Eksodus 12:1-14 – Veertiende Sondag in Koninkrykstyd – 10 September 2017

Vertel die 10 plae vir die kinders op eenvoudige wyse. Daar is ’n Afrikaanse vertelling ingesluit met grafika. Jy kan ook die ekstra stof gebruik. Die doel is om by die tiende plaag uit te kom. Verbind dan die Paasfees (Passover) aan die tiende plaag terwyl die kinders proe aan gebreekte stukkies matzos, en ’n paar opgesnyde stukkies oorskiet braaivleis. Sorg dat dit sonder enige sout gebraai is, maar sprinkel met (bitter) kruie soos oreganum. Onderstreep hoedat die opoffering beteken het die eersgeborenes van die Israeliete “passed over” was. Die preekriglyn val direk weg met ’n beskrywing van die Paasfees. Dit is immers die woorde wat die groot verlossende drama beskryf waarin God vir Homself ‘n volk red en ‘n nuwe mensheid skep. Wanneer ons Eksodus lees, ontmoet ons God as die Verlosser van sy mense, ‘n versorgende God, ‘n teenwoordige God, by sy volk terwyl hulle op reis is van Egipte na Kanaän, van die plek van slawerny tot by die land van belofte en verlossing.

Daarom is die geskiedenis wat Eksodus vertel so belangrik. Die woord Eksodus beteken letterlik “‘n pad of weg uit”. Die boek vertel hoe God “‘n pad uit” vir sy volk voorsien het, hulle wat slawe in Egipte was. Die instelling van die Pasga veronderstel deurgaans dat gelowiges terugdink aan wat God in Egipte gedoen het. Die gelowiges dink ook toekomsgerig: hulle weet dat God hulle op die pad vorentoe sal bewaar, juis op grond van sy reddende dade in die verlede. Terwyl hulle die Pasga vier, hoop hulle ook op hul volkome verlossing, die beloofde land wat wag, die koms van die Messias en die heerlikheid wat God sal laat aanbreek. Geloof gebeur tussen herinnering en hoop. Ook in die Nuwe Testament is geloof ‘n balans tussen herinnering en hoop. Die Pasga is opgevolg deur die Nagmaal. In die nagmaal dink ons terug aan die grootste reddingsdaad van alle tye: Jesus se verlossing aan die kruis. Die tekens van brood en wyn herinner ons hieraan. Maar in die brood en wyn proe ons ook al reeds iets van die groot feesmaal wat met die tweede koms van Jesus sal aanbreek. Wat hou ons staande? Juis die praktiese viering van ons geloof in die hede.

Share

Eksodus 3:1-15 – Dertiende Sondag in Koninkrykstyd – 3 September 2017

Lees hierdie Skrifgedeelte met behulp van voorlesers soos aangedui. Daar is ook ‘n video-snit wat jy kan gebruik. Of gesels oor die betekenis van name as inleiding om oor God se naam te gesels. Daar is twee preekriglyne. Die eerste lei in met die verhaal van Peer Gynt wat ‘n doellose lewe gelei het as keiser van die self en selfsugtigheid. Hy sterf sonder God, omdat hy ‘n lewe sonder betekenis gelei het. Hy het God nie gehad nie, en het homself nie aan ʼn lewensroeping gewy nie. Eksodus 3 vul daardie gaping en is ‘n uitnodiging om die pad met God na lewensvervulling te loop. Die tweede preekriglyn fokus meer op wie die God is wat roep. In terme van hierdie ontmoeting tussen God en Moses kan ons ook oor onsself en God in ons tyd nadink.

Share

Matteus 16:13-20 – Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd – Barmhartigheidsondag – 27 Augustus 2017

Verduidelik die betekenis van die moeilike woord “barmhartigheid” aan die kinders … Dit beteken veral om vir iemand anders om te gee … Soos wanneer ’n maatjie geval het en daar is bloed aan sy knie- dit vir hom af te vee met ’n nat lappie en hom te troos … Soos om jou lekker broodjies vir skool met iemand te deel wat nie kos in sy kosblik het nie … Ons gee om vir ander mense omdat God eerste vir ons omgegee het! Hoor bietjie hoe het Matteus daaroor geskryf … Deel nou items/ lekkers uit ‘n “goody bag”uit vir die kinders … Maar die keer met ‘n ander doel- hulle moet dit in die week vir iemand anders gaan gee! Die preekriglyn begin met die kunswerk “Die Skepping van Adam” deur Michelangelo Buonarotti, een van die mees bekende Renaissance kunstenaars. Dit is ‘n fresko wat deel uitmaak van die Sistynse Kapel se plafon, waaronder die moment uit Genesis waar God vir Adam skep.

