Filippense 3:4b-14 – Agtiende Sondag in Koninkrykstyd – 8 Oktober 2017

In vers 7 en 8 vertel Paulus dat hy goed nou in ’n nuwe lig evalueer/ ander waarde aan goed begin heg. Ek dink elke kind weet wat dit beteken. By ’n kersboom gebeur dit baie – een geskenk wat jy dalk aan die begin kry en jou baie bly gemaak het, wat oorskadu word deur ’n latere geskenk wat baie groter is en presies is waaroor jy al so lank droom. Dan is die eerste geskenk eintlik vir jou waardeloos of dan ten minste van baie minder waarde. Om vir kinders ’n ervaring daarvan te gee, doen die ingeslote aktiwiteit. Die preekriglyn begin met die vraag na wat jy soek in die lewe? Wat is vir jou belangrik, bo alle ander dinge? Jy kan aansluit by die Duitse kortverhaal met die titel: “Der reichste Mann des Dorfes”, in Afrikaans vertaal: “die rykste man in die dorp”. Dit gaan oor ‘n besondere ryk en selfgenoegsame man, verreweg die rykste man in die dorp wat tot diep insig hieroor kom. In ‘n sin is dit ook wat Paulus vanuit die gevangenis vir die gemeente in Filippi probeer sê: “Al wat ek wens, is om Christus te ken …”

Share

Filippense 2:1-13 – Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd – 1 Oktober 2017

Wat van ‘n Kersverhaal? Die skattige “Unexpected Christmas” herinner ons op ‘n humoristiese manier hoe onverwags Christus se selfontlediging is. Dit sluit wonderlik aan by die konsepte van vandag se Skrifgedeelte. Nog ‘n manier om selfontlediging te verduidelik, is die storie van “Charlotte’s Web”. Skakels na die boek en ‘n gedeelte van die fliek ingesluit. Paulus se brief aan die Filippense is ‘n liefdesbrief. Dit is gerig aan die een gemeente onder almal met wie hy verreweg die beste band gehad het. Hy noem die gelowiges in Filippi adelphoi, die voorkeur manier waarop die broers en susters in die familie van God aangespreek is. Dit is ‘n woord wat beide geslagte ingesluit het. Die gemeente is deur God aan Christus vasgebind, ‘n band deur die Heilige Gees gesmee.

In Christus is die gemeente ook aan mekaar vasgebind. Eenheid en navolging is ten nouste aan mekaar gebind. Ons is een in Christus, en ons volg Christus as liefdesgemeenskap na. Paulus roep die gemeente op om “eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, en een in strewe”. Dit alles word gemotiveer in alles wat God vir ons gedoen het. Die evangelie bestaan uit die selfprysgawe van God in Christus, ter wille van ons. Hierdie daad van God vorm ons identiteit: ons is mense wat deur die hoë God gedien is en word. Dit spel ook ons roeping uit. Daarom volg ons God na in Jesus Christus. Ons is ligdraers wat die goeie doen wat God vir ons voorberei het.

Share

Filippense 1:21-30 – Sestiende Sondag in Koninkrykstyd – 24 September 2017

Rig ‘n groepie kinders af om die gelykenis van die arbeiders met woord en beweging te vertolk. Of gebruik die ingeslote illustrasie om oor die kinders se lewenswandel te gesels. Dit preekriglyn sluit direk aan by die belydenis: “Jesus is die Here.” Die teks vra van ons om dié waarheid te lewe! Paulus verduidelik aan die Filippense hoe Jesus se heerskappy tegelyk sy lewe én sy denke oor die dood beheers. Omdat ons sterwe ons verenig met Christus leef ons reeds hier en nou uit ‘n diep persoonlike verhouding met Hom. Die hoofsaak van ons lewenswandel gaan daarom. Ons aktiewe toewyding daaraan word saam met al die gelowiges gedoen. Dit is ons roeping, beklemtoon ons teks. Wat ons saam onder leiding van sy Gees met hierdie roeping maak, is ook lewensbelangrik vir ons getuienis in hierdie wêreld.

