Markus 9:2-9 – Sesde Sondag ná Epifanie (Verheerliking) – 11 Februarie 2018

Betrek die kinders deur die hele liturgie, sodat hulle kan deelneem aan die verheerliking van hierdie Sondag. Gesels oor die verskillende maniere waarop ons na Jesus luister: deur Bybel te lees, deur te bid en deur te luister wanneer ander vir ons vertel van Jesus. Die preekriglyn sluit by die voorbeeld van ‘n rit met die Tafelbergse kabelkar aan en die verskillende perspektiewe wat dit ‘n mens gee. Tweeduisend jaar gelede is daar ook ‘n groepie teen ‘n berg uit – nie met ‘n kabelkarretjie nie, maar op uitnodiging van hulle leier. Vir ‘n vlietende sekonde gee Hy vir hulle ‘n kykie in die toekoms. Tog is die fokus uiteindelik op hulle gehoorsaamheid om sy lydensweg te volg. Die week wat kom, is die begin van lydenstyd, dié tyd van die kerkjaar waar ons saam met Jesus sy lydensweg volg. Waar ons onsself saam met Hom op die nou pad van gehoorsaamheid gaan bevind. ‘n Pad wat op Goeie Vrydag in April by ‘n kruis tot stilstand gaan kom. ‘n Pad wat beteken dat ons bereid moet wees om met die kabelkar af te sak na die stad, moue op te rol en aan die werk te spring.

Share

1 Korintiërs 9:16-23 – 4 Februarie 2018 – Vyfde Sondag ná Epifanie

Vir Familietyd lees die teks in die eenvoudiger vertaling wat ons verskaf en gesels met die kinders oor die drie voorbeelde van alledaagse situasies waar christene by ander kulture aanpas. Jy kan ook die verhaal van Gladys Aylward wat aan die einde van die preekriglyn aangehaal word. Daar is ook ‘n skakel na ‘n video van die fliek wat oor haar verhaal gemaak is. Die preekriglyn begin met Paulus se roepingsverhaal en gebruik dit as ‘n meesterverhaal vir ons eie roeping, om “vir almal alles te word om in elke geval sommige te red“. Dit word geïllustreer met die verhaal van Gladys Aylward.

Share

1 Korintiërs 8:1-13 – 28 Januarie 2018 – Vierde Sondag ná Epifanie

‘n Letterlike vertaling 1 Kor. 8:1b sal iets wees soos: Kennis blaas op, maar liefde bou op. Jy kan lekker gesels oor hoe arrogansie mense op en hoe liefde opbou. Daar is opsies vir ‘n volledige poppekas, ‘n illustrasie met ballonne en die pragtige storie van Rupert Can Dance. Daarna kan kinders springmielies (opgeblaaste mielies) eet, of rice crispies. Of hulle kan gesiggies op ballonne teken, maar dan gaan jy vinnig moet preek voor die ballonne begin bars! Die preekriglyn verwys terug na die boodskap van 1 Korintiërs 6: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is heilsaam nie”.

Ons teks in 1 Korintiërs 8 is ‘n voorbeeld van hoe hierdie riglyn toegepas word in ‘n probleemsituasie in Christus se gemeente. Hoe weet mens wat heilsaam en opbouend is? Wat is die toets wat jy daarvoor gaan gebruik? In vandag se teks is heilsaamheid dit wat opbouend vir die geloofsgemeenskap is. Die kwessie waaroor dit gaan is vleis wat aan afgode geoffer is. Min, indien enige, gemeentes worstel vandag met hierdie kwessie. Die beginsel wat Paulus neerlê geld egter vandag net so vir ons. Dit is net so aktueel soos wat dit was onder die lede van die gemeente in Korinte in die eerste eeu n.C.

