Lukas 16:1-13 – Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd – 22 September 2019

’n Moeilike gedeelte vir kinders. Gebruik die teks uit Die Nuwe Testament vir Kinders en lees dit dramaties voor. Die preekriglyn plaas die verhaal binne die konteks van Jesus se laaste reis na Jerusalem. Sy werk op aarde sal daar afgehandel word. Hy is besig om die laaste dinge vir sy dissipels te leer. Hulle moet aangaan met die werk, al sal dit lyk asof alles rondom hulle tot ‘n einde gekom het.  In die proses vertel Hy waarskynlik een van sy mees uitdagende gelykenisse. Dit handel duidelik oor die gebruik van geld en besittings, asook die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Maar, hierdie kort, fiktiewe vertelling is bedoel om ‘n geestelike waarheid uit te lig, met ‘n heel onverwagte draai. Ons moet dáárom nie simboliese betekenis aan elke persoon of gebeurtenis prober koppel nie. Dis ook nie ‘n voorbeeldvertelling wat wil sê nie: “Gaan en doen net so.” Indien dit die geval was, sou ons sê Christene moet doen wat die oneerlike bestuurder gedoen het! Dit kan tog nie. Hier word veeleer oor bekering gepraat in terme van die gebruik van geld, besittings en lewensmiddele in die lewe van gelowiges. Jesus sê dat die mense van die wêreld weet hoe die wêreld werk en hulle gebruik dit tot hulle voordeel. Hoekom verstaan kinders van die lig dan nie hoe die koninkryk van God werk nie? Hy roep dissipels op om wys te word in die weë van die koninkryk; soos ander mense wys is in die weë van die wêreld.

Share

Lukas 15:1-10 – Veertiende Sondag in Koninkrykstyd – 15 September 2019

Carolyn Brown herinner ons dat ons kinders se perspektief op “verlore wees” in ag moet neem. Kyk gerus ook na haar baie sinvolle voorstelle vir maniere om hierdie teks met kinders te bespreek. Jy kan ook ‘n teddiebeer of ‘n legkaart gebruik. Voorstelle daarvoor en nog ander ingesluit. Die preekriglyn begin met ‘n fokus op Lukas se evangelie as ‘n besondere geskrif. Ons kan sê hy is die eerste ware geskiedkundige wat oor Jesus geskryf het. Sy boek plaas Jesus in die hart van die destydse Joodse wêreld, maar ook in die hart van die Romeinse wêreld waarbinne die evangelie ingebreek en dit radikaal verander het. Ons teks speel af teen die agtergrond van tollenaars en sondaars, Fariseërs en Skrifgeleerdes en hul houdings en interaksies. Soos hulle is ons algemene siening van bekering dikwels redelik selfgerig, in plaas daarvan dat ons die wonder van God se liefde en soeke raaksien. Dit is wat die gelykenisse ons help raaksien. Ons kyk so maklik na verlossing asof dit net om myself gaan; om dit wat ek nodig het en om voordele wat ek gaan kry. Dit is ek wat vergiffenis van sonde kry; ek wat vrede in my gemoed kry; ek wat beskerming kry; ek . . . ek . . . ek! Dit is alles werklik baie wonderlik, maar die grootste, wonderlikste werklikheid is dat ons kinders van die lewende God is; om tuis te kom waar ons moet wees, veilig by ons Hemelse Vader. Een van God se kinders. Vreugde, verlossing en bekering is die terugvind van ‘n verlore skaap/munt deur sy Vader. Dit is die ware rede vir feesvier en vreugde in die hemel!

Klik hier om Word-aanbieding af te laai
Klik hier om PowerPoint-aanbieding af te laai

