Sewende Sondag ná Epifanie – 24 Februarie 2019 – Lukas 6:27-38

Gebruik die weergawe van die teks in die Nuwe Testament vir Kinders. Daar is ook ‘n kinderboodskap ingesluit. Die preekriglyn skop af met Rolf Nestingen se verhaal oor sy ouers wat wou hê dat hy ‘n dokter moes word sodat hulle sommer vir niks siek kon word nie. Toe word hy maar ‘n predikant sodat hy vir niks goed kon wees nie. Immers, hoeveel maal word leraars nie gespot oor die feit dat hulle net een dag per week werk nie! Hulle is goed vir niks nie. Nestingen skryf dat dit nogal moeilik is om ‘n dag af te vat as jy net een dag per week werk! Daarmee word die tafel gedek vir ‘n gesprek oor goedwees; dat Jesus ons in hierdie gedeelte uitdaag om presies dit te doen: om lief te hê vir niks; om goed te doen vir niks; om geld uit te leen vir niks; om goed te wees vir niks! Vir niks! Jesus leer ons daarmee dat ons die krag van ons optrede nie moet onderskat nie. In Lukas se tyd was hierdie optrede radikaal anders en was dit ‘n “aggressiewe evangeliese strategie” om gemeenskap met mense te skep wat van die geloofsgemeenskap vervreemd was. Uiteraard sal almal nie positief op hierdie liefde wat niks verwag reageer nie, maar ons ywer om hulle aan die barmhartigheid van die Vader bloot te stel moet nooit verflou nie.

Share

Sesde Sondag ná Epifanie – 17 Februarie 2019 – Lukas 6:17-26

Sermons4kids stel voor dat jy gesels oor geluk.  Blaas saam met die kinders bubbles.  Geniet vir ‘n rukkie die blaas van die bubbles.  Laat mense probeer om dit te vang. Bubbles maak almal gelukkig!  Die probleem daarmee is dat dit nie hou nie.  Die oomblik wat jy daaraan raak, bars dit.  Baie van die dinge waarby mense geluk soek, is soos bubbles.  Hulle jaag dit, maar kan dit nooit kry nie.  Gesels oor die goed waarby mense geluk soek en dan oor die manier waarop ons geluk vind wanneer ons bv arm is en ontdek dat God sorg, of hartseer is en ontdek dat God troos. Die preekriglyn begin met Ferdinand Deist se verhaal oor die Nobelpryswenner vir Fisika, Werner Heisenberg, se stryd toe Hitler die Duitse regering in 1933 oorgeneem het. Moes hy padgee of bly? Die deure was oop om ‘n pos in die buiteland te kry, byvoorbeeld in die kerninstituut van Niels Bohr in Noorweë. Hy besluit toe om in Berlyn met sy vertroueling en beroemde fisikus Max Planck te gaan gesels. Planck het toegegee dat hy maklik ‘n pos iewers anders kon kry. Toe sê hy hierdie woorde: “Maar wat jy ook al besluit, dink aan die tyd wat ná die katastrofe kom.” Hoewel ons ons nie kan voorstel wat mense tydens die Nazi-skrikbewind deurgegaan het, hoeveel kompromieë goeie Christenmense dalk moes maak om te oorleef nie, gee dit ons tog ‘n beeld van wat baie Christene vandag in die wêreld beleef. Daar is wêrelddele waar dit byna ondraaglik is om ‘n Christen te wees. Dit gee ‘n goeie inleiding om te gesels oor moed skep in ‘n tyd van katastrofe en lyding. Om Jesus se woorde ter harte te neem om verder te kyk en die hoop op God self te plaas. Beide op die geestelike seën wat Hy gee en die sekerheid van sy beheer.