Share

1 Korintiërs 7:29-31 – 21 Januarie 2018 – Derde Sondag ná Epifanie

Lees met Familietyd die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders en Koppel dit aan dieselfde taal wat Paulus in Kolossense 3 gebruik. Soek dan die gemerkte sleutelwoorde wat in die ingeslote diagram weggesteek is. Die preekriglyn begin met die verhaal van Simeon die Stiliet (390 – 459 n.C.) wat vir meer as 30 jaar op ‘n klein platform op ‘n groot pilaar naby Aleppo Sirië gewoon het. Sy sentrale doel was om die wêreld te ontvlug en toegewy aan God te leef. Vir Simeon was dissipelskap om uit die wêreld weg te vlug. ‘n Moderne Simeon sal dalk solank ‘n kaartjie Mars toe wil bespreek.

Is dit wat die Here van ons vra? Paulus se woorde in ons Skrifdeel klink amper asof hy ons aanmoedig om so te begin lewe. Is dit beter om jouself aan die wêreld te onttrek? Is dit wat Paulus sy lesers leer? As ons dit so verstaan, mis ons die basiese boodskap van wat dit beteken om ‘n Christen in God se wêreld te wees. Paulus maak een van die eenvoudigste en tog van die belangrikste punte vir ons Christelike lewe: Ons bestaan in hierdie wêreld moenie gekenmerk word deur verknogtheid aan en beheptheid met die wêreld nie, nie aan die vreugdes en hartseer wat die wêreld ons bied nie, maar deur ons algehele toewyding aan God. Daarvoor span hy die voorbeeld van die huwelik in.

Share

1 Korintiërs 6:12-20 – 14 Januarie 2018 – Tweede Sondag ná Epifanie

Met kleiner kinders kan jy fokus op hoe spesiaal en kosbaar ons liggame is. KidsXpress het ‘n hele reeks hieroor, getiteld “Wikkelwurms”. Herinner hulle dan weer dat God elkeen gemaak het en daarvan hou. CLF het oulike pamflette vir kinders wat gaan oor lyfies en sake rondom lyfies, wat jy kan bestel en uitdeel, soos “Ek kan nee sê”. Daar is ook hulpmiddels vir gesprek met volwassenes. Die preekriglyn 6 fokus op die gedagte dat die liggaam van gelowige mense ‘n tempel is van die Heilige Gees en dat God daarom nie net met die gees van die mens nie, maar ook met die liggaam gedien moet word. Daarom waarsku die gedeelte ook teen seksuele losbandigheid. Ons word geroep om ons verhouding met God getrou na liggaam en gees uit te leef. Dit beteken eerstens dat ons moet afsien van sekere dinge.

Daar is seksuele gedrag wat nie pas by Christene nie. Ons moenie daaraan deel hê nie. Tweedens moet ons nuut leer praat oor die seksuele. Dit is deel van ons geloof om die Here seksueel liggaamlik te dien. Ons moet met ons kinders en jongmense daaroor praat. Ons bring dit in verband met ons verhouding met die Here, wie liggaamlik uit die dood opgewek is en ons liggame eendag nuut gaan maak. Ons moet meer erns met ons liggame in ons geestelike byeenkomste maak. Ons moet meer lag en huil, meer beweeg en die Here loof. So skep ons ‘n geloofsgemeenskap wat weet dat ons liggaamlik tempels van die Here is.

Share

Matteus 2:1-12 – 7 Januarie 2018 – Epifaniefees (6 Januarie)

Hierdie jaar is daar twee opsies vir dié Sondag. Jy kan fokus op Epifaniefees (eintlik Saterdag 6 Januarie) met Matteus 2:1-12 as teks. Óf jy kan fokus op Jesus se doop met Markus 1:4-11 as teks. Daar is riglyne vir albei. Vir hierdie erediens oor Matteus 2:1-12 is daar agtergrond oor die wyse manne uit die Bybelse Ensiklopedie wat jy kan gebruik vir Familietyd. Daar is ook ‘n inkleurprent sowel as die teks uit Die Nuwe Testament vir Kinders. Die preekriglyn oor Matteus 2:1-12 begin met ‘n skets van Herodes, die magtige koning wat met Romeinse gesag Israel met ‘n ysterhand regeer het. Hy was die politieke handlanger van die gehate Romeinse oorheersers van Israel wat hulle vuilwerk vir hulle gedoen het. In die onrustige situasie kom ‘n groep sterrekenners uit die Ooste, ‘n gebied wat nie onder Romeinse beheer was nie, in Jerusalem aan. Hulle koms vul sowel vir Herodes as die ganse Jerusalem met vrees. Die heersende wêreldorde word immers bedreig deur die gerug van ‘n magtige wêreldheerser wat uit die Jode kom en nie net oor die Jode sou heers nie, maar oor die hele wêreld. Die geboorte van Jesus het dus van meet af aan plaaslike politieke implikasies. Die rol van God in die geboorte wys egter baie gou dat die geboorte van Jesus baie wyer implikasies gaan hê. Dit is ‘n boodskap vir die hele wêreld.