Share

Filemon 1-21 – Dertiende Sondag in Koninkrykstyd – 8 September 2019

Hierdie kort briefie is ’n pragtige voorbeeld van genade en takt, en toon vir ons duidelik hoe Christus se krag ’n mens se lewe en sy verhouding met ander heeltemal kan omvorm. Carolyn Brown beveel aan dat die karakters van die brief uiteengesit word in eenvoudige taal, en dat die brief dan in sy geheel gelees word. Die preekskets werk met verse 1-25. Die Brief aan Filemon laat mens dink aan ‘n soortgelyke brief van Pliny aan ene Sabinianus wat gedurende dieselfde tydperk geskryf is. Pliny was ‘n skrywer, soldaat en vriend van die destydse keiser. Slawerny was sosiaal absoluut aanvaarbaar en mense kon hulle nie die wêreld daarsonder indink nie. Tog is die impak van Jesus op onderlinge verhoudinge alreeds sigbaar. Deur hierdie twee briewe langs mekaar te lees, kan mens die Christelike geloof se impak op die manier hoe verhoudinge tussen mense verstaan word, raaksien. Pliny se brief wys op dieselfde versoek om genade aan ‘n vry slaaf, maar hierdie genade klink tog anders as Paulus se oproep om Onesimus “as geliefde broer” te ontvang. In die brief aan Filemon sien ons Paulus se fokus op “een nuwe mensheid” (Ef 2:11-22), waar daar nie slaaf of vry, Griek of Jood onderskeid gemaak word nie (1 Kor 12:13; Gal 3:28; Kol 3:11), in lewende lywe. Kom ons stap deur ons teks en kyk hoe die evangelie ees van die mees gevestigde gebruike van die antieke tyd beïnvloed.

Share

Hebreërs 13:1-8,15-16 – Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd – 1 September 2019

Vir jonger lidmate is daar veral twee lyne wat die teks kan oopmaak. Om te deel – gebruik die pragtige storie van The Word Collector om hierdie konsep te verduidelik. Óf Jesus verander nooit – verduidelik Jesus se onveranderlikheid met behulp van ‘n kaleidoskoop. Die preekriglyn begin met ‘n gedig van D J Opperman wat skryf: Deur tralies wat die tuin omsluit / kyk ek en my verwarde broers verlangend na die stad nog uit / hoe deur die reën en laaste lig / krukkig soos nat voëls / loop elke jas met sy gesig. Agter elke jas skuil ‘n mens met ‘n hart, ‘n mens wat saam met my en ook langs my bly, wat saam met my werk, boer, skoolgaan, leef. ‘n Mens wat langs my sit in die kerk en wat dieselfde Here se lof besing. Tog vergeet ek dit so maklik. Daarom, sê ‘n onbekende Rabbi iewers, ‘n venster en ‘n spieël is albei van glas. Deur die venster kan ek ander mense sien. Maar sodra die silwer bykom, sien ek net myself. In Jesus – en dit is die Paasfeesboodskap – verseker God gelowiges dat Hy na ons kyk net deur die rooi van Jesus se bloed. Hierdie versekering moet die kerk as geloofsgemeenskap uitdra na ‘n wêreld waar mense hooploos en gevolglik ook vreugdeloos lewe. Dit vra dat elke gelowige in sy/haar bootjie saam met Jesus sal klim, die veilige hawe van die kruis verlaat en God se liefde met woorde en dade sigbaar sal maak in ander mense se lewe. Hoe doen gelowiges dit? Hebreërs 13 sê: Leef liefde! Dit is elke gelowige se roeping. Nie omdat ons dink dit is ‘n goeie idee nie. Ook nie omdat die kerk of watter instansie ook al, dit van ons verwag nie. Ons moet dit doen omdat God elkeen van ons eerste liefgehad het in Jesus.

Share

Hebreërs 12:18-29 – Elfde Sondag in Koninkrykstyd – 25 Augustus 2019

Dit is ‘n moeilike teksgedeelte om met kinders te deel. Een opsie is om die stuk geskiedenis te herbesoek en dramaties oor te vertel. Die nuwe verbond kan dan aan die hande van die fokusteks kontrasteer word met die Sinaï-gebeure. Die preekriglyn fokus veral op Hebreërs 12:23-24 saam met Hebreërs 12:28. Dit hou Barmhartigheidsondag in Koninkrykstyd in gedagte en deur ‘n oproep aan die gemeente om ‘n verskil in die wêreld te maak. Die teks se boodskap dat Jesus se verlossing regtig ‘n verbetering aan hulle daaglikse lewe maak, word sentraal gestel in antwoord op baie gelowiges in daardie tyd wat die waarde van hulle geloof bevraagteken het, en dáárom weggedryf het van die Here en sy kerk en in ongeloof verval het. Die Hebreërskrywer wil hulle dus bemoedig deur hulle te help om op God te fokus! Dit is ook sy boodskap aan ons as gelowiges wat leef in ‘n tyd van ongekende uitdagings. Hy doen dit omdat hy ons wil aanspoor tot volharding in geloof en om vanuit dié geloofsverhouding ‘n verskil in die wêreld te maak!

