die nuus gekry dat God besluit het dat aan die volk se versoek toegee moes word.

God het die versoek as verwerping van God self beskou. Die uiteinde van hierdie proses was dat Saul as eerste koning van Israel in Gilgal bevestig is. Dit is ‘n belangrike Skrifgedeelte om oor God as koning, oor die regering van God na te dink, en ook oor die manier hoe ons as God se volk lewe en die tipe leierskap waarmee ons werk. Nog dieper gaan dit oor God se besluit om se bereidheid om die pad met sy volk te stap selfs al staan hulle Hom teë. Uiteindelik oorweldig God se karakter selfs mense wat oënskynlik kies om eerder ander leiers te vertrou.

Share

1 Samuel 3:1-10, (11-20) – Tweede Sondag in Koninkrykstyd – 3 Junie 2018

Dit is belangrik dat kinders die Bybel leer ken. Met narratiewe tekste soos hierdie, is dit goed om eerder net die teks op dramatiese manier te lees as om ‘n boodskappie te hê. Jy kan dit uit ‘n mooi kinderbybel lees. Of kry ‘n jong kind en oumens om die gedeelte op te voer terwyl iemand (dalk ‘n kind?) dit lees. Daar is ook ‘n skakel na ‘n oulike video van die teksgedeelte. “Die Woord van die Here is in daardie tyd min gehoor.”

Só begin ons teksgedeelte die verhaal vertel van hoe God ‘n betroubare profeet en priester in Israel gevind en aangestel het. Dit was onstabiele tye. Die volk Israel het die beloofde land betree, maar daar was nie ‘n vaste, sentrale gesag in die land nie. Dit was die tyd van die rigters. Die volk het die Here gedien, maar dan telkens afgedwaal en in ellende beland. Dan moes die Here ‘n rigter aanwys om hulle weer op koers te kry. Vir ‘n tyd het dinge dan weer glad verloop, tot die verval weer begin het. Met Samuel sou dit verander. Hy is profeet en priester van die Here in die oorgang van die Rigtertyd na die aanwys van Israel se eerste koning.

Share

Romeine 8:12-17 – Eerste Sondag in Koninkrykstyd; Drie-eenheidsondag – 27 Mei 2018

Daar is vyf uitstekende opsies vir Kindertyd: kerse en musiek met die oog op die Drie-Eenheid, erfstukke met die oog op ons hemelse erfenis, radio met die oog op ingestem wees op God, en ‘n ekstra PowerPoint oor aanneming. Die preekriglyn begin met ‘n meesleurende verhaal van aanneming deur pastoor Ronnie Stewart en sy vrou Krystal die stigters van Refugee Church. “Ons kan maar net lag oor God se sin vir humor,” vertel Krystal. “Net die dag voor ons die seuntjies die eerste keer huis toe geneem het, het ek en Ronnie ‘n diep gesprek gehad oor my volledige histerektomie na ‘n vroeë kankerdiagnose. Ons was hartseer en moes vrede maak dat ons nie meer kinders sou kon hê nie.” Toe gee God vir ons kinders. En vir die pragtige twee kinders liefdevolle ouers wat hulle aanneem en versorg. God doen aannemings. Trouens, volgens ons teks, is die aanneming tot kinders deur die werk van die Heilige Gees die hart van die evangelie van Jesus Christus.

Share

Johannes 15:26-27; 16:4b-15 – Pinksterfees – 20 Mei 2018

Hierdie is ’n spesiale feesdiens. Kinders kan lekker deelneem as jy vooraf vlam-kleurige “streamers” maak van sagte lap wat aan ’n stokkie vasgemaak word. Laat die kinders (en ’n paar volwassenes) dit tydens die lofsang swaai. The Day When God Made Church deur Rebekah McLeod Huttois is ook ’n pragtige storieboek wat Pinkster verduidelik. Jy kan die hele boek lees by die skakel wat ons verskaf. Daar is ook ‘n mooi inkleurprent en ‘n voorbeeld van ‘n kort toneelstuk. Die preekriglyn sluit by die gedagte van Pinksterdag as die geboortedag van die kerk aan. Op ‘n dag soos vandag dink mens aan ‘n verskeidenheid tekste uit die Ou Testament wat hierdie wonder verwoord. Daar is die oesfees in die Pentateug. Daar is Esegiël se visioen van die beendere wat weer lewe kry.

