Openbaring 1:4b-8 – Sewe en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Sondag van Christus die Koning – 25 November 2018

Dit is die laaste Sondag van die kerkjaar. Die Sondag van Christus die Koning. Dit is dáárom heel gepas om vir die kinders te demonstreer dat Jesus die Here van alles is, die Eerste en die Laaste. Speel ’n Alfabet-speletjie om die idee op ‘n bevatlike manier oor te dra in Familietyd. Ons teks vestig die aandag op die persoon van Christus wat met God self vereenselwig word. Dieselfde beskrywings wat vir God gebruik word (Alfa en Omega; Eerste en Laaste) word ook vir Christus gebruik. Net soos God, is Christus ewig, sonder begin en einde. God se koms na die aarde toe, val saam met Christus se wederkoms.

Christus het God sigbaar gemaak. Daarom word Christus ook aanbid. Ons fokus dus by hierdie feesdiens op die boodskap van oorwinning deur Christus en sy aanbidding deur die gelowiges. Ons stap eers as’t ware deur ons teksgedeelte om hierdie agt verse te verken. Daarna gee ons aandag aan die betekenis daarvan – dat die werklikheid van die wederkoms elke gelowige aanspoor om geestelik waaksaam te wees. Aan die einde van die kerklike jaar, op die drumpel van Adventstyd, spoor hierdie teks ons aan tot lof en aanbidding van Jesus Christus wat op die wolke kom.

Share

1 Samuel 2:1-10 – Ses en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 18 November 2018

Hoewel vandag se fokusteks gaan oor Hanna se gebed, kan dit goed werk om die hele verhaal van Hanna op ‘n kreatiewe manier te vertel. Hulpmiddels ingesluit. Kinders voel dikwels soos die “geringstes”, soos die mense wat eenkant of onsigbaar is. Dit is ‘n sterk lyn in Hanna se gebed (soos ook in dié van Maria) dat God die onderdrukte, geringste, die wat honger is, die armes raaksien en beskerm. Herinner die kinders dat God hulle spesiaal raaksien en vir hulle omgee. Hierdie is ook ‘n goeie geleentheid om te gesels oor gebed. Die preekriglyn werk met die verhaal van Marsha Mark en haar eggenoot vir wie die dokter gesê het dat hulle nooit hul eie kinders sal kan hê nie. Diep teleurgesteld het Marsha nogtans aan ‘n vriend se woorde vasgehou: “Op een of ander manier gaan God julle stryd tot sy eer gebruik.” Marsha het begin bid om iets van die glorie van God raak te sien … en Amanda is op 22 Oktober daardie jaar gebore. “Ons noem haar ‘Wonderwerk Mandie’,” sê Marsha.

Dit gee ‘n goeie inleiding om oor Hanna, eens ‘n kinderlose vrou, se jubelgebed omdat die Here vir haar ‘n seuntjie gegee het, te gesels. Marsha Mark is tereg so opgewonde oor die dogter wat sy wonderbaarlik ontvang het. Hanna neem dit verder. Sy is nie net dankbaar oor Samuel nie. Sy verheug haar oor wie die Here is. Sy is nie net dankbaar oor wat God gedoen het nie, maar ook wat God gaan doen. Die troos van die lewe lê in God. In wie God is. In wat God gedoen het. En in die toekoms saam met God.

Share

Hebreërs 9:24-28 – Vyf en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 11 November 2018

  Met Familie-tyd kan jy met die kinders gesels oor die Eiffel toring in Parys en die betekenis daarvan vir die Franse (foto’s ingesluit). Dit gee ’n goeie aanleiding om daarna oor die tabernakel en sy betekenis te gesels. Die preekriglyn fokus op die evangelie van Jesus Christus wat deur die Hebreërbrief aan sy lesers tuisgebring word op ’n unieke manier aan mense in hulle unieke omstandighede. Dit is gerig aan mense wat deur geloofsbeproewing gaan en die gevaar loop om deur vertwyfeling en wanhoop hulle visie op Jesus Christus te verloor. Hierdie hoop vind sy krag in die feit dat Hy in kontras met die ou verbond, Jesus die volmaakte offer gebring het wat vir ons ‘n anker is vir ons verwagting van ‘n toekoms by God.

Share

Hebreërs 9:11-14 – Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 4 November 2018

Carolyn Brown sê tereg dat die aanvanklike lesers van hierdie teks bekend was met diere-offers. Vir kinders, wat letterlike denkers is, is die konsep van offers gewoon te moeilik om te verstaan. As jy dit egter wel wil waag om hierdie teks met kinders te behandel, begin by ‘n eenvoudiger vertaling. Gesels dan oor die betekenis van bloed in families en Jesus se bloed wat ons skoon was soos water (doop). Of sluit aan by die konsep van “gewete” waarna in die preek verwys word. Hebreërs is ‘n preek wat moeë gelowiges van voor af sterk maak (Stephan Joubert). Hulle het baie teenstand beleef en die Hebreërbrief moedig sy eerste lesers aan om nooit moed op te gee nie. Hulle moet volhard, want Christus kom weer. Hulle swaarkry is nie die einde nie.