Share

Hebreërs 11:29-12:2 – Tiende Sondag in Koninkrykstyd – 18 Augustus 2019

Bybel-Media het twee pragtige produkte wat baie mooi by vandag se “skare geloofsgetuies” pas. Die Kleuterpret Bybelmense-inkleurboek is ‘n inkleurboek wat ietsie oor verskillende Bybelse karakters sê. O gebruik die Kleuterpret Snap-kaarte, ‘n prettige manier om deur spel vir kleuters en kinders aan 49 belangrike mense in die Bybel bekend te spel. Carolyn Brown sê dat die woord “getuies” vandag verwarrend kan wees. Sy stel voor dat daar eerder met kinders gesels word oor geloofshelde en -heldinne. Jy kan ook baie lekker aansluit by julle eie geloofsgetuies. Die preekriglyn werk met die verhaal van Narsissus. Hy was ‘n jagter van formaat, maar een ding het uitgestaan: Hy was ook ‘n baie mooi man. Die probleem was egter dat hy dit geweet het. Toe hy op ‘n keer sy eie beeld in die water gesien het, het op die beeld verlief geraak, en is uiteindelik dood terwyl hy na sy eie weerkaatsing in die water gekyk het.

Vandag ken ons die verskynsel van Narsisme as beheptheid met die eie ek of eie belange. Die verhale van die geloofshelde van die Bybel dink ‘n bietjie anders oor hulle eie waarde. Vir die geloofwedloop is daar die gevaar dat ons verstrik en teruggehou kan word deur meerderwaardigheid of hoogmoed. Hoe ‘n mens ook al daarna kyk, dit is sonde – iets wat jou daarvan weerhou om jou Godgegewe roeping as beeld van God uit te leef. Of, anders gestel, die versoeking om die spieël wat teen ‘n hoek moet funksioneer so te draai dat jy net jou eie weerkaatsing sien. Is ons gedoem tot dieselfde lot as Narsissus? Nee! God dank, nie. Daar is ‘n alternatief wat ‘n wonderlike uitkoms beloof. Soos goeie medisyne proe dit nie lekker nie, maar dit is gewaarborg om genesing te bring. Hebreërs 12 maak geen geheim daarvan dat ons Jesus Christus in die oog moet hê nie. Met die oog gevestig op Jesus oefen ons individueel en saam as kerk om God se beeld te wees. Ons werk met toewyding daaraan om spieëls teen ‘n hoek te wees; ons weerkaats God se goedheid en guns na die wêreld toe en weerkaats die lof en gekreun van die wêreld terug na God toe.

Share

Hebreërs 11:1-3, 8-16 – Negende Sondag in Koninkrykstyd – 11 Augustus 2019

Gebruik Lukas 12:32-40 in Familietyd. Speel met die kinders “Wolf, wolf, hoe laat is dit”. Lees dan vers 39 en 40: “As die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom . . . die Seun van die mens kom op ‘n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.” Of vertel die storie van ‘n “African Impala” wat tot 3 meter hoog kan spring. Tog kan hulle in wildtuine agter heinings van minder as 1 meter aangehou word – want rooibokke spring nie waar hulle nie kan sien nie. (Vir die pret kan jy die video wys van die rooibok wat onlangs in iemand se kar ingespring het! Jy kan hierdie beeld dan verbind aan die teks, wat sê dat geloof is om oortuig te wees van dié dinge wat ons nie kan sien nie en dan vir Abraham gebruik as voorbeeld van hoe dit lyk om in geloof op te tree, al kan jy nie sien wat voorlê nie.

Daar is Skrifkenners wat sê dat die Hebreërboek die helderste prentjie oor die volle omvang van Jesus se wese en werk bied. Dit is die moeite werd om regop te sit en aandagtig te luister wanneer hierdie Bybelboek aan die woord kom. ‘n Belangrike aspek van geloof word hier aangesny. Hebreërs 11 wil nie ‘n werksdefinisie van geloof aanbied nie, maar eerder ‘n beskrywing bied van wat geloof doen en hoe dit funksioneer op ‘n baie praktiese vlak. Geloof is nie ‘n blinde vertroue of ‘n wilsbesluit nie. Geloof is die mens se re-aksie op die eerste aksie van God in en deur sy openbaring. In dié verband kan ‘n mens geloof beskryf as die seker wete en stille oortuiging oor die aard van God, ten spyte van die omstandighede waarbinne jy jou bevind of die gevolge van jou geloofsdade. Geloof gee aan die gelowige die vermoë om die toekoms in die hede te beleef en om die onsigbare daarom te kan sien.

