Lukas 7:1-10 – Tweede Sondag in Koninkrykstyd – 29 Mei 2016

Lees die Bybelverhaal dramaties met behulp van die ingeslote agtergrond en papierpoppe. Gesels oor die offisier se geloof.  Verduidelik dat geloof soos vertroue is.  Illustreer vertroue deur bv. ‘n kind in iemand se arms te laat spring, met die vertroue dat die persoon die kind sal vang.  Daar is ook ‘n klomp opsies van inkleurprente, aktiwiteite en ander papierpop vorms.  Die preekriglyn lei die boodskap in met ‘n moderne verhaal van genesing, soos vertel deur James Christenson, ‘n predikant van Wisconsin wie se gesin die genesende krag van God beleef het.  Soos ons teks dit illustreer, het Jesus ‘n andersoortige, in teenstelling met die gesag van wêreldse gesaghebbendes. Die andersoortige gesag van Jesus trek ’n streep deur menslike gesag. Dit sien regdeur die brose strukture en sisteme wat ons opbou en waarbinne ons sogenaamd veilig voel, en rig ’n uitdaging: “Wie is in beheer, Ek of jy?” Dié vraag kom soms op verrassende wyses tot ons, nie net toe nie, maar ook vandag.  Ons rol vanuit hierdie verhaal is om in gestroopte afhanklikheid, met ons volle gewig, in die skoot van Jesus se liefde te val. Om toe te laat dat Hy ons aanraak met sy woorde en daardeur ook genesing vir ons en almal rondom ons – vriend, vreemdeling en vyand – bewerk. Oor alle grense heen.

Mrt-webbaniere-4

Share

Johannes 16:12-15 – Eerste Sondag in Koninkrykstyd (Drie-eenheidsondag) – 22 Mei 2016

Die abstrakte begrip van die Drie-eenheid is altyd ‘n moeilike begrip vir kinders. Carolyn Brown suggereer dat ons ‘n voorstelling maak van ‘n kruis en ‘n kers wat brand as gesprekshulpmiddel. Die preekriglyn sluit aan by die geskiedenis van die kerk as ‘n spanningsverhaal soos min. Dié woorde van Jesus in Johannes 16 is bedoel om hulle te troos en moed te gee vir die uitdagings en vervolgings wat kom deur oor die Parakleet, die Heilige Gees, met hulle te gesels.  Die betekenis hiervan kan deur verskeie woorde vertaal word:  “trooster”, “advokaat”, “raadsman” en “helper”. Hy is gegee om in die gemeente te werk, ons te help met ons getuienis en ons in die waarheid te lei.  Hy is ook die gawe aan die kerk as Trooster.

Loskerf

Share

Johannes 14:8-17, (25-27) – Pinksterfees – 15 Mei 2016

Daar is drie innoverende opsies vir Familietyd – skerp klein papiertjies wat deur die Paaskers vlam geskroei word om sagter hoeke te kry; ‘n vuvuzela wat eers raas as jy blaas; papier-fluitjies en streamers wat met die kerk se verjaarsdag saamhang. Die preekriglyn begin met die inspirerende verhaal van die uitdaging wat Bybelvertalers gehad het om die term vir die Heilige Gees in “Karre” ‘n taal wat in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gepraat word, te vertaal.  Op ‘n dag sien die vertalers hoe ‘n groep portiere artikels op hulle koppe die bos indra. Hulle let op dat een van die groep niks dra nie. Vanselfsprekend dink hulle dié persoon is in beheer, besig om te kyk dat die ander hulle werk behoorlik en vinnig doen.

Hulle ontdek egter dat die persoon allesbehalwe die toesighouer is. Hy gaan saam, sodat wanneer een van die draers dalk te uitgeput raak om verder te dra, of in die ruwe terrein beseer word, daar iemand was om bystand te verleen. Sou iemand bv. uitgeput neersak, sou hierdie man die vrag optel en verder dra. Hierdie portier-sonder-vrag staan in die Karre-taal bekend as “die een wat langs ons neerval.” Dit was die oplossing. Die vertalers het hulle woord vir Parakleet gevind.  Die voorbeeld gee jou ‘n heerlike manier om verder oor die impak en betekenis van die Heilige Gees in ons lewe te gesels.

webbanners_Feb2016-4

Share

Johannes 17:20-26 – Sewende Sondag van Paastyd – 08 Mei 2016

Met Familietyd kan jy die voorbeeld van bye in ‘n byekorf gebruik om oor eenheid in die kerk te gesels. Die preekriglyn begin met die voorbeeld van die geweldige problematiek om die tonnel onder deur die Britse kanaal van Brittanje tot by Frankryk te bou. Een van die vernaamste leemtes was ‘n stel gelykluidende standaarde. “As jy mense uit twee verskillende nasies het wat aan een projek saamwerk, moet jy die standaarde baie duidelik stel,” het een van die senior ingenieurs gesê, “anders glo elkeen hulle is reg.”  In Jesus se gebed vir die kerk in Johannes 17 word geen ruimte vir misverstand gelaat nie. Dit is duidelik dat die fisieke, konkrete eenheid van die kerk – al bestaan dit uit hoeveel tale, volke en nasies – vir Jesus geweldig belangrik is. Dit is die standaard waaraan alles gemeet word.