Die brief bemoedig die lesers deur van hulle goeie kennis van die Ou Testament gebruik te maak. Om in Jesus te glo en Hom te volg is om op ‘n geloofsreis te wees. Hulle is soos die rondreisende Israeliete in die woestyn. Die gevaar is dat hulle God se groot Sabbatsrus sal misloop – soos die Israeliete – deur handdoek in te gooi. Die groot skare getuies uit die Ou Testament moedig gelowiges aan om trou aan die Here te bly. Hoe sal die gelowiges dit regkry om te volhard? Hulle moet aan Christus vashou as die gesag-hebbende spreekbuis van God. Hulle moet Christus se reddingswerk reg begryp. Hulle moet vashou aan Hom as die enigste Hoëpriester wat ‘n nuwe verbond tot stand gebring het. Christus is die Begin en die Einde van hulle geloofspad.

Share

Markus 10:46-52 – Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 28 Oktober 2018

Gesels met die kinders oor hoe dit voel jy as jou ma/pa jou roep. Of as jy hulle stem hoor? Gesels oor verskillende situasies. Om Jesus se stem te hoor, is egter altyd lekker. Dit maak nie saak wat die omstandighede is nie, want Hy roep om mense gesond te maak en te help. Dis presies wat die dissipels van Jesus geweet het. Hulle sê vir die blinde: Hou moed! Staan op! Hy roep jou. Die preekriglyn begin met die lied Amazing grace! Hierdie woorde uit die pen van John Newton (1725-1807) word vandag nog reg rondom die wêreld gesing. Dit is gebore uit sy persoonlike ervaring. Die lied het ‘n eenvoudige boodskap. Vergifnis en verlossing is moontlik, ten spyte van ‘n sondige lewe. Dit is God se verrassende genade wat mense red, hoe verlore ook al. Hoe blind ook al en vasgevang in wat verkeerd is, kan God mense aanraak en laat sien. Uit sy eie getuienis was John Newton blind, maar God het hom aangeraak en hom laat sien.

Share

Psalm 104:1-9, 24, 35c – Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 21 Oktober 2018

Koos van der Merwe van Prophet het n.a.v. Psalm 148 hierdie Psalm, getiteld “asems” geskryf, teks ingesluit. Verduidelik dat die Psalm God loof as skepper wat die aarde bewoonbaar gemaak het (kyk in die preek). Skryf dan saam julle eie Psalm! Hierdie is ook ’n ideale geleentheid om te praat oor ons verantwoordelikheid teenoor die skepping, om na die natuur om te sien. ’n Heerlike storie wat jy altyd kan gebruik wanneer dit gaan oor die versorging van die skepping, is die van Wangari Maathai, wat die “Green Belt Movement” begin het deur 9 boompies in haar agterplaas te plant.

Uiteindelik is daar 30 miljoen bome in Kenya geplant, 80 000 mense se inkomste het vermeerder en die beweging het oor 30 lande in Afrika versprei. Die preekriglyn begin met die pragtige gedig van die Sweedse digter Carl Gustav Boberg: “O Sture Gud” (1885) wat wêreldwye aanklank gevind met die refrain: Dan moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U, hoe groot is U! Want deur die hele skepping klink dit saam Hoe heerlik Heer U grote Naam! Deur eksegeties deur die ses dele van die Psalm te werk kan die boodskap gebring word dat al is God vir baie gelowiges prakties afwesig, wil die Psalm ons weer in verwondering voor Hom laat staan en besef dat alles hulle lewe uit God se hand ontvang.

Share

Hebreërs 4:12-16 – Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 14 Oktober 2018

Julle speel krieket en jy kry ‘n lekker harde hou in – maar, o aarde, die bal trek reguit oor die heining en jy hoor glas breek. Jy besef die krieketbal is deur een van die bure se vensters. Almal hardloop en gaan kruip weg, hulle is bang dat die buuroom kwaai oor die muur gaan loer en met hulle raas. Jy kan nie hardloop nie, jy is lam van die skrik. Vensters is duur. Hoe gaan jy dit betaal? Jy besluit vinnig jy sal maar aanbied om die res van die jaar elke Saterdag die bure se motor te was. Toe besef jy een van jou maats wat saam gespeel het, Bennie, het nie weggehardloop nie. Hy staan by jou. Dis die bure se seun! Hy stel jou gerus dat hy met sy pa sal praat en verduidelik wat gebeur het. Hy kom terug en roep jou omdat sy pa met jou wil praat. Hy sê jy hoef nie bang te wees nie, maar jou broek bewe. Jy stap saam en jy kan nie glo wat jy sien nie. Sy pa is toe nie eens kwaad nie!