Share

Lukas 2:22-40 – 31 Desember 2017 – Sondag na Kersfees

Daar is ‘n skildery wat jy kan gebruik om die kinders te laat bespiegel oor wie die mense in die skildery dalk kan wees. Verduidelik wie die mense is en nooi die kinders om na die karakters in die verhaal te luister. Alhoewel die preekstudie net fokus op Simeon in die verhaal is dit goed om die hele verhaal te lees. Gebruik verskillende lesers om die verhaal tot sy reg te laat kom. Daar is ook ‘n video en inkleurprent om jou te help. Trek die verband tussen Jesus se besnydenis en die doop. Carolyn Brown stel voor dat al die Adventskerse vandag saam met die Christuskers vir Simeon en Anna aangesteek word. Ons het 4 weke gewag vir Kersfees, hulle het hulle hele lewens gewag vir die koms van Jesus. Jy kan ook, saam met van die voorstelle van Woord en Fees, gesels oor “wag” en hoe moeilik wag is. Daar is ‘n video om jou daarmee te help: “Waiting is not easy” deur Mo Willems. Julle kan lekker gesels oor die maniere waarop ons soms vir Jesus wag. Die preekriglyn sluit vy die verhaal van Stan Telchin aan, ‘n suksesvolle sakeman en toegewyde Jood, vir wie dit verraad was toe sy dogter, Judy, ‘n Christen geword het. Stan besluit om sy dogter ten alle koste verkeerd te bewys met navorsing. Die uiteinde was dat hulle hele gesin besluit het om Jesus as Verlosser en Here te volg. Dit gee jou ‘n uitstekende inleiding tot die impak van die verhaal van Jesus se geboorte soos Lukas dit vir ons vertel soos gesien in die verhale van Simeon en Anna.

Share

Jesaja 52:7-10 – 25 Desember 2017 – Kersfees

Daar is ‘n gebed vir kinders wat jy kan gebruik. Jy kan ook ‘n verjaardagkoek kerk toe bring en vir Jesus ‘n verjaarsdagliedjie sing en daarna koek aan die kinders uitdeel. Gesels oor hoe spesiaal verjaarsdae is en bid ‘n paar verjaarsdagwense vir die wêreld waarin Jesus gebore is. Op Kersdag is die uitdaging om die “troonsbestyging” deur die liturgie te vier en te beleef, eerder as deur ‘n lang preek. Predikers word genooi om dit kort te hou. Moenie huiwer om slegs enkele gesigspunte uit preekskets te gebruik nie. Daar is perspektiewe oor die twee troonbestygings liedere in Jesaja 40 sowel as oor die “Goeie Nuus” van Kersfees rondom God se koningskap. Kersfees is ook ‘n verbeeldingsfees, nie in die sin van iets opmaak nie, maar om iets raak te sien wat reeds is. Dit verg ‘n ingesteldheid en ‘n keuse. Ons word ook uitgenooi om anders te kyk na mag. Die mag wat ons ken is nie “goeie nuus” nie. Die mag wat die profeet verkondig en wat ons vandag vier is egter mag ten goede. Mag ter wille van geregtigheid en herstel. Ons moet dit gedurig hoor, anders vergeet ons om anders te kies. Dan hoor en sien ons nie die voete van die boodskappers nie. Paulus verwys juis in Romeine 10:15 na hierdie voete, waar hy dit herken in die woord van predikers van die goeie nuus. Ook vandag sing ons lofliedere saam met eensames, dié wat ver is, puinhope en gebrokenes. Jesus Christus is gebore en Hy regeer. Altyd goed. Mag ons lof ook die realiteit van God se heerskappy vir baie ander herskep.