Waarom is hierdie standaard so belangrik? Die eenheid van die kerk word in die eenheid van God begrond. Die kerk moet een wees, soos Vader, Seun en Heilige Gees een is. Natuurlik is Vader, Seun en Gees nie dieselfde nie, al is hierdie drie Persone een God. Daar is ook in God diversiteit, aldus die Bybel. Tog is God een. Hierdie eenheid is ‘n liefdesgemeenskap van onderlinge diens en roepingsvervulling.  Net so moet die kerk een wees.

Mrt-webbaniereR-3

Share

Psalm 47 – Hemelvaart – 05 Mei 2016

Indien jy wel ‘n Familie-oomblik het by hierdie Hemelvaartdiens kan jy die boekies van Jesus se hemelvaart aflei en gebruik by die skakel wat ons gee. Die preekriglyn fokus volledig op die viering van Jesus se hemelvaart. ‘n Paar weke gelede, toe die eerste groep kerkleiers gevra het president Zuma moet bedank, is daar ‘n radio-onderhoud met ds Moss Ntlha van die Evangeliese Alliansie gevoer. Die joernalis wou weet of die kerk nie nou by politiek betrokke raak nie. Nee, het ds. Ntlha gesê: Christus is Koning oor die ganse wêreld, en dit sluit ook die konstitusionele krisis in. Dit is tipies Gereformeerde taal. Gelowiges se mandaat om oor elke terrein van die lewe Christus se koningskap na te volg, kom van die Een wat nou op die wêreldtroon sit.  Ons sien dit in Psalm 47 wat ‘n loflied aan God is, die groot koning wat oor alles verhewe is, en wat nou regeer.

Hierdie perspektief op God as Een wat op die wêreldtroon sit, speel ’n groot rol in die beskrywing van God in die Nuwe Testament. Die hemelvaart verkondig dat God in Christus oor alles heers, wat beteken dat ons nie uitgelewer is aan die magte en kragte nie.  Dit beteken ook dat Christus nie ver is nie, al voel dit dikwels so. Hoewel ons Jesus nie kan sien nie, is die Nuwe Testament vol daarvan dat Jesus aktief betrokke is by die wêreld, en spesifiek aktief regeer. Die vrug van Hemelvaart is dat Jesus naby aan ons is en ons vashou. Ons word vandag opnuut bewus hiervan en leer uit hierdie werklikheid leef.

Mrt-webbaniere-1

Share

Johannes 14:23-29 – Sesde Sondag van Paastyd (Arbeidsondag) – 01 Mei 2016

Lees die vrede teks uit die Boodskap en gesels in Familietyd met die kinders aan die hand van Ferdinand Deist se skrywe oor vrede in sy werk “Doen aan ander” daaroor. Jy kan ook Carolyn Brown se gedagtes oor Jesus se vredesgroet aan die uitspreek van die seën aan die einde van die erediens gebruik. Die preekriglyn begin met Philip Yancey se perspektiewe oor wat sy soutwater-akwarium hom oor die betekenis van Jesus se menswording geleer het. Die visse het elke keer gereageer op sy aksies asof hy van plan was om hulle te martel. Yancey kon hulle nooit oortuig dat hy vir hulle omgee nie. “Dalk was ek vir my visse soos een of ander god.

Ek was te groot vir hulle, my optrede té onverstaanbaar. My dade van sorg het hulle as wreedheid gesien, my pogings om hulle gesond te hou of te kry het hulle as moontlike vernietiging beleef … Om hulle persepsies oor my te verander, het ek begin insien, sou een of ander vorm van inkarnasie, van deel word van hulle wêreld moes verg. Ek sou ‘n vis moes word en met hulle praat in ‘n taal wat hulle kon verstaan.” Dít is wat hierdie verhaal ons ook leer.  In Jesus, getuig die Johannes-evangelie, het God tot by ons gekom. God kom as Woord tot by ons en praat die taal van mens-wees wat ons helder kan verstaan. Ja, God kom praat – by wyse van spreke – ‘n taal wat ons kan verstaan. Die inhoud van God se boodskap is veel meer as net woorde. Die Woord kom beliggaam God, kom handel, doen en sê, oortuig en leer.

