Genesis 1:1-2:4a – Eerste Sondag in Koninkrykstyd; Drie-eenheidsondag – 7 Junie 2020

Jy kan die baie oulike video oor die skeppingsverhaal is gebruik – skakel ingesluit – of gewoon die skeppingsverhaal in kindervriendelike taal oorvertel. ‘n Taak om ‘n plant op die aarde te plant met ‘n doolhof kan ook gebruik word. Voorbeeld ingesluit. Vandag vier ons Drie-eenheidsondag. Reeds vanaf die eerste eeue het die kerk die Drie-eenheid as die groot werklikheid, die “landskap” waarbinne ons leef, bely. Die werk van God die Vader, Seun en Heilige Gees is die “ruimte” waarbinne alles ontstaan het, leef en waarin die werklikheid na sy eindbestemming gelei word.

Die skeppingsverhaal van Genesis 1 speel ‘n belangrike rol in hierdie geloofsoortuiging. Niks het ontstaan buite God om nie, alles wat is, het die oorsprong daarvan in God. Die teks het twee oogmerke 1) Dit bring lof, eer en erkenning aan God as die Oorsprong van alles. Dit is ‘n loflied wat God prys vir die groot en wonderlike wyse waarop God alles geskep het. 2) Dit oriënteer ons. Genesis 1 is soos ‘n kaart wat verduidelik wat die aard van alles is, hoe die wêreld inmekaar steek en met watter doel alles gemaak is.

Genesis 1 weet dat daar ook buite God se volk ander skeppingsverhale is wat die werklikheid probeer verklaar. Baie van die mededelings in Genesis 1 is kritiek of getuienis teenoor ander skeppingsmites. Dat God lig onafhanklik van die ligdraers (soos die son en maan) gemaak het, is skerp kritiek op die aanbidding van son en maan as gode of goddelik. Dat man en vrou gelykes is, is kritiek teen ander skeppingsverhale wat manlike dominasie wil bevestig. Dit is ons vertrekpunt om vandag na te dink oor die werklikheid.

Share

Johannes 20:19-23 – Pinksterfees – 31 Mei 2020

Gesels in Familietyd oor dinge wat julle bang maak. Slange, die donker… Maar ook goed soos alleen wees of misluk. Jesus het ons gestuur om vir hom te leef en mense van hom te vertel. Maar ons hoef nie bang te wees nie. Sy Gees is altyd by ons, daarom is ons nooit alleen nie. Die Gees sal ons help. Op Paassondag is die eerste deel van Johannes 20 as fokusteks benut (v 1-18). Op die Pinksterfees word die verhaal uit Johannes 20 voortgesit, met die fokus op vers 19-23. Op Paassondag en met  Pinksterfees kan ons dus die verband lê tussen hierdie twee hoogtepunte van die kerklike jaar.

Die Covid-19-pandemie het groot dele van die wêreld is vrees vasgevang. Sommige mense vrees die virus. Ander vrees samesweringsteorieë. Ander ontken die gevaar, en word sodoende gevrees deur mense wat vrees. Politici vrees die ekonomiese impak. Ekonome vrees die politieke impak en laat die markte tuimel en tol. Ons leef in ‘n wêreld gedryf deur vrees. Dit ontlok tipies een van twee reaksies by mense: veg, of vlug. In ons teks is vrees ook ‘n realiteit. Merkwaardig genoeg roep Jesus sy dissipels midde-in hierdie wêreld van vrees om sy gestuurdes te wees. Kom ons stap eers deur ons teks, en vra dan daarna wat dit vir ons wêreld beteken.

Share

Jesaja 52:13–53:12 – Goeie Vrydag – 10 April 2020

Hier is ‘n oulike storieboek-weergawe vir Familietyd van die pad na die kruis, met aflaaibare boekmerke en inkleurprent. Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerends in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.  Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Ghandi, moeder Theresa, Nelson Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.  En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur en nou onlangs in Egipte, Tunesië en Libië wat ‘n enorme effek op die regerings gehad het, en reeds tot die val van die eerste twee gely het – dié inspireer ons.  En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here.