Share

Vyfde Sondag ná Epifanie – 10 Februarie 2019 – Lukas 5:1-11

Verlede jaar het die balpeutery van die Australiërs in die derde kriekettoets teen Suid-Afrika groot opslae gemaak. Dis nie dat hulle nie die reëls geken het nie. Hulle het geweet dis verkeerd. In krieketkringe is dit onaanvaarbaar. Gesels met die kinders vanuit daardie hoek oor die Christelike lewe. Ons teks begin as’t ware met die kameralens op ‘n wye hoek gestel. Jesus wat die skare leer. Na Jesus die skare geleer het, tree Hy nou in gesprek met Petrus. Petrus is skielik in die kollig. Ná die wonder val hy met ‘n sondebesef op sy knieë voor Jesus. Hy bely sy ontrouheid aan die wet van God. Hy kom tot inkeer. Soos Hy die sondaar Petrus, met al sy gebrokenheid, in diens neem, staan Hy voor ons as die Een wat alle gesag het en daag Hy ons uit om Hom op sy woord te neem en Hom te gehoorsaam en te volg. Immers, diens aan God is die somtotaal van vryheid.

Share

Vierde Sondag ná Epifanie – 3 Februarie 2019 – Psalm 71:1-6

Bou vooraf ‘n fort van komberse en laat die kinders saam met jou in die fort sit terwyl julle gesels. Of, as jy nie kans sien vir die fort nie, vra wie van hulle soms kombers forte in hul huise bou, hoe die forte lyk, hoe hulle dit bou. Verduidelik dat die skrywer van die Psalm bang was. Daarom bid hy dat God vir hom ‘n plek sal wees waar hy veilig voel, soos ‘n rots waaragter hy kan wegkruip. Gesels oor nog plekke waar ‘n mens veilig voel, bv in jou ma se arms. Wys almal op die manier waarop die skrywer van die Psalm skuif: eers vra hy God om vir hom ‘n veilige plek te wees, dan begin hy bely dat God vir hom ‘n veilige plek is. Ons kan ook op die manier vir God vra om vir ons ‘n veilige plek te wees – en vir God dankie sê en vertrou, omdat hy vir ons daardie veilige plek is. Dit is ‘n goeie inleiding tot die prediking.

Wanneer mens hierdie woorde hoor, kom die situasie van so baie mense wat skreeu en dors na reg, geregtigheid en bevryding by mens op. Ons land se misdaadlandskap van fisieke geweld, plaasmoorde, korrupsie, finansiële uitbuiting, huisinbraak, gesinsgeweld, transito rooftogte en voertuigkapings versterk ons gebede en geroep om reg en regverdiging. Hierdie gebed roep tot God dat God sal red en uitkoms sal bied. Dit soek troos in God se reg en geregtigheid. Hierdie Psalm roep egter nie net na God nie, maar vind ook rus in God. Die primêre oproep van Psalm 71 is om die gemeente tot bidders op te roep, wat soos die digter vooruitskouend beloof en roem dat hulle God sal loof en prys omdat hulle glo en oortuig is Hy sal redding bring. Met musiekinstrumente moet ons voortydig die wonders wat sal kom nou al besing! Nou reeds die nuwe dagbreek, die troos en vreugde, die nuwe toekoms hoopvol vier! Want dit gaan verseker kom. Ons moet net biddend wag. En dit sal kom as seën, as geskenk. Dit waarborg dié Here wat ‘n pad in die see gemaak het. Hy gáán iets nuuts vir jou skep. Hy gaan jou verras.

Share

Derde Sondag ná Epifanie – 27 Januarie 2019 – 1 Korintiërs 12:12-31a

Jy kan die fokusteks in Familietyd tussen 3 lesers verdeel en dramaties voorlees. Voorbeeld ingesluit. Daar is ook ‘n treffende illustrasie van Carolyn Brown ‘n kleinkind wat ‘n boek vir die oupa aandra en só sy voete word. Ons is tans in die kerklike jaar in die tyd van Epifanie. Die woord epifanie beteken letterlik “verskyning”. Vandag se teks praat oor ons gemeente, oor die geloofsgemeenskap wat die Here hier op aarde kom skep het. Hoe is ons deel van die verskyning van die Lig in die wêreld? Wat vra ons teks van Christusvolgelinge met betrekking tot ons funksionering as liggaam van Christus in die wêreld?

