Markus 15:1-39, (40-47) – 25 Maart 2018 – Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag

Hierdie is weer een van daardie geleenthede waar jy gewoon die verhaal van die Bybel kan vertel. Ons gee verskillende opsies van videos wat jou daarmee kan help. Daar is ook ‘n opsie om met “stil-akteurs” die onderskeie gedeeltes van die narratief uit te beeld. Die preekskets werk met Markus 15:1-47 as tekskeuse en fokus op die viering van Palmsondag, ‘n dag van kontraste. Ons ervaar aan die een kant die vreugdevolle uitbeelding van lojaliteit aan Jesus wat in die Naam van die Here kom (Intog in Jerusalem).

Tog is die Hosanna-uitroepe bedek met die skaduwee van die kruisiging wat voorlê. Die gemeente ervaar opnuut haar eie konfrontasie met die teenstrydighede van ons eie deelname in die triomfantelike intog en lyding (passie) van ons Here. Daar is ook duisternis binne ons. Die lydingsverhaal word in drie bewegings vertel met vele karakters. Dit laat ‘n mens diep nadink oor wie Jesus werklik is.

Share

Johannes 12:20-33 – Vyfde Sondag in Lydenstyd – 18 Maart 2018

Die X-Men is “mutants” – mense wat met spesiale “super-powers” gebore word. Omdat hulle hierdie spesiale kragte het, is hulle helde wat ander mense help. Die mense van Jesus se tyd het ook van helde gehou! Hulle het gedink Jesus was ‘n held wat die slegte mense sou vernietig. Daarom wou hulle hom graag sien. Ons dink ook dikwels, soos die mense van Jesus se tyd, dat ons spesiale kragte nodig het om helde te wees. Jesus leer vir ons dat ‘n held anders lyk. Hy oorwin slegte mense deur hulle lief te hê – selfs al kos dit sy lewe! Miskien het ons nie “super powers” soos die X-Men nie, maar ons het ‘n geheime krag – Jesus se liefde vir ons!

Daardie krag help mense wanneer dit ook vir hulle nodig is om baie op te gee om ander te help. Die preekriglyn lei in met ‘n focus op fotografie, die wyse waarop kontras uitsonderlike foto’s tot gevolg het. Die Johannesevangelie is ‘n grafiese evangelie, propvol ironie. Die doel van die evangelie is om geloof te bewerk in Jesus Christus as die Seun van God en deur Hom toegang tot die ewige lewe te verkry.

Share

Johannes 3:14-21 – Vierde Sondag in Lydenstyd – 11 Maart 2018

Johannes 3:16 is van die bekendste verse in die Bybel, maar die kanse is goed dat die meeste kinders dit nog nie ken nie. So memoriseer dit saam! Jy kan ook vir elke lidmaat ‘n groot leë kruis gee wat op ‘n vel papier gedruk is. Laat almal ‘n klomp name daarop skryf van mense vir wie die vers waar is – ook hul eie name. Die preekriglyn begin met die feit dat Johannes se eerste lesers, mense uit die Grieks-Romeinse wêreld, dit ‘n ondenkbare en rewolusionêre gedagte was: dat God mense kan liefhê. In ons tyd het hierdie vers en boodskap oorbekend geraak.

Die teks word ook konteksloos aangehaal. Die gebeure en gesprek waaruit dit kom, word weggelaat. Wanneer dit gebeur, kan ons verstaan van God se liefdespad met die wêreld skraler en vlakker raak as die wonderlike diepte wat dit eintlik verteenwoordig. Fokus met hierdie preek om die konteks te gee vir die verhaal sodat die impak hiervan weer nuut deur ons in hierdie wêreld geleef en verkondig kan word.

Share

Johannes 2:13-22 – Derde Sondag in Lydenstyd – 4 Maart 2018

Vestig die aandag op die skoene by die kruis. Nooi kinders om van die skoene aan hulle voete te trek en te dink hoe dit voel om in iemand anders se skoene te moet staan. Lei die gemeente om daaraan te dink hoe ons elke jaar Lydenstyd uit gewoonte vier. Dink daaraan hoe dit sou voel om in Jesus se skoene te moes staan. Of dramatiseer die verhaal aan die hand van die teks. Daar is inligting ingesluit oor die verskillende ruimtes by die tempel. Die preekriglyn begin met die verhaal van Michelangelo wat In die vroeë 1500’s vir vyf jaar op sy rug gelê het om Bybelse tonele teen die plafon van die Sistynse kapel in Rome te verf. Die besondere kunswerk het egter feitlik onmiddellik begin verdof, veral weens die gebruik van rokerige olielampe om die gebou te verlig.