Klik hier om Word-aanbieding af te laai
Klik hier om PowerPoint-aanbieding af te laai

Share

Matteus 20:29-21:11 en 26:14–27:46 – Sesde Sondag in Lydenstyd Palm-/Passiesondag – 5 April 2020

Soos altyd is dit belangriker dat kinders die Bybelverhale hoor, eerder as ’n lessie daaroor.  Moenie bang wees om gewoon die storie van die intog in Jerusalem of die passie (of dele daarvan) te vertel nie. Of fokus op die oorgang van Palm na Passie: toe Jesus in Jerusalem inry, steek almal hul vingers in die lug (amper soos die spons vingers by sportbyeenkomste):  “Jesus is nommer een! Jesus is nommer een!” Maar kort daarna word dieselfde vingers veroordelend teen Jesus gedraai:  “Kruisig hom!” [Nota: Hierdie preekriglyn werk met ‘n kleiner afbakening van die teks, nl. Matteus 27:27-44] Ons teks vertel die somber verhaal van die bespotting van Jesus. Die aanloop tot kruisiging, en die kruisiging self, was daarop gemik om die veroordeelde na liggaam en gees te breek. Dit is bedoel om die mens in sy diepste wese te verkrag en te verwerp. Ons sien hoe alles in ons teks daarop gemik om Jesus te verneder en Hom met skande uit die weg te ruim.

Klik hier om Word-aanbieding af te laai
Klik hier om PowerPoint-aanbieding af te laai

Share

Esegiël 37:1-14 – Vyfde Sondag in Lydenstyd – 29 Maart 2020

Soos altyd met narratiewe tekste, is dit goed om gewoon die teks op dramatiese manier te lees.  Daarom het ons in 2015 voorgestel: “Vertel die storie met geluide.  Carolyn Brown sê:  Provide castanets, rain sticks, rattles of all sorts, cans filled with dried beans, or anything that rattles for the verses about the bones.  Several people blow on live microphones or rub sandpaper blocks together to produce the wind sound for verses about God’s breath.  A children’s class could be enlisted to serve as a sound choir practicing in advance.  Or, children could be invited forward to provide sounds as the scripture is read.  In either case, they will need a director leading them during the reading.  It will also help to read the passage twice, first without the sounds, then with them.” Vir die preekriglyn kan jy begin met die TV-reeks “Bones”. Dit handel oor ‘n forensiese antropoloog, Bones, wat sommer ‘n hele klomp dinge uit bene kan aflei. Bene verklik hoe oud hulle is, hoe die mense of dier waaraan hulle behoort het, geleef het en uiteindelik ook dood is.  Daar is ‘n vakgebied, osteologie, wat die studie van bene is. Nie net forensiese antropologie nie, maar ook anatomie en argeologie stel belang in bene. Ja, bene vertel ‘n storie. Bene vertel van geslag, dieet, siektes, lewenstyl, ouderdom, groeikrag, noem maar op. Vandag het ons ook met ‘n verhaal oor bene te doen. Dooie bene. Bene wat ons vertel van die doodse toestand van God se volk. Maar ook van die groot krag van van God. Hierdie bene vertel daarom net soveel van God as van die mense.

Klik hier om Word-aanbieding af te laai
Klik hier om PowerPoint-aanbieding af te laai