Hoe lyk dit wanneer God se gemeente prakties lewe in die lig wat van God uitstraal? Dit is ironies dat die verskillendes geestelike gawes van God ‘n bron kan word van konflik en wantroue tussen gelowiges. Dit is deels die bron van die konflik in Korinte. Dit is vandag steeds so. Daarenteen is die eenheid in Christus, waarvan ons teks getuig, ‘n eenheid wat alles te bowe gaan. Ons is almal saam in Christus. Dit beteken nie dat ons almal dieselfde is of hoef te wees nie. Dit beteken ook dat die verskeidenheid van gawes die eenheid nie bedreig nie, maar dien. Ons moet net insig daarin hê.

Share

Tweede Sondag ná Epifanie – 20 Januarie 2019 – 1 Korintiërs 12:1-11

Met Familietyd kan jy werk met die tema dat die kerk in diens van God staan. Gebruik ’n gereedskapkis om dit te illustreer. Beskrywing en inkleurprent ingesluit. Daar is ook ’n eenvoudige vertaling uit die Nuwe Testament vir Kinders. Die preekriglyn begin met die konteks van die stad Korinte en die vrae wat die gemeente as gevolg daarvan gehad het oor ‘n wye reeks etiese en praktiese situasies. Daarna word vers vir vers deur die boodskap van die gemeente as die liggaam van Christus gewerk en die implikasies ook vir gemeentes vandag getrek. Daar word ook uitvoerig aandag aan die gawes van die Gees gegee met ‘n bespreking van verskillende sieninge daaroor deur die eeue.

Share

Eerste Sondag ná Epifanie – 13 Januarie 2019 – Jesaja 43:1-7

Die teks leen hom daarvoor om oor God se beskerming te gesels, en dit ook aan die betekenis van die doop te koppel. “Ek het jou op jou naam geroep…” Jy kan die verhaal van Daniël gebruik wat in die leeukuil gegooi is en toe deur God op ‘n buitengewone wyse gespaar is (Daniël 6). Brei dalk uit oor die leeus se stink asems, die harde geroggel as hulle brul en hoe lank die naels aan hulle voorpote is. Fokus dan op die wonder van bewaring in uiterste nood en hoedat Daniël ervaar het dat God hom inderdaad op sy naam geroep het – hoedat die beloftes van Jes 43 vir hom waar geword het. Daar is meer inligting oor leeus in die preekriglyn.

Dit verskaf ‘n goeie inleiding vir die aangrypende teks van Jesaja 43. Ons teksgedeelte verduidelik hoe onbenullige mense aan die verkeerde kant van die geskiedenis en die heersende politieke magte, in ballingskap, die vrede van die Here kan deel. In hierdie verse sê die Here Hy is die een wat Israel nuut skep en vorm. Die woord wat hier met “vorm” vertaal word, is dieselfde woord wat in Genesis 2 gebruik word wanneer God die mens vorm om in God se tuin te leef en werk. Soos die Here Adam gevorm het, vorm Hy Israel. Moenie bang wees nie is die versekering wat die Here gee aan diegene wat geroep word. Vrees word uitgedryf, omdat God die redder, verlosser, bevryder van mense is. God ken hulle by die naam. Net soos Adam die diere in die tuin van name voorsien het, en so beheer oor hul uitgeoefen het, so dui die Here se benoeming van Israel aan dat Israel sy besitting is.

