Lukas 24: 1-12 – Paasfees – 27 Maart 2016

Daar is ‘n skakel na ’n pragtige, stylvolle kindervriendelike Youtube video wat die verhaal van die opstanding vertel. Carolyn Brown herinner ons daaraan dat die goeie nuus van Paasfees anders is vir kinder as vir grootmense.  Vir die meeste kinders is oorwinning oor die dood nie vreeslik opwindend (of reëel) nie.  Aansprake op nuwe lewe is ook moeilik vir kinders om te begryp.  Wat kinders wél raak, die goeie nuus van Paasfees vir kinders, is dat God die magtigste wese in die heelal is.  Die Paasfees belofte dat Jesus altyd by ons is, is ook goeie nuus vir kinders.  Natuurlik kan kinders hulleself ook vind in die boodskap van vergifnis – en daar is nog meer!

Die preekriglyn begin met die verhaal van ‘n bejaarde dame wat met ‘n terminale siekte gediagnoseer is. Sy wou met ‘n vurk in haar regterhand begrawe word … want “die beste is aan die kom!” Soos toe sy as kind aan tafel haar vurk moes hou vir die lekkerte wat ná die hoofmaal souk om.  Dit is met dié gees wat ons dié Paasfees gaan vier.  God verras ons uit die hemel met die nuus dat Jesus opgewek is.  En die herinnering daaraan ontsluit nie net ons geloof nie, maar laat ons uitsien na die beste wat nog kom.

Mrt-webbaniereR-2

Share

Johannes 18:1-19:42 – Goeie Vrydag – 25 Maart 2016

Daar is nie ‘n spesifiek Familietyd nie. Kinders neem doodgewoon deel aan die liturgie wat met kort episodiese prediking afgewissel word. Dit teks wat twee hoofstukke beslaan word dus gelees en afgewissel met kommentaar, gebede en sang.  Dit help ons om aan die hand die vyf episodes van die verhaal: In die tuin, Voor Annas, By die vuur waar Petrus Jesus verloën, Voor Pilatus, Tot ons heil gekruisig, gesterwe en begrawe.  Daarmee word Jesus Christus as die hoofkarakter van hierdie lydensdrama uitgebeeld. Hy oorheers die toneel en word uitgebeeld as die Een wat deurgaans in beheer is van die verloop van sake.

Jesus se majesteit skyn op sy helderste wanneer Hy deur mense verhoor word. Die lydende Kneg is die Koning van die wêreld. Dit wat op die oog af lyk na vernedering en verlies is, met die geloofsoog gesien, ‘n heerlike oorwinning.  Op die menslike vlak is hierdie ‘n gewelddadige verhaal. Daar is ‘n nagtelike gevangeneming, ‘n onbehoorlike verhoor, Jode wat Pilatus manipuleer, marteling, ‘n publieke teregstelling en ‘n haastige begrafnis. Tog oorheers hierdie bloederige onreg nie die verhaal nie. Jesus is meer as ‘n slagoffer van wie die lewe weggeneem word. Jesus is die handelende Persoon, wat sy lewe vrywillig gee in ‘n daad van liefde teenoor die wêreld.  As oorwinnende Koning kan ons Jesus vandag eer en prys.

Share

Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag – 20 Maart 2016 – Lukas 19:28-40

Hierdie kan ‘n gunsteling fees wees vir kinders as julle iets van die Palmsondag optog maak. Daar is vele wenke in dié bydrae daarvoor. Jy kan ook die betekenis van Jesus se koningskap deurgesels aan die hand van: “The Donkey that no one could ride”.  Die preekriglyn sluit aan by prof. Denise Ackermann se verbeeldingsprentjie in haar boek, Surprised by the man on the borrowed donkey. Sy sit ‘n oggend in die indrukwekkende Katedraal van Canterbury terwyl ‘n prosessie biskoppe van die Anglikaanse Kerk besig is om hul plek in te neem. En sy dink, wie kort nog? Wie mis ek? ‘n Verrassende prentjie spring helder op in haar gedagtes. Sy mis Jesus, die Man op die geleende donkie. Hoe sou dit lyk as Jesus op sy donkie die katedraal binnekom? Dit gee ‘n goeie oorgang na die voorstelling in ons teks van Jesus as koning.