Sommige kenners sê die inspirasie vir die skildery kom uit die Middeleeuse lied Veni Creator Spiritus (Kom, Skepper Gees) wat bid dat “die vinger van die Vader se regterhand” woorde aan die gelowiges gee. Geen lewe is moontlik sonder dat God dit gee nie. Ons sou kon byvoeg: Geen insig, geen selfverstaan, roepingsbesef, ja, geen getuienis is moontlik sonder dat God openbaring, kennis, wysheid gee nie. Ons het geen lewe, geen begrip, geen benul van ons identiteit, ons gebrokenheid en ellende, en van God se liefde en verlossing, sonder dat God dit aan ons meedeel nie. Sonder God het ons nie eers woorde oor God nie, kan ons niks oor God bely nie. Ons het openbaring nodig. Gelukkig skenk God dit ruimhartig, soos die lewe self. Soos Jesus in ons teks aan Petrus sê: “Gelukkig is jy … want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou openbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.”

Share

Matteus 15:(10-20), 21-28 – Elfde Sondag in Koninkrykstyd – 20 Augustus 2017

Onthou, ons hoef nie altyd “morele lessies” uit veral die narratiewe van die Bybel te haal nie. Lees/vertel gewoon die skrifgedeelte op ’n manier wat kinders innooi. Laat twee mense hierdie week se Skriflesing doen – iemand lees die vrou se woorde en iemand anders Jesus se woorde. Hulle kan selfs die gedeelte opvoer. Jy kan ook Max Lucado se pragtige verhaal gebruik: “Al wat jy nodig het”.  Die preekriglyn begin met die waarskynlike lesers vir wie Matteus sy evangelie skryf. In hierdie gemeente was daar die eerste keer mense uit die heidendom, nie-Jode, ontvang. Dit het verskeie vrae en krisisse opgeroep.

In sy Evangelie roep Matteus die woorde en dade van Jesus in herinnering om die gemeente in Antiogië te help om Jesus te volg, om op te tree soos wat dit pas by leerlinge van Jesus, die Here. Hier gebruik hy die verhaal van Jesus se ontmoeting met ‘n Kanaänitiese vrou wie se dogter in die mag van ‘n bose of onrein gees was. Onmiddellik is al die grense tussen mense, wat soveel spanning in Matteus se gemeente geskep het, weer aan die orde. Dit is die grense tussen Jood en heiden, man en vrou, siek en gesond, heilig en demonies, die ou geslote Joodse benadering en die nuwe benadering wat Jesus gebring het. Jesus se hantering van dié vrou het ‘n voorbeeld vir hulle geraak hoe om gelowiges uit die heidennasies te hanteer, soos dit ook vandag vir ons ‘n voorbeeld is.

Share

Matteus 14:22-33 – Tiende Sondag in Koninkrykstyd – 13 Augustus 2017

Gesels as inleiding tot die teksgedeelte oor wat als op die water kan loop aan die hand van die ingeslote voorbeelde. Lees dan die teks en gesels oor die wonder daarvan. Die preekriglyn begin met ‘n verhaal van ‘n tjokkaboot wat omgeslaan is en die ontberinge van die vissers. Die see is nie speletjies nie. So het die Jode in Jesus se tyd ook geweet die see is nie speletjies nie. Die see was ‘n ruimte van bedreiging en onsekerheid, die tuiste van gevaarlike magte. Dalk is dit een van die redes waarom die dissipels nie gelukkig was met die idee om sonder Jesus met die skuit in die nag na die oorkant te vaar nie. Hulle vrese vir die see word bewaarheid met die storm wat opsteek. Jesus se verskyning aan hulle en veral die rol wat Petrus daarin speel, bring hulle by ‘n aangrypende belydenis: “Waarlik, U is die Seun van God”. In ‘n dobberende skuit onthul Jesus die fondament van die Christelike geloofsgemeenskap!