Share

Eksodus 14:19-31 – Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd – 17 September 2017

As jy lekker dramaties kan vertel, gee ons ‘n paar hulpmiddels om die verhaal te vertel. Die preekriglyn sluit aan by ‘n gesprek in die kerkgebou van Kareedouw, een van die pragtige dorpe in die skilderagtige Langkloof. Terwyl die gesprek oor die wil van die Here vir die omgewing gaan, merk iemand op dat ons oor die bewaring van water, berg, boom en omgewing moet praat. Die Bybel gaan ons hierin voor, sê hy. Sedertdien het ons land deur die meule van ‘n wydverspreide droogte gegaan. Net ‘n entjie van Kareedouw was plekke soos Knysna en Plettenbergbaai die slagoffer van ongekende brande wat verstommende skade aangerig het. Vandag lag ons ouderling-vriend verleë oor sy vroeëre opmerking. Hy weet eintlik al die jare van beter, sê hy.

Die Bybel vertel hoe God mense deur vuur en water heen dra, deur vloed en droogte beskerm. Hy weet ook dat die aarde en al die elemente daarvan kosbaar is, en beskerm moet word. Mens moet sekerlik by die landbouvereniging oor hierdie sake praat. Maar jy moet veral in die kerk daarvan praat. God gaan ons hierin voor. Soos in hierdie bekende verhaal van Moses en die Rietsee met die Troue God. Dink saam oor wat hierdie geskiedenis vir ons beteken aan die hand van drie elemente wat in die verhaal opgesluit lê: waarskuwing, troos en herinnering. En sing Franciskus van Assissi se bekende liede om jou daarmee te help: Laudato si, mi signore, per sor aqua (Alle lof aan U, my Heer, deur Suster Water), laquale e multo utile et humile et pretiosa et casta (so nuttig, nederig, kosbaar en suiwer).

 

Share

Eksodus 12:1-14 – Veertiende Sondag in Koninkrykstyd – 10 September 2017

Vertel die 10 plae vir die kinders op eenvoudige wyse. Daar is ’n Afrikaanse vertelling ingesluit met grafika. Jy kan ook die ekstra stof gebruik. Die doel is om by die tiende plaag uit te kom. Verbind dan die Paasfees (Passover) aan die tiende plaag terwyl die kinders proe aan gebreekte stukkies matzos, en ’n paar opgesnyde stukkies oorskiet braaivleis. Sorg dat dit sonder enige sout gebraai is, maar sprinkel met (bitter) kruie soos oreganum. Onderstreep hoedat die opoffering beteken het die eersgeborenes van die Israeliete “passed over” was. Die preekriglyn val direk weg met ’n beskrywing van die Paasfees. Dit is immers die woorde wat die groot verlossende drama beskryf waarin God vir Homself ‘n volk red en ‘n nuwe mensheid skep. Wanneer ons Eksodus lees, ontmoet ons God as die Verlosser van sy mense, ‘n versorgende God, ‘n teenwoordige God, by sy volk terwyl hulle op reis is van Egipte na Kanaän, van die plek van slawerny tot by die land van belofte en verlossing.

Daarom is die geskiedenis wat Eksodus vertel so belangrik. Die woord Eksodus beteken letterlik “‘n pad of weg uit”. Die boek vertel hoe God “‘n pad uit” vir sy volk voorsien het, hulle wat slawe in Egipte was. Die instelling van die Pasga veronderstel deurgaans dat gelowiges terugdink aan wat God in Egipte gedoen het. Die gelowiges dink ook toekomsgerig: hulle weet dat God hulle op die pad vorentoe sal bewaar, juis op grond van sy reddende dade in die verlede. Terwyl hulle die Pasga vier, hoop hulle ook op hul volkome verlossing, die beloofde land wat wag, die koms van die Messias en die heerlikheid wat God sal laat aanbreek. Geloof gebeur tussen herinnering en hoop. Ook in die Nuwe Testament is geloof ‘n balans tussen herinnering en hoop. Die Pasga is opgevolg deur die Nagmaal. In die nagmaal dink ons terug aan die grootste reddingsdaad van alle tye: Jesus se verlossing aan die kruis. Die tekens van brood en wyn herinner ons hieraan. Maar in die brood en wyn proe ons ook al reeds iets van die groot feesmaal wat met die tweede koms van Jesus sal aanbreek. Wat hou ons staande? Juis die praktiese viering van ons geloof in die hede.