Daar is ook die Nuwe Testament se verdere besinning hieroor. Paulus raak liries in Romeine 8 oor die Gees wat ons bystaan. Dit gee vir ons ‘n konteks waarbinne ons die wonderlike boodskap van Johannes 15 kan hoor dat ons Trooster ons in die waarheid lei. Stephan Joubert skryf as volg: Saam met die Vader vorm die Seun en die Parakleet die hemelse eenheid wie se missie dit is om mense hier op aarde te verlos en deel te laat hê aan hierdie ewige Goddelike familieverwantskap. Die Johannes-evangelie noem drie aspekte van hierdie bemiddelende teenwoordigheid. Van die kerk word nou waar wat in die eerste plek van Jesus waar was. Jesus het uit die krag van die Heilige Gees geleef. Vanaf Pinksterfees word hierdie werklikheid ook vir die kerk – vir ons – beskikbaar.

Share

Handelinge 1:15-17, 21-26 – Sewende Sondag van Paastyd – 13 Mei 2018

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders. Aangeheg is ’n ook woordsoek-speletjie. Ons teks speel af op die vooraand van die uitstorting van die Heilige Gees. Die dissipels wag in Jerusalem op die belofte van die Vader, die Heilige Gees. Deur die Heilige Gees sal hulle krag ontvang en sal hulle Jesus se getuies in Jerusalem en verder wees. Ons teks handel ook oor die verkiesing van Mattias om die plek van die verraaier Judas in die dissipelkring in te neem. Sommige van die temas en beredenering in die teks is vreemd vir moderne lesers. Deel daarvan is die beskrywing van Judas se grusame dood. Baie predikers wil eintlik hierdie vermelding liewers weglaat en dit nie in die erediens voorlees nie.

Mens voel amper dit het ‘n ouderdomsbeperking nodig. Moderne lesers kan wonder of van die beginsels en logika van die teks vandag nog op ons van toepassing is. Lukas doen hier moeite om vir ons te wys dat dié teks steeds van toepassing was en vandag nog is. Die Skrif vir hierdie eerste gelowiges was die Ou Testament. Dit moes verstaan word as betroubare getuie van God se werk in Jesus, en deur sy dissipels. Die verwysings vervul dus die rol om die ou verbond en die nuwe verbond aan mekaar te skakel. Daarin speel die Heilige Gees ‘n sentrale rol soos Hy die dissipels aan die hand van die Skrif hierdie spesifieke keuses laat maak. Daarom kan ons dieselfde doen met die Skrif vandag, ook soos dit aangevul is deur die Nuwe Testament.

 

Share

Handelinge 1:1-11 – Hemelvaart – 10 Mei 2018

Lees die verhaal uit ‘n kinder-vriendelike Bybel, dalk met behulp van dié video waarvan ‘n skakel ingesluit is. Klik hier vir dié video. Daar is nog ander kreatiewe hulpmiddels ingesluit waarmee jy die verhaal kan vertel. Die preekriglyn sluit by Lukas se evangelie aan en wys hoe alles wat Jesus gedoen en geleer het nou verder voortgesit sal word in die wyse waarop die Heilige Gees die apostels gaan lei en aan die kerk as geloofsgemeenskap gaan vorm gee. Vandag, wanneer ons Hemelvaartfees vier, word ons ook uitgedaag om na te dink oor ons reaksie op hierdie gebeure.

Die versoeking is altyd daar om te reageer soos die dissipels aanvanklik reageer het: passief, deur op een plek te bly staan en nie te doen waarvoor hulle geroep is nie. Dalk is die grootste gevaar nie eers dat ons passief is nie, maar met die verkeerde goed besig is. Is ons dalk besig om die een of ander koninkryk op te rig wat nie in pas is met wat God vir ons wil nie, soos die dissipels gehoop het dat God Israel se koninkryk in daardie tyd sal herstel, maar Jesus hulle daarop gewys het dat dit nie vir hulle is om iets daarvan te weet nie? Ons is nie geroep om stil te staan, te spekuleer of om ander koninkryke te bou nie, maar juis om terug te keer na ons konteks (ons “Jerusalem”?), om daar en verder weg te getuig. Die troos is dat ons dit nie alleen doen nie. Dit is immers die verhaal van Handelinge dat Jesus nou deur sy Gees, in die kerk, steeds “doen en leer”.

Share

Johannes 15:9-17 – Sesde Sondag van Paastyd – 6 Mei 2018

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders en vertel dan die ingeslote pragtige storie van “Four Feet, Two Sandals” deur Karen Lynn Wiliams and Khadra Mohammed om die opdrag “wees lief vir mekaar” te illustreer. Die preekriglyn begin met die verhaal van Cameron Hollopeter, 19, wat ‘n epileptiese aanval gekry terwyl hy vir ‘n ondergrondse trein op ‘n New Yorkse stasie gewag het. Aangesien sy liggaam buite beheer saamgetrek het, het hy van die platform op een van die treinspore geval, reg voor ‘n aankomende trein. Wesley Autrey, 50, ‘n konstruksie werker, het met sy twee dogters ook op die platform vir ‘n trein gewag. Hy het gesien hoe Hollopeter val. Hy het op die spoor gespring en Hollopeter vasgegryp. Saam het die twee in die afvoersloot tussen die twee spore gerol.