Share

Epifaniefees – 6 Januarie 2019 – Matteus 2:1-12

Soos met enige verhalende teks kan jy gewoon die Skriflesing dramaties doen. As die omstandighede gepas is, kan kinders dit ook opvoer terwyl iemand dit lees. Daar is ook pragtige stories wat jy kan vertel. The Camel Who Found Christmas deur Alexa Tewkesbury illustreer hoe niemand hoef bang te wees nie, want almal – selfs die kleinste kameeltjie – is welkom by God. As jy dit nie kan opspoor nie, kyk by die ingeslote skakel. The Fourth King deur Ted Sieger is ‘n pragtige storie oor die sterrekyker wat dit nooit gemaak het tot by die krip nie, want hy het oral langs die pad mense gehelp. Sy avonture kan dalk bietjie lank wees, maar jy sou dit kon verkort. Daar is selfs in 2005 ‘n fliek van die boek gemaak. As jy dit nie in die hande kan kry nie, kan jy oorweeg om dit by die ingeslote skakel te leen. Daar is ook inkleurprente van die sterrekykers.

Ons teks is opvallend-genoeg ‘n verhaal van soek – byna almal is naarstiglik aan die soek. Die geboorte van ’n Koningskind ontketen ’n soektog wat van ver af uit die ooste begin. Die sterrekenners het ’n aanduiding gekry, op grond van hulle wysheid en studie van die sterre, dat ’n koning van die Jode gebore is. Hulle aanvanklike soektog bring hulle by koning Herodes in Jerusalem uit. Die sterrekenners doen by Herodes navraag oor waar die koningskind gebore is. Herodes doen dieselfde en vra op sy beurt aan die skrifkenners en priesterleiers waar die Christus gebore sou word. Die sterrekykers soek die Koningskind om Hom te aanbid en te eer as die Koning van die Jode. Herodes soek Hom ook, maar vir duistere redes. Dit sou later in die hoofstuk blyk dat hy die nuwe Koning as bedreiging beskou en Hom uit weg wou ruim. Matteus se boodskap met hierdie verse aan sy lesers is dat Jesus Christus die ware Koning van die Jode is. Hy sal volgens Miga 5 vir sy volk sorg soos ’n herder.

Share

Eerste Sondag na Kersfees – 30 Desember 2018 – Psalm 148

Die Psalm verduidelik dat alles wat geskep is die lof van God besing. ’n Kollega vertel dat daar ’n man in sy gemeente is wat saam met sy vrou met hulle seiljag reg rondom die wêreld gevaar het. Die man het altyd ’n mikroskoop op sy jag gehad. Hy vertel hoe hy eendag toe hulle baie vêr weg van land af, heeltemal afgesonderd, gevaar het, van die seewater geskep het en dit onder die mikroskoop bekyk het. Tot sy groot verbasing het hy die wonderlikste kleure en patrone en formasies gesien. So mooi dat hy net meer en meer daarna wou kyk. Na die tyd het hulle baie daaroor gedink en gewonder hoekom al hierdie wonderlike prag en skouspel so vermors lê in die diepte van die oseaan, want min mense kan dit ooit sien en waardeer.

Toe besef hulle dat die Here dit vir Homself gemaak het en dat Hy dit dag na dag geniet. Al die prag en skoonheid maak Sy naam groot en sing ’n loflied tot Sy eer. Net so is alles wat mooi en goed is rondom ons, ook besig om die eer aan God te bring. Deel vir die kinders skryfgoed en papier uit en vra dat hulle ’n prentjie van iets moet teken wat hulle dink ’n loflied vir God is. Psalm 148 is ‘n pragtige, gepaste Psalm om by die jaareinde te oordink. Psalm 148 brei die oproep tot lof uit tot die hele heelal – die hemel en die aarde, die skepsels en die skeppings. Die redes vir die lof lê in God se betroubare bevestiging van alles wat leef. Dié lof word in die eerste plek gevra – vers 1-6 – van alles wat in die hemel gemaak is. Dit sluit die lewende skepsels in: engele en hemelse magte. Dit sluit ook die gepersonifieerde skeppings in: son, maan, sterre, selfs die water wat uit die hemelkoepel op die aarde reën verskaf. Dié lof word in die tweede plek gevra – vers 7-14 – van alles wat op die aarde gemaak is. Dit sluit die lewende skepsels in – beide die diere as die mense: seemonsters, wilde diere, vee, kruipende diere, voëls, konings, aanvoerders, regeerders, al die volke, jongmense en oumense. Dit sluit ook die gepersonifieerde skeppings in: vuur, hael, sneeu, newels (miswolke), stormwind, berge, heuwels, vrugtebome, seders, en selfs die diep waters (oseane).