Share

1 Samuel 16:1-13 – Vierde Sondag in Lydenstyd – 22 Maart 2020

Soos met alle narratiewe tekste, kan jy gewoon die verhaal vertel of die teks dramaties lees of die ingeslote skakel na ‘n video gebruik.  Jy kan ook ‘n groep kinders die teks laat “opvoer” terwyl jy dit lees. Die verhaal “How to train your dragon” sluit ook goed hierby aan. Hiccup is ‘n jong Viking, die hoofman se seun, maar hy stel heeltyd teleur. Hy is nie groot genoeg nie en hy hou nie daarvan om te baklei nie.  Maar wanneer hy een van die drake wat die dorpie terroriseer, mak maak, sien almal dat hy die leier is wat hulle benodig.  God kyk nie na hoe ons buite lyk nie, maar aan die binnekant.  God sien die hart, soos die OAV sê. Die Bybelverhaal speel af in die tyd van Koning Saul as koning van Israel. Die Here en die profeet Samuel is egter hartseer oor Saul. Hy het ontaard in ‘n tragiese karakter. In Samuel 15 sê God dat Hy jammer is dat Hy Saul koning gemaak het. In hierdie tyd stuur die Here vir Samuel om ‘n nuwe koning te gaan salf. Wanneer Samuel bang is om hierdie opdrag uit te voer, omdat hy bang is Saul – wat nog koning is – sal dalk uitvind dat hy ‘n nuwe koning gaan salf, verbloem die Here die werklike rede vir Samuel se besoek aan Isai. Wanneer Eliab opdaag, is Samuel oortuig daarvan dat hierdie oudste seun van Isai die verkose koning moet wees. Iemand skryf oor Eliab: “He’s got future written all over him.” Vinnig kom ons egter agter dat die Here nie na dieselfde eienskappe as mense kyk nie. Die Here kyk dieper as die oppervlak – anders as mense se eerste indruk. Die Here kyk na die innerlike – dalk wil Hy wil onder andere weet hoe ons saam met mense kan huil en bid. Hy wil weet of ons ‘n passie het vir geregtigheid en ‘n hart vir verdwaaldes. Om hierdie rede vra die Here van Samuel om nog nie met sy soektog vir ‘n koning onder Isai se seuns op te hou nie. Uiteindelik moet Samuel egter vir Isai vra of hy nie nog ‘n seun het nie. Isai antwoord: “Daar is die jongste.” Hy gee nog nie eers die seun se naam nie, so onwaarskynlik en onbelangrik word hierdie seun geag. Uiteindelik word hy tog geroep. Wanneer hy (ons ken steeds nie sy naam nie) opdaag, ruik hy waarskynlik nie goed nie en is hy waarskynlik ook vuil omdat hy pas uit die veld kom waar hy sy pa se skape oppas. Wanneer hierdie seun voor Samuel verskyn, hoor hy by die Here dat dít die seun is wat hy tot die koning van Israel moet salf – ongeag hoe hy lyk, of hy nou vuil is of nie. Dit is nie die uiterlike wat die Here beïndruk nie, maar Dawid se hart wat vir die Here wys dat hy ‘n koning is. Hiervoor moet Samuel nie op sy menslike logika vertrou nie, maar op die wysheid en leiding van die Here. Uiteindelik sal ons leer dat daar beduidende verskille tussen Saul en Dawid is. Saul het indrukwekkend gelyk, maar het as koning uiteindelik nie beïndruk nie. God is veel meer geïnteresseerd in die nuwe koning se hart en karakter – wat God liefhet en dien. Dawid word uiteindelik Israel se mees besondere koning.

Klik hier om Word-aanbieding af te laai
Klik hier om PowerPoint-aanbieding af te laai

Share

Eksodus 17:1-7 – Derde Sondag in Lydenstyd – 15 Maart 2020

Lees die fokusteks uit ’n kindervriendelike Bybel en dramatiseer die ingeslote volbloed woestynstorie, ’n gesinsvakansie in Namibië. In die middel van hierdie verhaal staan die getroue, magtige God, soos dit was met Israel in die woestyn. Hy is die spilpunt van menslike drama wat nood omswaai na geluk – van honger na versadiging, van dors na water, van blindheid na sig, van melaatsheid na heelheid, van armoede na welsyn en uiteindelik van dood na lewe. Die preekriglyn gebruik die knellende droogte in ons land as invalshoek. In die Karoo en omliggende gebiede het baie dorpies en distrikte reeds Dag Zero wat watervoorsiening betref, bereik. Adelaide, ‘n gemeenskap iewers tussen Port Elizabeth, Cradock en Grahamstad, is ‘n voorbeeld. Die droogte word as die ergste in 100 jaar beskryf. Die dorpsdam is leeg. Kwotawater uit die Visrivier wat vir Bedford bestem is, moet nou met Adelaide gedeel word, wat beteken die dorp kry baie min water, en dit bereik nooit die hoogliggende gedeeltes (meestal die arm woonbuurte) nie. Die versugting in ons teks, waar is daar water om te drink, is vir baie maar te bekend.

