1 Korintiërs 3:1-9 – Sesde Sondag na Epifanie – 16 Februarie 2020

Daar is twee familie-oomblikke om uit te kies. Die een werk met ‘n string helder wol wat mense in die kerk vir mekaar gooi. Elkeen wat die bol vang, moet spontaan ‘n manier noem waarop hulle by die kerk betrokke is of hoe God deur hulle werk. Die ander op die tuinmaakmetafoor om met die kinders te gesels oor hoe ‘n mens saad plant en wat dit nodig het om te kan groei. Ons kan alles doen om die saad te help groei, maar ons self kan nie die saad laat groei nie. Dit is God wat laat groei. Die tema van ons teks is medewerkers van God wat floreer op vaste kos. Dit sluit aan by die aanmoediging van hoofstuk een dat daar nie verdeeldheid sal heers nie. Maar Paulus besef dat hy die punt van hoofstuk 1 nog deegliker sal moet onderstreep, want hulle verdeeldheid, hulle afguns en onenigheid, illustreer hulle geestelike onvolwassenheid. Daarom skryf hy in hoofstuk 3 as volg teen die groepvorming rondom leiers. In effek sou dit ‘n verwerping van medegelowiges en medewerkers in die geloofsgemeenskap wees, praat nie eers daarvan dat dit die roeping wat die Here gegee het vir dié leiers in twyfel sou trek. En hoekom mag ‘n mens nie só ‘n onderskeid maak nie? Paulus sê, ‘n onderskeid tussen leiers getuig van ‘n wêreldse en vleeslike gesindheid.  Dit getuig nie van ‘n geestelike gesindheid nie.  Dit is die dinge waaroor babatjies in die geloof praat.  Dit is dinge waaroor suigelinge praat.  Nie volwassenes in die geloof nie. En dít bring ons by die eintlike probleem wat daar in Korinte geheers het.  Die gelowiges het self nie die pad met die Here Jesus Christus geloop nie.  Hulle het self nie die volle sekerheid gehad van hulle geloof en van die roeping wat die Here vir hulle gehad het nie.  Daarom het hulle gefokus op die leiers en hulle eie gebreke vir ander en vir hulleself weggesteek. Meer nog.  Hulle het geweet dat die “vaste kos” meer van hulle sal verg.  Hulle sou moes kou en herkou en dit sou van hulle meer toewyding vra. En dan sou hulle hulle lewenstyl moes aanpas om in lyn te kom met wat die Woord vra.  Hulle sou mekaar moes aanspreek – waarvan daar ‘n hele paar voorbeelde in die brief was – en daarvoor het hulle nie kans gesien nie.

Share

1 Korintiërs 2:1-12 [13-16] – Vyfde Sondag na Epifanie – 9 Februarie 2020

Met Familietyd kan jy aansluit by Paulus wat die Korinte herinner aan sy een fokus: die gekruisigde Christus. Ons versoeking is altyd om deur ons eie bril te kyk. “Douglas, You Need Glasses!” deur Ged Adamson gaan oor Douglas, ‘n hond wat glad nie goed kan sien nie. Hy dink bv ‘n blaar is ‘n eekhoring! Dis eers wanneer hy ‘n bril kry, dat thy die wêreld in ‘n heel nuwe lig kan sien. Soos Douglas se bril hom help om te sien, help die Gees ons om vir God te ken. Die preekriglyn begin met die verhaal van die Engelse biskop Tonstall wat vasbeslote was om die verspreiding van William Tyndale se eerste vertaling van die Nuwe Testament in Engels te keer. ‘n Handelaarsvriend van Tyndale het toe al die beskikbare kopieë van die boek aan die biskop verkoop, al het hy geweet dat dit verbrand sou word. Op dié manier is al Tyndale se skuld betaal, nuwe drukke van die vertaling kon vinnig gemaak word, en die verbranding van die boeke het Tyndale se werk geadverteer. So het die biskop dus ‘n helper geword in die saak wat hy wou vernietig. So wil ons ook graag baie keer slimmer as God probeer wees. Dit dek die tafel om oor die wysheid van God deur sy Gees te gesels.