Die hele skepping het hulle bestaan aan God te danke. Daar is niks uitgesluit wat nie God as Skepper moet loof nie. Die hele skepping is vir hulle voortgaande bestaan van God afhanklik. Daar is niks uitgesluit wat nie God se betroubare bevestiging nodig het nie. Daarom moet die hele skepping God loof. Dit is die bepaalde bestemming van alles wat leef en beef, veral van dié wat “na aan Hom is”. Halleluja! Hoe sal ons 2018 eindig en 2019 betree? Kom ons doen dit met lof op ons lippe. Ons lewe is veilig geborge in ons God. Alle vorme van bestaan is veilig geborge in God!

Share

Kersfees – 25 Desember 2018 – Titus 2:11-14

Betrek kinders van verskillende ouderdomme deurgaans deur die liturgie. Laat hulle kerse aansteek en voorlesings doen. Dikwels bring kinders hul Kersgeskenke saam erediens toe. Vra dat hulle dit vir die gemeente kom wys en geniet dit saam met hulle. Herinner mekaar dan aan die heel beste geskenk, net voordat julle ‘n lofsang sing. Daar is ’n magdom pragtige Kersverhale wat jy kan lees! Ons gee talle skakels na bv: Panov; Eseltjie se droom; Old Bafana; Star Bright; The Giveaway en Song of the Stars. Carolyn Brown wys op ‘n interessante vergelyking wat vanuit die Titus Skriflesing getrek kan word tussen Jesus en Kersvader.

Kersvader bring nét geskenke vir die kinders wat soet was: “Santa brings toys only to the good. Jesus comes to love us not because of anything we have done to earn it but because God loves us.” Die preekriglyn begin by die verhaal van Sully, die noemnaam van Chesley Sullenberger III, wat die kaptein van die passasiersvliegtuig was wat ‘n noodlanding op die Hudsonrivier moes doen. In die fliek vertel die medevlieënier hoe briljant Sully die situasie hanteer het. Vlieëniers tree volgens vooraf ingeoefende prosedures op. Sully moes sekere van hierdie instruksies ignoreer, omdat dit in die situasie nie van toepassing was nie. Hy moes die regte prosedures identifiseer en dit nougeset uitvoer. Dit het hy briljant gedoen. Die omgekeerde is ook waar. Die verkeerde gedrag kan lewens kos en verwoes. Dit is waarskynlik maklik om aan voorbeelde te dink waar growwe nalatigheid groot skade aan mense aangerig het.

Dit is egter ook waar van “minder ernstige” oortredings. Dit is dikwels liefdeloosheid, hooghartigheid, veroordeling en beterweterigheid by gelowiges wat mense van die geloof “afsit”. Dit is daarom seker nie om dowe neute dat Paulus in hierdie brief aan Titus aandag gee aan Titus se gedrag nie. Titus is ‘n jong geestelike leier van ‘n jong gemeente op die eiland Kreta. Paulus gee egter nie net aandag aan Titus se gedrag nie. Hy is begaan oor die gedrag van die gelowiges in die algemeen, van almal in die gemeente. Dit sluit in Titus, die ouderlinge, gesinslede teenoor mekaar en gelowiges teenoor ongelowiges.

Share
1 2 3 4 24