In 1981 het Fabrizio Mancinelli en Gianluigi Colalucci ‘n klein hoekie van die skilderwerk versigtig met ‘n spesiale vloeistof gewas. Toe het hulle kunskenners uitgenooi om die werk te kom ondersoek. Almal was verstom. Niemand het kon dink dat sulke manjifieke kuns en kleure agter eeue se vuil verskuil was nie. In sy volle glorie herstel, moes kunskenners anders oor Michelangelo skilderwerk begin dink. Tot nou toe het sy skilderye soos beeldhouwerk gelyk, met uitstekende vorm maar dowwe kleur. Skielik was dit duidelik dat Michelangelo ook meesterlik met kleur kon werk. Goeie skoonmaak het wonderlike effek. Dit herstel die oorspronklike bedoeling met die kunswerk. Dit gee ‘n uitstekende inleiding om oor die teks te gesels en Jesus wat die tempel op dieselfde wyse “skoonmaak”.

Share

Romeine 4:13-25 – Tweede Sondag in Lydenstyd – 25 Februarie 2018

Hierdie is ‘n goeie geleentheid om die verhaal van Abraham te vertel, as agtergrond vir die fokusteks. Daar is skakels na videos om jou te help. Kinders kan tydens die diens sterre uitknip en versier, en tydens die dankoffer by die preekstoel kom neersit, om ons te herinner aan God se beloftes. Julle sal ook lekker kan speel met goue ster-plakkers. Jy sou dit kon verbind aan die doop en ‘n sterretjie op elke kind se voorkop plak. Daar is ook oulike inkleurprente van Abraham. Die preekriglyn begin met ‘n inleiding oor die pragtige berge in die Karoo. Maar dan is daar die Himalajas. Hulle staan tussen al die ander berge en bergreekse op aarde uit. Die grootse Piek Everest troon oor die Himalajas.

Daar is nie nog so ‘n berg en nog so ‘n bergreeks nie. Soos Paulus se Romeinebrief tussen al sy briewe uittroon. Dit is die Himalajas, die Everestpiek, van die Nuwe Testament. Hier ontmoet ons onvergelykbaar helder vir God, die Vader van Jesus Christus, en vir Jesus Christus self, deur die krag en gawe van die Heilige Gees. En word ons vervul met diepe verwondering oor wie God is en wat God doen. Romeine is ‘n bergpiek-ervaring veral soos hy skryf oor dat God in die sterwe en opstanding van Jesus handel om mense in ‘n herstelde verhouding met God te kry. Hierdie verhouding staan as geloof bekend. Hierdie geloofsverhouding is vir alle mense, Jode en heidene, etniese Jode en nie-etniese Jode, moontlik.

Share

1 Petrus 3:18-22 – Eerste Sondag in Lydenstyd – 18 Februarie 2018

Vandag gesels ons in Familietyd oor krone. Konings en koninginne dra soms krone wat iets weerspieël van hulle belangrikheid. Koningin Elizabeth II van Engeland is bv baie spesiaal (foto). Kom ons praat nou oor Jesus se kroon … dit was ’n doringkroon … want Jesus is die seun van God wat vir ons aan die kruis gesterf het. In die preekriglyn begin ons met ‘n ou Christelike tradisie, dat Jesus na sy lyding en sterwe aan die kruis die doderyk besoek om sy oorwinning oor Satan, sonde en dood aan te kondig. Die Anastasis-fresko in die bekende Kariye-museum in Istanbul beeld hierdie besoek uit. Soos ons teks, is die Anastasis-fresko ‘n belydenis oor Jesus Christus. Maar Petrus se gedagtes oor Jesus se besoek aan die geeste in die gevangenis is moeilik te verklaar. En dit word boonop via die ark verbind aan die doop. Mens kan dus in jou uitleg maklik op syspore beland.

Dit is egter nie die kern van ons teks of die Nuwe Testament se verkondiging oor Jesus nie. Vir ons teks is Jesus die onskuldige Verlosser wat vir ons skuld gely het, sodat Hy ons kan verlos. Hy maak ons vry van dood en boosheid en bring ons in die regte verhouding met God. Sonder dat ons dit verdien. Dit is wat die Anastasis-fresko vier. Vandag is ons fokus dus op Jesus, die Een wat onregverdig gely het, sodat ons in ‘n verhouding met God kan leef en die belofte van ‘n heerlike toekoms met God het. Lyding het nie die laaste woord in die wêreld se geskiedenis nie. Die vrug van Jesus se lyding en sy opstanding – wat ons en ons wêreld se opstanding waarborg – spreek die laaste woord. Aangesien ons Christus voor oë hou, word ons nie deur lyding en swaarkry ontspoor nie.