Share

Eksodus 3:1-15 – Dertiende Sondag in Koninkrykstyd – 3 September 2017

Lees hierdie Skrifgedeelte met behulp van voorlesers soos aangedui. Daar is ook ‘n video-snit wat jy kan gebruik. Of gesels oor die betekenis van name as inleiding om oor God se naam te gesels. Daar is twee preekriglyne. Die eerste lei in met die verhaal van Peer Gynt wat ‘n doellose lewe gelei het as keiser van die self en selfsugtigheid. Hy sterf sonder God, omdat hy ‘n lewe sonder betekenis gelei het. Hy het God nie gehad nie, en het homself nie aan ʼn lewensroeping gewy nie. Eksodus 3 vul daardie gaping en is ‘n uitnodiging om die pad met God na lewensvervulling te loop. Die tweede preekriglyn fokus meer op wie die God is wat roep. In terme van hierdie ontmoeting tussen God en Moses kan ons ook oor onsself en God in ons tyd nadink.

Share

Matteus 16:13-20 – Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd – Barmhartigheidsondag – 27 Augustus 2017

Verduidelik die betekenis van die moeilike woord “barmhartigheid” aan die kinders … Dit beteken veral om vir iemand anders om te gee … Soos wanneer ’n maatjie geval het en daar is bloed aan sy knie- dit vir hom af te vee met ’n nat lappie en hom te troos … Soos om jou lekker broodjies vir skool met iemand te deel wat nie kos in sy kosblik het nie … Ons gee om vir ander mense omdat God eerste vir ons omgegee het! Hoor bietjie hoe het Matteus daaroor geskryf … Deel nou items/ lekkers uit ‘n “goody bag”uit vir die kinders … Maar die keer met ‘n ander doel- hulle moet dit in die week vir iemand anders gaan gee! Die preekriglyn begin met die kunswerk “Die Skepping van Adam” deur Michelangelo Buonarotti, een van die mees bekende Renaissance kunstenaars. Dit is ‘n fresko wat deel uitmaak van die Sistynse Kapel se plafon, waaronder die moment uit Genesis waar God vir Adam skep.

Sommige kenners sê die inspirasie vir die skildery kom uit die Middeleeuse lied Veni Creator Spiritus (Kom, Skepper Gees) wat bid dat “die vinger van die Vader se regterhand” woorde aan die gelowiges gee. Geen lewe is moontlik sonder dat God dit gee nie. Ons sou kon byvoeg: Geen insig, geen selfverstaan, roepingsbesef, ja, geen getuienis is moontlik sonder dat God openbaring, kennis, wysheid gee nie. Ons het geen lewe, geen begrip, geen benul van ons identiteit, ons gebrokenheid en ellende, en van God se liefde en verlossing, sonder dat God dit aan ons meedeel nie. Sonder God het ons nie eers woorde oor God nie, kan ons niks oor God bely nie. Ons het openbaring nodig. Gelukkig skenk God dit ruimhartig, soos die lewe self. Soos Jesus in ons teks aan Petrus sê: “Gelukkig is jy … want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou openbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.”

Share

Matteus 15:(10-20), 21-28 – Elfde Sondag in Koninkrykstyd – 20 Augustus 2017

Onthou, ons hoef nie altyd “morele lessies” uit veral die narratiewe van die Bybel te haal nie. Lees/vertel gewoon die skrifgedeelte op ’n manier wat kinders innooi. Laat twee mense hierdie week se Skriflesing doen – iemand lees die vrou se woorde en iemand anders Jesus se woorde. Hulle kan selfs die gedeelte opvoer. Jy kan ook Max Lucado se pragtige verhaal gebruik: “Al wat jy nodig het”.  Die preekriglyn begin met die waarskynlike lesers vir wie Matteus sy evangelie skryf. In hierdie gemeente was daar die eerste keer mense uit die heidendom, nie-Jode, ontvang. Dit het verskeie vrae en krisisse opgeroep.