Die geleende donkie help onthou dat Jesus se koningskap anders is – dat dit nie was wat mense verwag het nie.  Dit help ons besef dat Jesus die kruispad stap. En, soos Sadhu Sundar Singh vir ons sê: As ons nie die kruis van die Heer dra nie sal ons die kruis van die wêreld met al die aardse dinge moet dra. Die wat die kruis van die Heer dra weet uit ervaring dat hierdie kruis hulle dra en veilig by hulle bestemming sal bring. Die kruis van die wêreld, daarenteen, trek ons af en lei tot vernietiging. Watter kruis dra jy? Word stil en dink. Dis met hierdie gesindheid van selfondersoek NT Wright skryf:  Terwyl ons saam met Jesus in Jerusalem aankom, moet ons op ‘n dringende vraag antwoord. Reis ons saam met Jesus met die hoop dat Hy sommige van ons eie verwagtinge en ambisies sal vervul? Is ons gereed om nie net ons klere op die pad voor Hom te gooi nie, maar ook om Hom te volg wanneer moeilikheid, kontroversie, verhoor en dood volg?  Ons sien vandag die heerlikheid van die Man op die geleende donkie. Agter hierdie man aan neem ons ons kruis op en volg Hom na.

webbanners_Feb2016-4

Share

Vyfde Sondag in Lydenstyd – 13 Maart 2016 – Jesaja 43:16-21

Met Familietyd kan jy die verhaal vertel van Julia Dray, die dogter van ’n Presbiteriaanse predikant, wat 8 jaar oud was toe sy begin verstaan het dat die heelal regtig baie, baie groot is. “God is so groot dat Hy net so klein kan wees as wat Hy wil wees. Dis hoe Hy dit regkry om binne-in jou hart te kan inpas.”  Daar is ook ‘n praktiese hulpmiddel.  Die preekriglyn lei met die verhaal van die neurobioloog James McGaugh in, een van die voorste kundiges op die gebied van menslike geheue. Hy sê ‘n vrou, wat net as AJ bekendstaan, het ‘n unieke gawe om te kan onthou.  AJ se vermoë om die fynste detail te onthou, is ongelooflik. Sy kan dekades uit haar lewe in haar kop laat afspeel asof dit ‘n fliek is waarna sy kyk. Gee haar enige datum, en sy kan onthou watter dag van die week dit was, gewoonlik hoe die weer daardie dag was, persoonlike detail uit haar lewe, en ook watter nuusgebeure afgespeel het.

Gevra of so ‘n wonderlike geheue ‘n groot gawe is, was AJ nie so seker nie. Sy onthou ook die slegte dinge, soos die einde van ‘n verhouding, in die grootste detail. Dit bly haar by. Dis nie lekker nie.  Miskien moet die vermoë om te kan vergeet ook ‘n gawe genoem word.  Dit is waaroor ons teksgedeelte vir vandag handel.  Israel word opgeroep om te vergeet, omdat die Here iets nuuts gaan doen.  Hulle moenie meer net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.  Hulle moet God se nuwe werklikheid aangryp en daarin begin glo.  Dit leer ons dat daar ‘n gesonder spanning tussen onthou en vergeet moet wees. Ons moet ons verlede onthou, sodat ons dankbaar kan bly vir die verlossing wat die Here vir ons gebring het. Maar ons moet ons verlede op so ‘n manier vergeet dat die skuld en sonde van die verlede sy greep op ons verloor.   Daarom kan ons miskien bly wees ons het nie AJ se fotografiese geheue nie!

webbanners_Feb2016-2

Share

Vierde Sondag in Lydenstyd – 06 Maart 2016 – Lukas 15:1-3, 11b-32

Daar is pragtige video’s van hierdie skrifgedeelte beskikbaar. Jy kan ook die pragtige storie van The Runaway Bunny, deur Margaret Wise Brown, gebruik.  Dit sluit pragtig aan by die preek se fokus op moederskap – én by die verhaal van vandag se Skrifgedeelte. The Runaway Bunny vertel van al die maniere waarop hy van sy ma gaan weghardloop – en sy ma wat vertel hoe sy hom sal volg en help.  Die preekriglyn lei die Skrifgedeelte in met die verhaal van Kanye West, die bekende rapper en hip-hop kunstenaar. Hy wil ‘n nuwe, hersiene uitgawe van die Bybel hê waarin hy die hoofkarakter speel.  Mense noem Kanye nie verniet die mees arrogante kunstenaar nie. Vir sommige mag hy net kort duskant Godslastering draai aangesien hy ‘n hoofkarakter in die Bybel wil wees.