Share

Matteus 14:13-21 – Negende Sondag in Koninkrykstyd – 6 Augustus 2017

‘n Heerlike ware storie om te vertel, is dié van Wangari Maathai wat Kenia se landskap verander het deur te begin met ‘n inisiatief wat met meer as 30 miljoen bome wat aangeplant is Kenia se landskap verander het.   In 2004 word sy die eerste vrou uit Afrika om die Nobel Vredesprys te wen. Daar is ‘n pragtige storieboek vir Kindle beskikbaar wat haar storie vertel – kyk die video daarvan hier. Of vertel die storie in jou eie woorde! Die preekriglyn sluit by die voorloper verhale van Jesus se broodvermeerderingswonder uit 2 Konings 4 deur die bediening van die profeet Elisa.

Hierdie verhale verteenwoordig God se belangstelling in die alledaags lewe en nood van mense. God skep ‘n wêreld waarin daar voorsiening gemaak word vir mense se uitdaging om in moeilike omstandighede te kan leef. God is die Lewegewer, die Gasheer wat lewe op aarde moontlik maak. Die man van God, Elisa, is die agent van God waardeur God se genade bemiddel word. Op hierdie manier word die mag, heerlikheid, liefde en versorging van God openbaar. Dit is die lewe wat in die koninkryk van God deur die bediening van Jesus Christus moontlik word. Ons moet weet dat God vandag nog in die konkrete behoeftes van mense belang stel én daarin voorsien.

Die mense se honger was werklik, maar dit word in die wyer konteks van die evangelieverhaal ook simbolies van ‘n dieper honger. In beide soorte honger kan die mense nie voorsien nie. God gryp egter self in deur Jesus wat uit egte medelye die brood breek. Terselfdertyd is die broodbreking ook ‘n magsverklaring van die Messias wat in absolute sin in mense se behoeftes voorsien. In die Here se hande verander die klein gawes en word dit baie. Op hierdie pad moet die kerk self eers verander word. Dit doen God ook: Voordat die dissipels vir die honger skares “iets kon gee om te eet”, moes Jesus egter eers hulle weerstande oorwin. Jesus bevry mense tot egte mededeelsaamheid!

Share

Matteus 13:31-33, 44-52 – Agste Sondag in Koninkrykstyd – 30 Julie 2017

Carolyn Brown suggereer dat ’n mens die ses gelykenisse deur verskillende persone laat voorlees met ’n verteller wat die inleiding en opsomming doen. Elkeen kan hulle gelykenisse illustreer met die onderskeie items wat daarin genoem word. Die preekriglyn lei die gelykenisse in met ‘n verduideliking van hoe vars produkte deur ‘n proses van gisting gaan. Kortom: gefermenteerde kos is ongelooflik gesond vir die menslike liggaam. Veral spysvertering en die bekamping van verskeie dermkanaalsiektes baat by gefermenteerde voedsel. Hierdie natuurlike en gesonde gistingsproses laat mens aan die koninkryk van die hemel dink. Sonder dat jy veel sien gebeur, oor tyd, stadig, kom die koninkryk. Dit word uit skynbaar onbenullige bestanddele gebore, maar groei met groot krag. Uiteindelik kan dit nie geïgnoreer word nie.

Share

Matteus 13:24-30, 36-43 – Sewende Sondag in Koninkrykstyd – 23 Julie 2017

Die gelykenisse – soos die verhalende tekste – kan gewoon vir kinders vertel of uit ‘n kindervriendelike Bybel gelees word. Jy kan ook mense laat deelneem tydens die Skriflesing. Gebruik papierborde met kwaai en vriendelike gesiggies om die goeie en slegte saad te illustreer. Jy kan ook prente van verskillende plante wys en vra of dit onkruid is of nie. Jy kan ook die storie van Scardey Squirrel (Amazon) gebruik of die ingeslote skakel na ‘n video-voorlesing daarvan. Die preekriglyn begin met die verhaal van die ma wat haar tienerseun sover gekry het om te help onkruid uittrek. Soos ma’s maar maak, gee sy haar seun ordentlik instruksies oor wat om te doen. Waarop die seun opgemerk het: “Ek red net die blomme van onkruid, ek is nie die blommetjies se sielkundige nie.”