Klik hier om Word-aanbieding af te laai
Klik hier om PowerPoint-aanbieding af te laai

Share

Genesis 12:1-4a – Tweede Sondag in Lydenstyd – 8 Maart 2020

Daar is ‘n video van vandag se skriflesing en ‘n oulike inkleurprent vir Familietyd. Gesels met die kinders oor hoe dit nogal “scary” kan wees om iets vir die eerste keer te doen. Jy kan kinders herinner aan die eerste dag wat hulle skool toe is, of eerste keer wat hulle fiets gery of gaan swem het. In al hierdie gevalle help dit as jy iemand by jou het op wie jy kan vertrou – iemand wat al voorheen die ding gedoen het wat jy vir die eerste keer gaan doen.  Gebruik die blinddoek voorbeeld om dit te illustreer, waarnan jy die lyn kan trek na Abram en Sarai se verhaal. Die preekriglyn focus op die roeping van Abram as ‘n langtermynprojek wat die verlossing van die ganse mensdom op die oog het.

Dit lyk egter of hierdie projek al van die begin af tot “mislukking” gedoem was. Abram was baie oud en Sara kon nie kinders kry nie. Die belofte van ‘n talryke nageslag klink dus menslik gesproke nie haalbaar nie. Hierdie uitsiglose situasie beklemtoon egter die feit dat die beloftewoord van God aan Abram ‘n woord van hoop in ‘n chaotiese wêreld is. Die roeping van Abram en die gepaardgaande beloftes aan hom, is God se antwoord op ‘n vervalle en chaotiese wêreld wat Hy nie bereid is om prys te gee nie. God begin met Abram (en sy nageslag) ‘n lang proses van vernuwing en herstel, wat uiteindelik tot die totale verlossing van die mensdom en sy wêreld moet lei.

Share

Genesis 2:15-17; 3:1-7 – Eerste Sondag in Lydenstyd – 1 Maart 2020

Die boodskap van die sondeval kan met die kinders deurgesels word aan die hand van die verhaal in Genesis 3 waarna ‘n paar waar of vals vrae die boodskap kan omklink. Daar is ook ‘n inkleurprent. Die preekriglyn kontrasteer die twee weergawes van die skepping in Genesis 1 en 2  en fokus dan op die sewe episodes waaruit Genesis 2 tot 3 bestaan waarin die sonde van die mens die sentrum vorm. Die preekriglyn staan dan by die eerste vier episodes van die verhaal stil om ons bewus te maak van ons eie Adama-karakter, ons geneigdheid om te sondig, om nie anders te kan as om sonde te doen nie. Daarom het ons ‘n Verlosser nodig. Ons kan onsself nie red nie. Jesus word mens en kom woon onder ons om ons te red. Aangesien geen mens waardig is om God se weg te gehoorsaam en verlossing te bewerk nie, voorsien God self die volmaakte mens, Jesus Christus, die Seun van God wat op aarde vir ons versoening kom bewerk. Christus word die nuwe Adam wat vir ons die pad na God oopbreek. In Christus kan ons nuut word, kinders van God word, ‘n toekoms saam met God hê. Hiervoor moet ons dankbaar wees. Hiervoor moet ons God loof en prys.

Share

Eksodus 24:12-18 – Laaste Sondag na Epifanie – Verheerliking – 23 Februarie 2020

Roep die kinders na vore en help hulle om die teks dramaties uit te beeld terwyl dit gelees word. ‘n Berg kan bestaan uit ‘n stoel (dalk selfs ‘n stoel op ‘n tafel) met ‘n laken oor. Gebruik ou klere en lappe vir Moses en Josua. Kliptafels kan uit karton gesny en met spuitverf geverf word. Maak ‘n wolk uit karton en watte of gebruik ‘n wit of blou laken en laat iemand dit om die “berg” vashou. Dit is vandag die Sondag van Verheerliking. Ons word herinner aan God se openbaring aan ons in Jesus Christus. Vanaf die vroegste oomblikke in die geskiedenis van Israel leer ons God ken as die Een wat kies om tussen sy volk te bly. Die groot gebeurtenisse rondom God se verskyning met die gee van die wet en die tabernakel in Eksodus onderstreep dit. God se nabyheid word duidelik in die bou van die tabernakel sowel as in die gawe van die Woord en wet waardeur Hy sy daaglikse teenwoordigheid in die lewe van mense vaslê. Ons teks vertel hoedat God Godself aan sy volk gee. Ons teks is ‘n besondere verslag oor hoe God God se teenwoordigheid aan God se volk bekendmaak. In hierdie ontmoeting gee God Homself aan die volk deur in die vorm van wet en riglyne. God trek mense ook in gemeenskap met God in.

Share
1 2