Millisekondes later het die trein bo-oor hulle gery. Wonderbaarlik is nie een van die twee mans beseer nie. Autrey is ryklik vir sy heldedaad beloon, maar hy het die hele tyd baie nederig oor die heldedaad gebly. “Dis eintlik niks,” het hy gesê. “Ek het dit maar net gedoen omdat iemand dringend hulp nodig gehad het. Iemand moes tog help.” Met sy onselfsugtige optrede roep hy Jesus se woorde in herinnering: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê”(13). Wat nog te sê om sy lewe op die spel te plaas vir iemand wat hy nie eers geken het nie. Ons weet ongelukkig nie of Wesley Autrey ‘n Christen is nie. Dit is egter nooit “sommer niks” om jou lewe in liefdesdiens vir ander op die spel te plaas nie. As volgehoue lewenswyse is liefdesdiens iets wat uit die intieme gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees in ons lewens gebore word.

Share

Johannes 15:1-8 – Vyfde Sondag van Paastyd – 29 April 2018

Vertel die wonderlike storie van Basil die Wingerdloot. Wanneer Basil besef dat hy nie druiwe dra nie, probeer hy baie hard, steunend en kreunend – maar niks gebeur nie. Totdat die wingerdstok vir hom sê dat hy wat Basil is, net aan die wingerdstok verbind moet bly. Van toe af het Basil net op die wingerdstok gefokus – en heerlike druiwe gedra. Die hele verhaal met illustrasies sowel as ‘n skakel na ‘n video daarvan is ingesluit. Die preekriglyn sluit by een van die belangrikste vaardighede wat enige tuinier moet baasraak, snoeiwerk. Die redes daarvoor dek die tafel om hierdie beeld te gebruik om God se betrokkenheid by ons lewens toe te lig. In ons teks sê Jesus dat Hy die ware wingerdstok is op wie ons ingeplant word om so lewe te ontvang, terwyl sy Vader die landbouer is wat ons snoei sodat ons meer vrug kan dra.

Share

Psalm 23 – 22 April 2018 – Vierde Sondag van Paastyd – Goeie Herdersondag – Arbeidsondag

Lees die gedeelte uit Johannes 10 soos in Die Nuwe Testament vir Kinders. Daar is ook ‘n aantal skakels na video’s, inkleurprente, en idees vir klein kindertjies. Die preekriglyn lei in met die verhaal van die bekende sanger Don Moen se loflied “God will make a way”. Daarin bevestig hy God se versorgende teenwoordigheid in ons lewens. Die woorde het Don se bekende lied geword. Hy sou egter ook Psalm 23 kon resiteer, die pêrel van die Psalms. Twee metafore oorheers die psalm. Die Here word eers geteken as herder en later as gasheer. Psalm 23 is ‘n psalm vir die lewe . . . in ‘n wêreld wat dikwels onvriendelik en vyandig is … en wat vereis dat ons met geloofsvertroue moet leef.

Share

Handelinge 3:12-19 – 15 April 2018 – Derde Sondag van Paastyd

Jy kan die Skriflesing integreer met die familie-oomblik. Daar is ‘n paar skakels na ander hulpmiddels wat jy kan gebruik, video’s, aktiwiteite en inkleurprente. Die preekriglyn verwys terug na die radikale nuwe lewe en lewenswyse binne die gemeente van die Here waarvan Handelinge 2 vertel. Handelinge 3 vertel nou verder van die gemeente se aksie na buite. Versorging en opbou van die gelowiges na binne in is hoofstuk 2 aan die orde, die gemeente se missie na buite – “by die tempelpoort” – kry in hoofstuk 3 aandag. Ons teks is dus deel van ‘n groter vertelling waarin die bedieningspatroon van die gemeente in Jerusalem oorvertel word. Die voortgang van die opgestane Jesus se bediening na die uitstorting van die Heilige Gees word vir ons duidelik. Een sentrale tema is: Beide opbou en uitreik geskied deur die krag van die Heilige Gees. Die gemeente wat in Christus nuut gemaak is, het ‘n impak op die gemeenskap.

Share
1 2 3 4 20