Derde Sondag ná Epifanie – 24 Januarie 2016 – Lukas 4:14-21

Nota: Die teksindeling fokus op Jesus se lering in Nasaret. Volgende Sondag fokus op die mense van Nasaret se reaksie. Lei die uitleg van die teks in met ‘n gesprek met die kinders oor wat hulle wil wees wanneer hulle groot is.  Laat grootmense vertel wat hulle graag wou word – en wat hulle nou is.  Verduidelik dan dat Jesus terugkeer na die dorp waar hy grootgeword het, waar almal wou hoor wat van hom geword het. Lees dan die skrifgedeelte en gesels met hulle oor prioriteite en passies en wat hierdie gedeelte oor Jesus sê.

Die preekriglyn lei met die voorbeeld in van ‘n alkoholis se stryd om rehabilitasie sowel as ‘n seksslaaf van ISIS, Nadia Murad Basee Taha, wat in November 2014 ontsnap het en van haar vryheid kon getuig voor die VN.  Albei het die genade van vryheid uit hulle slawerny ontvang, presies soos die Here Jesus hier in sy tuisdorp Nasaret verkondig.  Dit is die kern van Jesus se bediening.  Jesus bring ‘n nuwe bedeling tot stand waar mens se verlede, en die nood van jou verlede, nie langer jou lewe definieer nie. Vryheid en uitkoms is moontlik.

Share

Tweede Sondag ná Epifanie – 17 Januarie 2016 – Johannes 2:1-11

Gebruik dié Sondag die ingeslote voorbeeld van ‘n koerant waarvan die berig verwys na Jesus wat water in wyn verander. Daar is ook ‘n pragtige inkleurprent.  Die preekriglyn begin met ‘n oorsig van die tipe wyn wat bekend was in die wêreld van die Bybel as inleiding tot die teks. Die feit dat die wonderwerk egter spesifiek as ‘n wonderteken beskryf word, beteken dat veral die simboliese betekenis van die gebeure belangrik is. Jesus se optrede by hierdie spesifieke bruilofsfees – om wyn uit water te skep – openbaar dus sy heerlikheid. Hy gaan die messiaanse feesmaal moontlik maak.  Ons dra daarom dié boodskap in alles wat ons doen.  In Jesus, deur die Gees, is God oral in die skepping teenwoordig. Niks is meer dieselfde nie. Daarom kan selfs die wyn by ‘n bruilof ‘n teken word wat na sy heerlikheid heenwys. Elke erediens, elke doop, nagmaal en loflied wat opklink tot eer van God onderstreep hierdie werklikheid.

webbanner_Jan2016

Share

Eerste Sondag ná Epifanie – 10 Januarie 2016 – Handelinge 8: 14-17

Al is vandag se teks ‘n kort gedeelte, het dit ‘n kragtige boodskap van liefde, sorg en ondersteuning. Jy kan die verhaal van Let’s Go, Hugo! deur Angela Dominguez gebruik met Familietyd. Hugo is ‘n voëltjie wat liefde en ondersteuning van die ander voëls nodig het, sodat hy sy vrees kan oorwin en besef dat hy kan vlieg. Of gesels oor die doop!  Bybel-Media het twee pragtige boekies oor die doop wat julle kan gebruik: Met jou doop, en Die avonture van Lisa en Timmy.

Die preekriglyn lei die teks in met die dokumentêre film A snake gives birth to a snake gebaseer op die Suid-Afrikaanse ervaring van versoening in die 1990’s. Die merkwaardige titel verwys na die antwoord wat geweldenaars dikwels in konfliksones verskaf wanneer gevra word hoekom hulle babas en jong kinders doodmaak. Wat mense se kultuur ook al is, is die antwoord altyd een of ander variasie van die titel: “Want ‘n slang gee geboorte aan ‘n slang.” Dit is skokkend dat so oor mense gepraat kan word. As jy jou vyand wil uitwis, as jy slange wil uitroei, moet jy die klein slangetjies ook uitwis. Ons teks vertel hoe die evangelie na die uitstorting van die Heilige Gees ook in Samaria kon posvat, spesifiek in só ‘n gebied. Daar aanvaar die Samaritane, wonder bó wonder, die Woord van God, en Petrus en Johannes word gestuur om te bid dat dié mense ook die Heilige Gees mag ontvang.

webbanners-Jul2015R-5

Share

Epifaniefees – 3 Januarie 2016 – Jesaja 60:1-6

Met Familietyd kan jy die pragtige fabel van “Star Bright” deur Alison McGhee vertel, van ‘n engeltjie wat graag iets vir Jesus wou gee en op die ou end die lig van die helder ster was wat die wyses gevolg het. Die preekriglyn begin met ‘n beskrywing van die tyd van Jesaja waarin nagdonkerte ‘n werklikheid was.  Ons verstaan eers werklik die impak van Jesaja 60 se simboliek as ons nou van tyd tot tyd sonder elektrisiteit en ander maklike maniere van ligmaak moet klaarkom. Lig is lewe. Lig is hoop. Dit is die kern van die boodskap wat Jesaja vir die volk kom gee.

Share
1 4 5 6