Klik hier om Word-aanbieding af te laai
Klik hier om PowerPoint-aanbieding af te laai

Share

1 Korintiërs 1:18-31 – Vierde Sondag na Epifanie – 2 Februarie 2020

Die fokusteks bied ‘n goeie geleentheid om ‘n doopherinnering te doen, wat ook tydens die Familie-oomblik kan plaasvind. Dit kan ingelei word deur ‘n besprekingsvraag waartydens gemeentelede vir mekaar kan vertel wat hulle weet van hulle eie doop of onthou van hulle kinders se doop. Ons aangrypende teks beklemtoon dat dit nie uit eie verdienste (deur ons eie pogings tot ‘n onberispelike lewe) is dat ons redding ontvang nie, maar slegs deur die genade van God en die kruis van Christus. ‘n Onberispelike en regverdige lewe is dus nie iets om op te roem nie: Ons roem in die Here wat so ‘n lewe moontlik maak. Paulus verduidelik dat die oënskynlike dwaasheid van die kruis en swakheid van God enige wêreldse wysheid en mag troef. Volgens hom kan daar nie op die vermoëns van mense geroem word nie, maar slegs op wat God doen, in besonder deur Jesus Christus, die vernederde en gekruisigde Here. Hierdie boodskap wat spreek van die andersoortige wysheid en mag van God, vorm deel van Paulus se inleidende woorde aan die gemeente in Korinte, ‘n gemeente wat hy self help stig en ‘n noue band mee gehad het.

Share

1 Korintiërs 1:10-18 – Derde Sondag ná Epifanie – 26 Januarie 2020

Gesels oor die konsep van “verdeeldheid” deur te praat oor dinge wat saam hoort.  Deesdae kan TV’s nie werk sonder ‘n afstandbeheer nie.  Tandeborsel en tandepasta.  Ketel en deksel.  Kragdraad en kragprop. Of wat van ‘n kul-toertjie? Voorbeeld ingesluit. As jy ‘n storie wil vertel, kan jy gerus kyk na “When Pencil Met Eraser” op Kindle. Potlood teken prente, maar Uitveër vee oral uit en maak in die proses ‘n heel ander prent.  Wanneer Potlood blomme teken, maak Uitveër ‘n paadjie in die blomme.  Hulle hou aan stry, totdat Uitveër Potlood help verstaan dat hulle saam beter is.  Die preekriglyn begin met die verhaal van die gemeente van Korinte. Hulle was ‘n kopseer vir Paulus. Hulle is deur struweling en verdeeldheid gekenmerk. Oor die presiese aard van die Korintiese partyskappe is al baie geskryf. Ons weet egter steeds nie alles oor die destydse situasie nie. Miskien is dit ‘n bedekte seën. Op ‘n manier word ons deel van die destydse storie wanneer ons in ons tyd ook spanning in die kerk en gemeente beleef. Daar is immers altyd ‘n voorlopigheid in ons kerkwees. Ons is kerk in die tyd tussen die eerste en tweede koms van Koning Jesus. Die fokus van Paulus se beredenering moet egter in die oog bly, naamlik dat daar net een Christus is wat gekruisig is. Geen ander geestelike leiers in die verlede, hede of toekoms kan by Jesus Christus kersvashou nie. Ons eenheid lê in Hom.

Share

1 Korintiërs 1:1-9 – Tweede Sondag ná Epifanie – 19 Januarie 2020

Met Familietyd kan jy die beeld van ’n spieël gebruik waarin ’n mens na jouself kyk en ’n glas waardeur jy na ander mense kyk om iets uit te beeld van hoe God ons in konfliksituasies gebruik. Onthou ook dat Carolyn C Brown die opmerking maak dat dit waarskynlik die eerste generasie kinders is wat nie briewe ken nie. Doen dus moeite om vir kinders te verduidelik wat ’n brief is. Die preekriglyn begin met die vraag na wat ‘n arme predikant, apostel of gemeenteleier moet doen as hy of sy in ‘n gemeente die een ná die ander geraamte in die kas kry? Veg jy of vlug jy, of sit jy versteen sonder om te weet watter kant toe? Dit is wat met Paulus gebeur het. Hy het ongeveer 18 maande in Korinte gewerk. Hy het werklik moeite gedoen. Toe kom daar ontstellende nuus. Paulus ontvang berig van Chloë se mense dat daar groot probleme in die gemeente is. Wat doen Paulus om die verdeelheid aan te spreek? Sonder om uit selfverdediging beskuldigings uit te deel en mense links en regs te vervreem, begin hy deur die konflik en verdeeldheid terug te bring na identiteit – die gemeente se identiteit in Christus Jesus. Sonder om in ‘n verbale geveg die probleme een vir een aan die kaak te stel, begin Paulus deur die oplossing eers te verwoord. ‘n Gemeente moet oor haarself dink in die lig van hul verhouding met God die Vader deur Jesus Christus. Die identiteit in Christus vra van gelowiges om saam te werk.