In sy Evangelie roep Matteus die woorde en dade van Jesus in herinnering om die gemeente in Antiogië te help om Jesus te volg, om op te tree soos wat dit pas by leerlinge van Jesus, die Here. Hier gebruik hy die verhaal van Jesus se ontmoeting met ‘n Kanaänitiese vrou wie se dogter in die mag van ‘n bose of onrein gees was. Onmiddellik is al die grense tussen mense, wat soveel spanning in Matteus se gemeente geskep het, weer aan die orde. Dit is die grense tussen Jood en heiden, man en vrou, siek en gesond, heilig en demonies, die ou geslote Joodse benadering en die nuwe benadering wat Jesus gebring het. Jesus se hantering van dié vrou het ‘n voorbeeld vir hulle geraak hoe om gelowiges uit die heidennasies te hanteer, soos dit ook vandag vir ons ‘n voorbeeld is.

Share

Matteus 14:22-33 – Tiende Sondag in Koninkrykstyd – 13 Augustus 2017

Gesels as inleiding tot die teksgedeelte oor wat als op die water kan loop aan die hand van die ingeslote voorbeelde. Lees dan die teks en gesels oor die wonder daarvan. Die preekriglyn begin met ‘n verhaal van ‘n tjokkaboot wat omgeslaan is en die ontberinge van die vissers. Die see is nie speletjies nie. So het die Jode in Jesus se tyd ook geweet die see is nie speletjies nie. Die see was ‘n ruimte van bedreiging en onsekerheid, die tuiste van gevaarlike magte. Dalk is dit een van die redes waarom die dissipels nie gelukkig was met die idee om sonder Jesus met die skuit in die nag na die oorkant te vaar nie. Hulle vrese vir die see word bewaarheid met die storm wat opsteek. Jesus se verskyning aan hulle en veral die rol wat Petrus daarin speel, bring hulle by ‘n aangrypende belydenis: “Waarlik, U is die Seun van God”. In ‘n dobberende skuit onthul Jesus die fondament van die Christelike geloofsgemeenskap!

Share

Matteus 14:13-21 – Negende Sondag in Koninkrykstyd – 6 Augustus 2017

‘n Heerlike ware storie om te vertel, is dié van Wangari Maathai wat Kenia se landskap verander het deur te begin met ‘n inisiatief wat met meer as 30 miljoen bome wat aangeplant is Kenia se landskap verander het.   In 2004 word sy die eerste vrou uit Afrika om die Nobel Vredesprys te wen. Daar is ‘n pragtige storieboek vir Kindle beskikbaar wat haar storie vertel – kyk die video daarvan hier. Of vertel die storie in jou eie woorde! Die preekriglyn sluit by die voorloper verhale van Jesus se broodvermeerderingswonder uit 2 Konings 4 deur die bediening van die profeet Elisa.

Hierdie verhale verteenwoordig God se belangstelling in die alledaags lewe en nood van mense. God skep ‘n wêreld waarin daar voorsiening gemaak word vir mense se uitdaging om in moeilike omstandighede te kan leef. God is die Lewegewer, die Gasheer wat lewe op aarde moontlik maak. Die man van God, Elisa, is die agent van God waardeur God se genade bemiddel word. Op hierdie manier word die mag, heerlikheid, liefde en versorging van God openbaar. Dit is die lewe wat in die koninkryk van God deur die bediening van Jesus Christus moontlik word. Ons moet weet dat God vandag nog in die konkrete behoeftes van mense belang stel én daarin voorsien.

Die mense se honger was werklik, maar dit word in die wyer konteks van die evangelieverhaal ook simbolies van ‘n dieper honger. In beide soorte honger kan die mense nie voorsien nie. God gryp egter self in deur Jesus wat uit egte medelye die brood breek. Terselfdertyd is die broodbreking ook ‘n magsverklaring van die Messias wat in absolute sin in mense se behoeftes voorsien. In die Here se hande verander die klein gawes en word dit baie. Op hierdie pad moet die kerk self eers verander word. Dit doen God ook: Voordat die dissipels vir die honger skares “iets kon gee om te eet”, moes Jesus egter eers hulle weerstande oorwin. Jesus bevry mense tot egte mededeelsaamheid!

Share
1 2 3 4 5 18