Vir ander bevestig Kanye maar net wat vanselfsprekend waar is. Hy is reeds in die Bybel, net soos ons almal. Wanneer die Bybel van die verlore skaap, die verlore muntstuk of twee verlore seuns praat, praat God oor ons, net soos oor Kanye West.   Ons is ook almal die hoofkarakters in God se beweging na mense toe. Ons is die verlorenes wat reeds gevind is, diegene wat nou deelneem aan God se beweging na die wêreld toe. Ons is die vreugde in die Vaderhart.

webbanners_Feb2016-1

Share

Derde Sondag in Lydenstyd – 28 Februarie 2016 – Jesaja 55:1-9

Daar is drie opsies vir Familietyd waarin jy kan fokus op die nagmaal, ‘n piekniek of ‘n video en lied gebaseer op die Skriflesing. Die preekriglyn begin met ‘n inleiding oor die worsteling met pessimisme. Dinge word dan in ‘n baie donker lig gesien. Dit kan met ons persoonlike omstandighede, ons omgewing, ons land of die wêreld te doene hê. Soms verval mens so diep in wanhoop, negatiewe gedagtes en suspisie dat jy nie meer gebore in staat is om moed en hoop aan die dag te lê nie. Die teks uit Jesaja help ons om die vraag te vra na waar die verskil dan lê tussen hoop en wanhoop. Vir Jesaja maak God die verskil. God is vir Jesaja nie koud, klinies en ver nie, maar vol liefde en ontferming. God is betrokke by die wêreld en tree aktief op.

webbanners_Feb2016-3

Share

Tweede Sondag in Lydenstyd – 21 Februarie 2016 – Lukas 13:31-35

In vandag se skrifgedeelte is Jesus hartseer oor mense wat hom nie wil volg nie. Hy beskryf sy liefde vir hulle soos ‘n moederhen se liefde.  As jy dit betyds in die hande kan kry, kan jy die verhaal vertel van “Five little chicks” deur Nancy Tafuri. Of vertel self hoe ‘n hen op haar eiers lê, hoe sy na die kuikens omsien. Jy kan die hen vergelyk met die kinders se mammas wat hulle vashou in haar arms en dan verduidelik dat Jesus ook só lief is vir ons.  Die preekriglyn sluit hierby aan en vra die vraag wie beheer ons wêreld en ons toekoms? Verskillende mense beantwoord hierdie vraag op verskillende maniere. Jy kan na ‘n paar van die vroeëre sameswering-teorieë verwys.

Vandag is dit Donald Trump wat dink Amerika sal veiliger wees as alle Moslems en Meksikane (met wie hy graag eiendomstransaksies aangaan) uit die land gesit kan word. Lydenstyd is ‘n tyd vir stilte en nadenke. Die teks help ons diep hieroor na te dink: Wie beheer die wêreld?  Die preekriglyn sluit af met die oproep tot die navolging van ons Meester, want daardeur kan ons toelaat dat God se liefde deur ons vloei na ‘n wêreld wat rebelleer. Ons moet met sy liefde na die mense om ons kyk. Ons moet die erns van God se waarskuwing verstaan dat volhardende verwerping van Jesus tot felle oordeel sal lei. Hoewel dit onafwendbaar is, kan ons vashou aan God wat getrou is aan sy woord. Hy begeer dat sondaars na Hom moet kom. En ons kan verseker wees dat sy belofte waar sal wees dat daar mense uit elke volk, taal en nasie voor sy troon sal wees.  Met dit in gedagte moet ons vertrouend en volhardend vorentoe gaan.