Share

Romeine 16:25-27 – 24 Desember 2017 – Vierde Sondag in Advent

Die vierde Sondag van Advent is die Sondag van Maria. Staan in die kindertyd stil by Maria se storie. Gebruik van Carolyn Brown se perspektiewe op haar: dat sy ‘n profeet en ‘n “nobody” was. Óf gebruik die legende oor Eva in Bybel-media se Saamkleurpret vir Kersfees haar trane na die verbanning uit die paradys geel traanvormige lelies gevorm het. Jare later het Maria so ’n geel traanvormige lelie gepluk. Toe sy aan die geel lelie raak, het dit wonderbaarlik wit geword. Dit herinner ons dat die onskuld wat die mensdom in die paradys verloor het deur Jesus herstel is. Die goue meeldrade van die lelie is soos ’n kroon of ’n stralekrans. Die preekriglyn sluit aan by die opgewondenheid rondom die geskenke by die Kersboom. Soms het ‘n mens vooraf geweet wat die geskenke sou wees en dan was Kersdag self ‘n soort anti-klimaks. As ons as die kerk eerlik moet wees, is hierdie oorbekendheid en die teleurstelling dikwels min of meer die gevoel oor die openbaring van God se geheimenis. Die Kersevangelie is vir ons dikwels soos ‘n bekende Kersgeskenk wat lankal nie meer ‘n geheim is nie, waarvoor ons na baie vierings nog min opgewondenheid kan monster. Wat vanweë sy bekendheid ook sy bekoring verloor het. Ons het weer nodig om die Kersboodskap te hoor dat dit ons soos met ‘n fietsryer in die glystroom (‘slip stream’) van ‘n groot voertuig meesleur. Dit sal ons regkry as ons weer agter die beweging van God met die wêreld inkom. Want, God is met ons op pad. In Christus het Hy vir ons Iemand gegee wie se asem op pad na die ryk nie sal opraak nie. Ons kan aan Hom vashou, ons kan ons hande uitsteek en aan die “bakwerk” wat voor ons is, vashou. Hy is die voertuig na saligheid, tegelyk die weg en die Een wat ons op hierdie weg meeneem.

Share

1 Tessalonisense 5:16-24 – 17 Desember 2017 – Derde Sondag in Advent

Fokus met Familietyd op vreugde. Gesels met hulle oor hoe mens kan kies vir vreugde, selfs wanneer dit sleg gaan en mens hartseer is. Deel aan die kleiner kinders ’n papier uit met die woord vreugde in borrelletters daarop gedruk. Hulle kan dit tydens die res van die diens versier met vrolike prentjies en iewers by die huis gaan op plak om hulle te herinner om vreugde te kies. Daar is ook ‘n seën wat jy aan die einde van die preek saam met die ouer kinders kan uitspreek. Die preekriglyn sluit aan by die feit dat ons almal ‘n taal praat. Ons word so groot. Klein seuntjies en dogtertjies praat hulle pa en ma se taal. Nie almal praat die taal ewe goed nie. Wanneer ons skool toe gaan, leer ons daar is reëls vir die grammatika. Daar is spelreëls. Daar is kommas en punte. Ons leer soms rympies aan om iets makliker te onthou. Sommige Skrifuitleggers glo 1 Tessalonisense 5:16-22 kon dalk so ‘n rympie wees. Dit het die geloofsgemeenskap gehelp om die taal van Christelike gedrag te leer. As mens dit eers aangeleer het, word dit deel van ons lewe. Wat is hierdie taal? Kom ons laat die Woord tot ons spreek.

Share
1 2 3 4 5