Mrt-webbaniere-4

Share

Johannes 13: 31-35 – Vyfde Sondag van Paastyd – 24 April 2016

Gesels met die kinders uit verskillende hoeke oor die liefde. Illustreer dit met een of ander projek van liefdesdiens in julle gemeente.  Liefde is soos ‘n skooluniform waaraan mense ons moet kan uitken.  Dit gee ‘n goeie inleiding om oor hierdie teks te kan praat.  Aan die een kant is daar Judas se verraad.  Aan die ander kant is daar Petrus se verloëning.  Beide is voorbeelde ook van moderne verraad en verloëning.  Johannes wil ons dus waarsku deur dié verhaal, maar ook bemoedig om getrou te bly om liefde te gee en te ontvang.

Mrt-webbaniere-5

 

Share

Johannes 10:22-30 – Vierde Sondag van Paastyd (Goeie Herdersondag) – 17 April 2016

Gebruik die elemente van die voorbeeld van die verhouding tusen skape en die skaapwagter om oor God as ons Goeie Herder te praat. Die preekriglyn begin met die verhaal van die Fees van Hanukka (ligte). Hierdie fees is elke jaar vir agt dae lank gevier om die oorwinning van Judas Makkabeus oor die Siriërs in Desember 164 v.C. in herinnering te roep.  “Makkabeus” kan met “hamer” vertaal word. In Jesus se tyd het die Jode steeds gesoek na ‘n held, ‘n “hamer”, en bevryder soos Judas Makkabeus. Jesus het met sy wonderwerke en optrede van mag vir hulle gelyk na so persoon.  Maar wie was Jesus regtig?

Jesus gebruik dan die beeld van ‘n herder en sy skape om Homself en daarmee God se verhouding met die gelowiges te beskryf.  Hy is ‘n Herder nie ‘n Hamer nie.  Daarmee nooi Hy ons uit om deel te wees van dié verhaal. Die verhaal van die Herder wat roep, insluit, leer, gehoorsaamheid bewerk en vir ons ‘n toekoms gee, wat ons inbind in ‘n intieme verhouding met Hom.

Godsgeheim

Share

Johannes 21: 1-19 – Derde Sondag van Paastyd – 10 April 2016

Maak seker dat jy die Skriflesing dramaties doen – dan is ‘n “morele lessie” nie eers nodig nie!  Daar is ook ‘n hele paar ander aktiwiteite wat jy kan gebruik vir Familietyd, ook ‘n interessante video wat werk met die konsep van “Beautiful Oops!”. Die preekriglyn fokus op Petrus wat sy beste Vriend in die steek gelaat het, maar toe tog ‘n tweede kans gekry het. Hy het gedink sy mislukking plaas hom buite die bereik van God se genade. Maar op die ou end ontdek hy op ‘n wonderlike manier daar is ook vir hom genade.  Die Here is die Here van die tweede kans.  Die opgestane Christus ontmoet vir Petrus op ‘n wonderbaarlike manier. Petrus word in sy rol herstel en kry sy amp terug om die Here se kudde op te pas en te lei.  Dit leer ons dat kragtens Christus se opstanding uit die dood is geen situasie só dood dat daar nie weer lewe kan kom nie. Geen mens is so verlore dat vergifnis en kindskap nie meer moontlik is nie. Wat met Petrus gebeur, is kragtens kruis en opstanding God se moontlikheid vir elkeen van ons.  Voor hierdie Christus kan ons ons maskers laat val, ons skuld en ons sonde, ons weerloosheid en ons mislukking, bely. Ons kan met Jesus nuut begin.

Mrt-webbaniereR-3

Share

Johannes 20: 19-31 – Tweede Sondag van Paastyd – 03 April 2016

Jy kan die fokusteks dramaties uit Die Nuwe Testament vir Kinders voorlees of die ingeslote rollespel en/of die inkleurprent gebruik. Die preekriglyn begin met ‘n dramatisering van die gebeure van die opstandingsmôre.  Daarmee ontvou die betekenis van Jesus se groet vir die dissipels van anderkant die graf.  Daarmee bevestig Jesus dat die stryd om die vrede vir hierdie aarde suksesvol deurgevoer is. Die vaste bewys daarvoor is die tekens aan sy hande, voete en sy. Almal kan dit sien. Nou kan niemand meer twyfel nie – ook nie Tomas nie! By die aanskouing en aanraking van die wondmerke kon Tomas nie anders as om namens ons almal uit te roep nie: “My Here en my God!”

webbanners_Nov2015-4

Share
1 2 3 4 5 6