Share

Markus 9:2-9 – Sesde Sondag ná Epifanie (Verheerliking) – 11 Februarie 2018

Betrek die kinders deur die hele liturgie, sodat hulle kan deelneem aan die verheerliking van hierdie Sondag. Gesels oor die verskillende maniere waarop ons na Jesus luister: deur Bybel te lees, deur te bid en deur te luister wanneer ander vir ons vertel van Jesus. Die preekriglyn sluit by die voorbeeld van ‘n rit met die Tafelbergse kabelkar aan en die verskillende perspektiewe wat dit ‘n mens gee. Tweeduisend jaar gelede is daar ook ‘n groepie teen ‘n berg uit – nie met ‘n kabelkarretjie nie, maar op uitnodiging van hulle leier. Vir ‘n vlietende sekonde gee Hy vir hulle ‘n kykie in die toekoms. Tog is die fokus uiteindelik op hulle gehoorsaamheid om sy lydensweg te volg. Die week wat kom, is die begin van lydenstyd, dié tyd van die kerkjaar waar ons saam met Jesus sy lydensweg volg. Waar ons onsself saam met Hom op die nou pad van gehoorsaamheid gaan bevind. ‘n Pad wat op Goeie Vrydag in April by ‘n kruis tot stilstand gaan kom. ‘n Pad wat beteken dat ons bereid moet wees om met die kabelkar af te sak na die stad, moue op te rol en aan die werk te spring.

Share

1 Korintiërs 9:16-23 – 4 Februarie 2018 – Vyfde Sondag ná Epifanie

Vir Familietyd lees die teks in die eenvoudiger vertaling wat ons verskaf en gesels met die kinders oor die drie voorbeelde van alledaagse situasies waar christene by ander kulture aanpas. Jy kan ook die verhaal van Gladys Aylward wat aan die einde van die preekriglyn aangehaal word. Daar is ook ‘n skakel na ‘n video van die fliek wat oor haar verhaal gemaak is. Die preekriglyn begin met Paulus se roepingsverhaal en gebruik dit as ‘n meesterverhaal vir ons eie roeping, om “vir almal alles te word om in elke geval sommige te red“. Dit word geïllustreer met die verhaal van Gladys Aylward.

Share

1 Korintiërs 8:1-13 – 28 Januarie 2018 – Vierde Sondag ná Epifanie

‘n Letterlike vertaling 1 Kor. 8:1b sal iets wees soos: Kennis blaas op, maar liefde bou op. Jy kan lekker gesels oor hoe arrogansie mense op en hoe liefde opbou. Daar is opsies vir ‘n volledige poppekas, ‘n illustrasie met ballonne en die pragtige storie van Rupert Can Dance. Daarna kan kinders springmielies (opgeblaaste mielies) eet, of rice crispies. Of hulle kan gesiggies op ballonne teken, maar dan gaan jy vinnig moet preek voor die ballonne begin bars! Die preekriglyn verwys terug na die boodskap van 1 Korintiërs 6: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is heilsaam nie”.

Ons teks in 1 Korintiërs 8 is ‘n voorbeeld van hoe hierdie riglyn toegepas word in ‘n probleemsituasie in Christus se gemeente. Hoe weet mens wat heilsaam en opbouend is? Wat is die toets wat jy daarvoor gaan gebruik? In vandag se teks is heilsaamheid dit wat opbouend vir die geloofsgemeenskap is. Die kwessie waaroor dit gaan is vleis wat aan afgode geoffer is. Min, indien enige, gemeentes worstel vandag met hierdie kwessie. Die beginsel wat Paulus neerlê geld egter vandag net so vir ons. Dit is net so aktueel soos wat dit was onder die lede van die gemeente in Korinte in die eerste eeu n.C.

Share

1 Korintiërs 7:29-31 – 21 Januarie 2018 – Derde Sondag ná Epifanie

Lees met Familietyd die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders en Koppel dit aan dieselfde taal wat Paulus in Kolossense 3 gebruik. Soek dan die gemerkte sleutelwoorde wat in die ingeslote diagram weggesteek is. Die preekriglyn begin met die verhaal van Simeon die Stiliet (390 – 459 n.C.) wat vir meer as 30 jaar op ‘n klein platform op ‘n groot pilaar naby Aleppo Sirië gewoon het. Sy sentrale doel was om die wêreld te ontvlug en toegewy aan God te leef. Vir Simeon was dissipelskap om uit die wêreld weg te vlug. ‘n Moderne Simeon sal dalk solank ‘n kaartjie Mars toe wil bespreek.

Is dit wat die Here van ons vra? Paulus se woorde in ons Skrifdeel klink amper asof hy ons aanmoedig om so te begin lewe. Is dit beter om jouself aan die wêreld te onttrek? Is dit wat Paulus sy lesers leer? As ons dit so verstaan, mis ons die basiese boodskap van wat dit beteken om ‘n Christen in God se wêreld te wees. Paulus maak een van die eenvoudigste en tog van die belangrikste punte vir ons Christelike lewe: Ons bestaan in hierdie wêreld moenie gekenmerk word deur verknogtheid aan en beheptheid met die wêreld nie, nie aan die vreugdes en hartseer wat die wêreld ons bied nie, maar deur ons algehele toewyding aan God. Daarvoor span hy die voorbeeld van die huwelik in.

Share
1 2 3