Ons gelykenis vertel die verhaal van ‘n saaiboer waardeur Jesus met ons oor die koninkryk van God praat. Saam met die werklikheid van God se ryk is daar ook die werklikheid van vyandskap, teenstand en onkruid. Die gelykenis vertel dat kinders van die koninkryk rekening moet hou met die kwaad rondom hulle in die wêreld. In hierdie gelykenis laat God die goeie en die kwade toe naas mekaar, tot die voleinding van die wêreld. God se boodskap is dat Hý die kwaad sal uitroei. Aan die einde sal die skeiding kom. Aan julle vrugte sal julle geken word. Dié wat struikeling veroorsaak het en die wetteloses sal eenkant gesit word. Hulle wat daardie keuse gemaak het, sal vernietig word. ‘n Verskriklike lot sal hulle tref – ‘n vurige oond! Julle is in die wêreld gesaai – en daar is ook ander saad. Sorg net dat jy groei! Laat jou lig skyn. Jou lig is nou nog klein – eendag op die dag van die Here, sal julle so helder soos die son skyn!

Share

Matteus 13:1-9, 18-23 – Sesde Sondag in Koninkrykstyd – 16 Julie 2017

Vra vir die kinders wie van hulle al boontjies in watte laat ontkiem het. Vra vir die kinders wat ’n mens moet doen om saad te laat ontkiem? Brei uit op die lug, vog, warmte, en tyd wat nodig is. Dieselfde geld die saad van die woord. Laat die kinders oor die 4 noodsaaklikhede praat en waarvandaan dit in die geloofsfamilie kom. Die preekriglyn sluit aan by die droogte van 2016 wat steeds ’n groot effek het op ons land. Dit help ons om die gelykenis van die saaier op ‘n baie diep vlak te verstaan. Ons ken die teleurstelling van saad wat nie ‘n oes oplewer nie, maar ook die vreugde van saad in goeie grond wat dertig-, sestig- of honderdvoudig oes oplewer. Wanneer die oes ons verwagtinge te bowe gaan, is die vreugde en dankbaarheid teenoor die Gewer van alle goeie gawes, veral reën, sonskyn en vrugbare grond, uitermate groot. Moeder Theresa van Kalkutta het dit raak gevat: “God roep ons om getrou te wees. nie suksesvol nie.” Saaiers wat voortdurend rekening hou met hulle eie identiteit as saailand kan die lewe kwalik anders aanpak as met die oog gevestig op Hom. Daarom: “laat dié wat ore het, hoor.”

Share

Genesis 24: 34-38, 42-49, 58-67 – Vyfde Sondag in Koninkrykstyd – 9 Julie 2017

Vertel gewoon die storie! Lees dit uit ‘n lekker kinderbybel. Daar is ‘n powerpoint met lekker prente van die hele verhaal, wat jy net so kan gebruik, ook ‘n paar ander opsies vir aktiwiteite vir kinders. Die preekriglyn begin met die feit dat hierdie teks is ‘n heerlike vrou-soek verhaal is, maar terselfdertyd ook duidelik ‘n verhaal is van God wat in dit alles die leiding neem en ‘n vrou vir Isak gee wat by hom kan pas sodat hy die rol kan speel wat God in die heilsgeskiedenis vir hom beplan het.

Soos Abraham die gasvrye een gewees het in die vorige geslag sou Rebekka dit nou wees in die volgende geslag. Haar gasvryheid sou verseker ook haar skoonpa se goedkeuring weggedra het! Soos die verhaal ontvou, kan ons onsself, ons foute en tekortkominge, maar ook ons eie passie, soeke, hoogtepunte en sterkpunte ontdek. Ons kan opnuut weer leer wat dit beteken om God te vertrou, God se wil te soek, en saam met familie en lewensmaats te leef.

Share
1 2 3 4 5