Bennie het aan hom verduidelik dat hulle gespeel het en dat dit ‘n ongeluk was. Sy pa sê jy hoef nie bekommerd te wees nie. Hy sal met die versekering reël dat die ruit vervang word. Jy hoef nie te betaal daarvoor nie. Baie verlig gaan jy terug, roep jou maats en julle speel verder krieket, maar hierdie keer is julle almal baie versigtig dat so iets nie weer gebeur nie. Dit is presies waaroor die fokusteks vandag handel. Daar is twee kragtige bewegings in ons teks: Verse 12-13: In die eerste beweging word vertel hoe die Woord van God ons voor God blootlê. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart, en ontbloot alles voor God; Verse 14 – 16: In die tweede beweging word ons na die genadetroon van die Hoëpriester, Jesus Christus, geneem. Waar ons wonde en gebreke in die eerste beweging blootgelê is, ontmoet ons in die tweede beweging die voorsiening wat God in Jesus vir ons sonde gemaak het.

Share

Hebreërs 1:1-4; 2:5-12 – Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 7 Oktober 2018

Die Seisoen van Luister preekstudie vir 2008 stel voor om ’n klomp goed te kry waardeur ons met iemand praat: ’n telefoon, selfoon, tweerigting radio, “pager”, megafoon, jy kan selfs die blikkies met toutjies in verduidelik en demonstreer. Praat dan oor die nadele daarvan. Net een op ’n slag kan praat. God het die beste manier waardeur hy met ons praat. Sy naam is Jesus en Sy praat was ook wys. Doen ’n demonstrasie met die volgende boodskap: “Ek is lief vir jou”. As jy tweerigting radio’s kan kry, gaan dit die beste effek hê.

Die boek Hebreërs is eerder ‘n preek, “‘n woord van aansporing”, as ‘n brief. Dit is ryk in simboliek, met ‘n duidelike fokus: volharding in die geloof. Die oproep in Hebreërs is direk en persoonlik. Dit moedig gelowiges aan om aan Christus te bly vashou en te volhard in geloof. Daarom begin Hebreërs met ‘n sterk bevestiging van wie Jesus Christus is. Dit gee ‘n omvattende en wonderbaarlike beskrywing van die wese en werke van die Seun van God. Hierdie beskrywing strek terugwaarts in die geskiedenis, tot by die skepping, en strek aan die ander kant vorentoe tot by die voleinding van alles. Die Hebreërbrief se getuienis oor Jesus laat mens met verwondering oor God en Jesus. Dit is verstommend dat God in Jesus op die aarde aangekom en vir ons verlossing bewerk het. Dit is verruklik dat Jesus ons Broer en Leidsman na die lewe is. Daarom is ons diepste en hoogste lofprysing aangewese reaksie op hierdie teks.

Share

Ester 7:1-6, 9-10 – Negentiende Sondag in Koninkrykstyd – 30 September 2018

’n Skakel na ‘n pragtige video met die verhaal van Ester is ingesluit vir Familietyd. Die preekriglyn skets eers die agtergrond van die verhaal voordat die gebeure by Ester se maaltyd vir die koning en Haman op die tafel kom. Dit is hooggespanne oomblikke. Hierdie paar momente gaan bepaal wie lewe en wie sterwe. Vir Ester is daar nie meer omdraaikans nie. Deur Haman as die vyand te identifiseer, identifiseer sy haarself as ‘n Jood. Sy plaas haarself ook onder die koning se bevel dat die Jode uitgeroei moet word. Die koning kies om haar te spaar en só ook haar volk. Haman het vir Mordegai ‘n gat gegrawe. Nou val hyself daarin. Dit gee ons ‘n perspektief op boosheid. Haman se plan is hoe die werklikheid van boosheid lyk. Haman gebruik sy invloed en mag om dood te bring. In Haman se val sien ons egter hoe God se heil en bedoelinge om redding te bring, ‘n nuwe toekoms, voortgaan. Haman illustreer ook dat mens versigtig moet wees om te haat en ander se ondergang te soek.

Die diepste indruk wat die boek laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur. God se hand is in alles teenwoordig, verborge en amper onopvallend, maar werklik en deurslaggewend. Hy laat die regte ding op die regte tyd gebeur, want Hy wil: “alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom. 8:28). Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense, ook jou eie keuses. Ons noem dit God se voorsiening. Hy IS die voorsienigheid! Buitengewone toevallighede is eintlik Godsvallighede!

Share

Spreuke 1:20-33 – Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd – 16 September 2018

Die fokusteks oor wysheid is moeilike materiaal om met kinders te hanteer. Miskien kan jy doodgewoon vir hulle die storie van ’n wyse man te vertel… Salomo! Brei uit oor hoe die Here hom wysheid gegee het by Gibeon en die effek daarvan in sy lewe. Die preekriglyn begin met die vraag na die wysheid. Hoe steek die lewe inmekaar? Wat is die diepste geheim van ‘n gelukkige lewe? Waar vind ons die praktiese vaardigheid om verstandig en wys op ons lewensreis te gaan? Hoe kan ons tussen al die onsekerhede van die lewe deur stuur op ‘n manier wat ‘n betekenisvolle lewe verseker, sonder om oorversigtig of sinies te raak? Waarin lê die wysheid om goed te leef? Die antwoord lê paradoksaal daarin om wysheid weg te gee, sodat ons wysheid kan bekom. Want, wysheid begin met ontsag vir God. Die Here se gebooie is ons bakens op die wyse lewensweg. Dit is die lewenskeuse wat ons moet maak.

Share
1 2 3 6