Share

Hosea 11:1-11 – Agste Sondag in Koninkrykstyd – 4 Augustus 2019

Ons hoor in vandag se teks dat God kwaad is, maar dit is woede wat uit liefde gebore is, woede wat mense wil aanmoedig om te leef soos God wil hê.  Vertel die pragtige storie, “Mama, do you love me?”  Dis die storie van ‘n jong kind wat die grense van haar ma se liefde prober toets en vra hoe lank haar ma se liefde is. Skakels ingesluit. Die profeet Hosea voer in sy profesie die “regsaak” van die Here aan veral teen die afvalligheid van die volk in navolging van die geestelike en politieke leiers.  Tóg verkondig hy ook die deernisvolle liefde van die Here wat herstel belowe as hulle hulle tot Hom sou bekeer, self al moet hy hulle straf vir hulle ontrouheid. Hosea draai egter nie doekies om in sy beskrywing van die frustrasie wat die Here beleef het in sy verhouding met Israel nádat Hy alles in sy vermoë gedoen het om hulle status van ‘n slawevolk in Egipte na dié van ‘n vry en selfstandige volk in hulle eie land verander het.  Hulle wou egter nie erken dat God hulle versorg het nie, en het hulle lojaliteit verskuif na die Baälgodsdiens toe. Die Here se band met Israel word egter nie só maklik verbreek nie.  Sy worsteling met die gevolge vir sy volk van die selfopgelegde Assiriese juk waaronder hulle ingeskuif het, openbaar sy diep liefde vir hulle: “Hoe kan Ek jou prysgee … My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.” Daarin lê ook die hoop van die evangelie opgesluit soos Jesus dit in die evangelie van Johannes uitgedruk het: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (3:16).  Dít is ‘n belofte wat uiteindelik dus nie net vir die Jode van belang was nie, maar vir elke mens regoor die wêreld.

Share

Hosea 1:2-10 – Sewende Sondag in Koninkrykstyd – 28 Julie 2019

Skryf op ’n skoon wit vel papier allerhande verkeerde dinge wat ons doen, maar gebruik ’n pen wat kan uitvee (Pilot Frixion ball). Vee dit dan voor hul oë uit – dis soos vergifnis is. Dis weg, God dink nie weer daaraan nie. Dit gee ‘n goeie oorgang na die preekriglyn wat met die hele hoofstuk 1 werk. Die profeet Hosea se boodskap is veral gemik teen die tienstamme noordryk. Hy voer die “regsaak” van die Here aan veral teen die afvalligheid van die volk in navolging van die geestelike en politieke leiers. Tóg verkondig hy ook die deernisvolle liefde van die Here wat herstel belowe as hulle hulle tot Hom sou bekeer, self al moet hy hulle straf vir hulle ontrouheid. Die boodskap van hoop lê dus in die Here se besluit om nógtans, ook vir ons, te sê: “Julle is kinders van die lewende God.” HY hou die verhouding met ons in stand, selfs al lewe ons nie altyd in gehoorsaamheid nie. Hy bly die Een wat Hom oor ons ontferm. Daaroor kan ons net dankbaar wees.

Share

Amos 8:1-12 – Sesde Sondag in Koninkrykstyd – 21 Julie 2019

Daar is heelwat simboliek in die teks wat jy sou kon gebruik om die boodskap aan jonger deelnemers te verduidelik. Carolyn Brown sê dat kinders ook die konsep van die skaal kul, goed sal verstaan.  Derhalwe stel sy voor dat jy twee sakke meel bring wat dieselfde lyk, maar een met minder meel as die ander.  Weeg dan die meel voor die kinders.  Vra hoe jy sou voel as jy dit ligter sak gekoop het.  Noem voorbeelde van maniere waarop mense mekaar vandag inloop en herinner almal dat dit nie God se wil is nie. Hierdie is ook ‘n goeie geleentheid om met kinders te gesels oor die gemeente se barmhartigheidsbedieninge, oor hoe hulle minder bevoorregte mense kan help.  Wees prakties en begin dalk ‘n projek – laat hulle nie-bederfbare kos, skryfbehoeftes, of wat ook al die nood in jul omgewing is, kerk toe bring tot aan die einde van die Seisoen van Barmhartigheid. [Nota: Lees verkieslik verse 1 tot 14 as Skriflesing vir hierdie preek.] Ons teks dek die vierde gesig wat Amos ontvang het. In die eerste twee gesigte (7:1-6) het Amos ingetree en God het van sy voorneme afgesien om Israel te straf. In die derde en die vierde gesigte het God egter nie van sy oordeel afgesien nie. Met ‘n stap deur die teks fokus ons op die gevaar van ekonomiese ongehoorsaamheid wat eindig in ‘n tragedie omdat dit God se gesig verberg vir die wêreld.

Share
1 2 3 4 6