Share

Handelinge 10:34-43 – Eerste Sondag ná Epifanie – 12 Januarie 2020

Dit is die Sondag voordat die skool begin. Gesels met die kinders oor die jaar wat voorlê. Vertel die verhaal van Petrus en Kornelius. Petrus het nie gereed gevoel om te gaan waarheen God hom gestuur het nie, maar God het hom gehelp. Die Heilige Gees was nie net in Petrus aan die werk nie, maar ook reeds in Kornelius. Die Heilige Gees is ook reeds by die skool. Moedig die kinders aan om in alle mense, juis ook in mense van ander kulture en agtergronde, vir God raak te sien. Carolyn Brown stel voor dat die storie van “The Sneetches” vertel word (video). Ook Max Lucado se boek “As ek maar ‘n groen neus gehad het”, sal goed werk.

Die preekriglyn begin met die verhaal van die twee oorlogskepe wat besig was met maneuvers in swaar weer. Die sig was besonder swak weens die mis en die kaptein het by die uitkykpos gebly om ‘n ogie te hou. Kort na skemer laat weet die wag aan die bakboord dat hy ‘n lig waarneem wat blykbaar stilstaan. Die kaptein besef dadelik dat die twee skepe op ‘n botsing afstuur en laat weet vir die seiner om die ander skip in kennis te stel dat hulle ‘n 20-grade aanpassing moet maak.

Die boodskap kom terug: “Ek beveel jóú om 20 grade aan te pas.” Die kaptein laat nie op hom wag nie: “Dit is die kaptein wat praat. Verander rigting met 20 grade!” Die antwoord kom terug: “Dit is die tweedeklas-seeman wat hier praat. Dit is beter dat jy jou koers wysig met 20 grade.” Woedend laat die kaptein weet: “Ek is ‘n oorlogskip. Pas jou koers onmiddellik met 20 grade aan!” Die stem aan die ander kant antwoord: “Ek … is ‘n vuurtoring.”

Op komiese wyse illustreer hierdie verhaaltjie van Stephen Covey dat omstandighede ons dikwels dwing om ‘n aanpassing in ons denke te maak, anders kan die werklikheid ons dalk duur te staan kom. Sommige noem hierdie tipe van aanpassings in ons lewens ‘n verskuiwing in paradigma. So ‘n paradigma-verskuiwing funksioneer soos ‘n nuwe lens waardeur alles nuut beskou word. Dit impliseer ook nuwe gedrag. Petrus se uitroep “Waarlik, ek begryp nou eers….” (vers 34) dui vir ons daarop dat daar by hom so ‘n paradigma-verskuiwing plaasgevind het. Dit was ‘n kragtige bekering.

Share

Jesaja 60:1-6 – Epifaniefees – 5 Januarie 2020

Dramatiseer die besoek van die sterrekykers ahv Matteus se weergawe soos in Die Nuwe Testament vir Kinders. Daar is ook ‘n inkleurprent is beskikbaar. Ons teks begin met ‘n kragtige opdrag in vers 1: “Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!” Mens kan maar net raai hoe die Ou Testamentiese gelowiges van Jesaja se tyd hierdie woorde gehoor het. Sien, daar was nie juis lig in Jerusalem nie. Nie letterlik nie, maar veral nie figuurlike lig nie. Hierdie woorde kom in ‘n tyd toe dit maar donker gegaan het met Jerusalem. Die agtergrond is die verwoesting van Jerusalem en Juda tydens die ballingskap, dekades vantevore. Nou was die ballingskap verby, maar die heropbou van die verwoeste land het bitter stadig gevorder.

Hoe is dit moontlik dat Jerusalem kan opstaan en haar lig laat skyn? Ons teks gee twee redes: Eerstens laat die Here se heerlike en magtige teenwoordigheid oor Jerusalem skyn. Ten spyte van hulle omstandighede is God by hulle en skyn die Here oor hulle! Tweedens staan hulle, helder verlig deur die Here se lig, helder uit in ‘n donker wêreld. Daar is duisternis oor die nasies, die nasies soek lig. Aangesien God se lig oor Israel skyn, sal die nasies na hulle toe stroom in daar lig te vind. Die boodskap van die hele Jesaja 60:1-6 is: “Die Here is getrou.” Hierdie boodskap is veral van belang vir mense wat ervaar dat hulle deur hulle omstandighede oorweldig word. Natuurlik faal ons baie as ligdraers. Dit is nie die einde nie.

Share
1 2