Kleurmeditasie

Share

Eerste Sondag in Lydenstyd – 14 Februarie 2016 – Deuteronomium 26:1-11

Die fokusteks kan uitstekend as ’n drama opgevoer word aan die hand van die ingeslote hulpmiddel. Dit is ook die begin van Lydenstyd. Deuteronomium 26:1-11 is uiters geskik as begin van dié tyd, omdat dit praat oor lewe en verwagtinge en teleurstelling en menslike handeling en pyn – en dankbaarheid vir alles en ten spyte van alles. ‘n Wonderlike tradisie van baie gemeentes in Afrika is om as laaste deel van die diens ingedans te kom op maat van ‘n kerklied met mandjies vol vrugte en groente. Daarna sit die predikant die mandjies voor die altaar en wy dit aan die Here.

Dit vier die lewensruimte wat God aan ons gee. Die preekriglyn het vier temas wat ons dankbaarheid vir wat God gee, kan uitpak:

Een: Blom waar jy geplant is.
Twee: ‘n Land wat oorloop.
Drie: Ons moet ons hande uitsteek.
Vier: Onthou met dankbaarheid.

Daar is ook ‘n Geloofsbelydenis uit Jesaja 53 ingesluit.

Loskerf

Share

Sondag van die Verheerliking – Feesdiens – 7 Februarie 2016 – Lukas 9:28-36, (37-43)

Die Engelse woord vir vandag, “transfiguration” is eintlik ‘n baie lekker woord om die kinders in die betekenis van die teks in te lei. Jy kan met hulle gesels oor die kraai wat in ‘n beker verander word in Harry Potter and the Philosopher’s Stone.  Dit is egter radikaal anders as wat hier met Jesus gebeur.  Jesus word ook verander, maar Jesus nie iets anders as wat Hy is nie, Hy word meer wat Hy is. Sy Goddelikheid word meer gemaak. Op dieselfde manier werk God, deur die Gees in ons, om ons ook meer dit te maak wat ons reeds is.  Die preekriglyn begin met die spreuk van die sendeling Hudson Taylor: “Vertrou daarop: God se werk, gedoen op God se manier, sal nooit gebrek lei aan God se voorsiening nie.”  En wys hoe dit prakties geraak het met die stigting van China Inland Mission.  Daar was twee redes waarom daar – ten spyte van baie stryd en mislukking – vrug op die werk was. Die eerste rede was die helder besef dat God self aan die werk is, en dat hulle instrumente in God se hande was. Die tweede rede was ‘n lewe van gebed, die opsoek van God se teenwoordigheid en die rus in gebed by God.  Met dit as agtergrond kan ons die betekenis wat hierdie teks vir ons het, beter verstaan.  Jesus is op die punt om deur die meule te gaan. Sy dissipels ook.  Jesus se antwoord op hierdie beproewing is om gemeenskap met God op te soek deur gebed. Hy betrek ook sy dissipelkring. Gebed word die manier waarop Jesus in hierdie oomblikke ingebed bly in sy identiteit as lydende kneg van die Here, Seun van God.  Gebed word ook die manier waarop die dissipelgemeenskap, via Petrus, Johannes en Jakobus, gedefinieer word as volgelinge van die Seun van God.

Share

Vierde Sondag ná Epifanie – 31 Januarie 2016 – Lukas 4: 21-30

Met Familietyd kan jy oor verwerping met die kinders gesels aan die hand van die verhaal van Del Ennis, ’n beroemde bofbalspeler, wat ook nie in sy tuisdorp die erkenning gekry het wat hy verdien het nie. Dit sal ’n goeie inleiding verskaf om oor Jesus met die kinders te gesels.  Die preekriglyn lei ook met ’n sportverhaal in om te illustreer dat ‘n goeie sportman altyd die bal speel en nooit die man nie.  Des Hasler was ‘n legendariese Australiese professionele Rugby-Ligaspeler. Sy bynaam was “Sorry”. Die rede? Nadat hy ‘n opponent vasgevat en eintlik op die veld begrawe het, het hy gewoonlik “Sorry mate” gesê terwyl die slagoffer orent kom. Sy houding was dat hy net gedoen het wat hy moes.  Dit is egter nie hoe baie mense lewe nie.  Dit is ‘n ou laai om die man eerder as die bal te speel, soos hier in die verhaal van Jesus.  As mense nie van die boodskap hou nie, is hulle geneig om die boodskapper by te kom.

webbanners_Jan2016-3

Share
1 3 4 5 6