1 Tessalonisense 5:16-24 – 17 Desember 2017 – Derde Sondag in Advent

Fokus met Familietyd op vreugde. Gesels met hulle oor hoe mens kan kies vir vreugde, selfs wanneer dit sleg gaan en mens hartseer is. Deel aan die kleiner kinders ’n papier uit met die woord vreugde in borrelletters daarop gedruk. Hulle kan dit tydens die res van die diens versier met vrolike prentjies en iewers by die huis gaan op plak om hulle te herinner om vreugde te kies. Daar is ook ‘n seën wat jy aan die einde van die preek saam met die ouer kinders kan uitspreek. Die preekriglyn sluit aan by die feit dat ons almal ‘n taal praat. Ons word so groot. Klein seuntjies en dogtertjies praat hulle pa en ma se taal. Nie almal praat die taal ewe goed nie. Wanneer ons skool toe gaan, leer ons daar is reëls vir die grammatika. Daar is spelreëls. Daar is kommas en punte. Ons leer soms rympies aan om iets makliker te onthou. Sommige Skrifuitleggers glo 1 Tessalonisense 5:16-22 kon dalk so ‘n rympie wees. Dit het die geloofsgemeenskap gehelp om die taal van Christelike gedrag te leer. As mens dit eers aangeleer het, word dit deel van ons lewe. Wat is hierdie taal? Kom ons laat die Woord tot ons spreek.

Share

2 Petrus 3:8-15a – 10 Desember 2017 – Tweede Sondag in Advent

In Bybel-Media se Woord en Fees is voorstelle vir ‘n familie-oomblik. Jy kan ook aansluit by hierdie week se fokus op vrede, en 2 Petrus se oproep tot ‘n lewe van vrede, deur Peace Week in Miss Fox’s Class deur Eileen Spinelli te lees. Nota: die preekriglyn sluit die hele hoofstuk 3 in. Vandag vier ons die eerste koms van Jesus na die wêreld. Ons kyk ook vooruit na Jesus se wederkoms. In die spanningsveld tussen eerste en tweede koms vind die gemeente die regte oriëntering om volgens die wil van God te lewe. In hierdie hoofstuk fokus Petrus op die wederkoms van die Here Jesus Christus en gelowiges se lewenshouding daaroor. Hy wil die geloofsgemeenskap motiveer tot ‘n lewende verwagting daarvan. Hy sluit sy brief af met ‘n enkele vers wat die interessante verwysing het na God aan wie die heerlikheid behoort: “nou en ook tot op die dag van die ewigheid.” ‘n Manier om op nóg ‘n wyse uit te spel dat die dag van die Here oneindig lank is.

Share

1 Korintiërs 1:3-9 – 3 Desember 2017 – Eerste Sondag in Advent

Die preekstudie maak die punt dat hoop nie ‘n stel reëls is om na te lewe nie, maar ‘n gedragskode. Om vanuit ons identiteit in Christus te leef. Die doop beklemtoon juis ons identiteit in Christus. Nooi mense om hulle name op gekleurde stroke lap/linte te skryf en in die liturgiese ruimte, naby die doopvont, op te hang as beeld daarvan dat ons almal God se kinders is. Dit is ook die begin van die Adventseisoen en ‘n goeie tyd om met kinders te gesels oor wat Adventstyd is en wat al die simbole beteken wat ons tydens Adventstyd gebruik. Die preekriglyn begin met die opmerking dat die meeste mense weet hoe om ‘n brief te teken. Na ‘n paar voorbeelde wat dit onderstreep, gaan dit oor na die Griekse gebruik om briewe aan die begin te teken, soos Paulus hier doen. Paulus het meesterlik geweet hoe om sy briewe aan die begin te teken, net gepas vir die geleentheid.

Op die oog af is die gemeente in Korinte die tipe geloofsgemeenskap wat medegelowiges hooploos laat. Die probleem was nie ‘n gebrek aan entoesiasme vir volgelingskap van Jesus nie, maar eerder oor entoesiasme wat in ‘n tipe spirituele meerderwaardigheid onder sommige oorgekom het. Dit het tot konflik en verdeeldheid gelei. Teen hierdie agtergrond is die openingsverse van die brief verrassend. Daar is geen teken te bespeur van dit wat later aangespreek word nie, altans nie op die oppervlak nie! Hy begin om te skryf oor die feit dat hulle identiteit bestaan uit wat God aan hulle gedoen het, en vir hulle gegee het. Hy wil hulle oproep om hulle lewe vanuit hierdie fondament te voer. God roep hulle daartoe. Hulle moet word wat hulle reeds in Christus is. Soos Advent dit ook vir ons doen, daardie tyd van die jaar dat ons vooruitkyk na Jesus se koms na die aarde. God het vir ons ‘n nuwe identiteit en roeping gegee. Dit moet ons help om bestek op te neem oor hoe ons met die uitleef daarvan vaar, waarvan ons ons moet bekeer? Advent wil ons herinner om te word wat God van ons gemaak het.

Share

Matteus 25:31-46 – Ses en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Sondag van Christus die Koning – 26 November 2017

Hierdie kan ‘n lekker teksgedeelte wees om op te voer. Jy kan ook die heerlike storie van Vader Panov deur Tolstoy vertel. Panov bid dat hy graag die Here wil ontmoet. Deur die dag ontvang hy allerhande mense. Wanneer hy dan in die aand wonder waar die Here was, word hy herinner dat die Here daar was in die mense wat Panov gehelp het. Die preekriglyn begin met die die verhaal van Patricia Miller wie se hart in vyf jaar tussen die nood van ongevalle totaal afgestomp het. Totdat die Here haar oë oopgemaak het deur die ma van ‘n jong vrou wat ‘n oordosis dwelms geneem het. Dit is ook waartoe ons teks ons nooi, om in liefde uit te reik na dié wat ons nodig het. Hopelik laat hierdie gelykenis ons met nuwe oë en erns kyk na die eenvoudige dade van liefde aan ons medemens in nood. Wie weet, daardeur bevind jy jouself heel moontlik in koninklike geselskap.

Share

1 Tessalonisense 5:1-11 – Vyf en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 19 November 2017

Wanneer ‘n mens na ‘n groot gebeurtenis toe gaan, soos ‘n troue of ‘n rugbywedstryd, trek jy die regte klere aan. Die ingeslote foto’s van kinders het elkeen vir ‘n spesifieke gebeurtenis gereed gemaak. Kan jy raai vir watter gebeurtenis elkeen is? Ons teks praat daarvan dat ons Jesus as jou klere aantrek! Gesels met die kinders oor wat dit prakties beteken. Die preekriglyn begin by al die voorspellings van wanneer die aarde sal vergaan. 23 September 2017 was die jongste datum waarop die aarde definitief sou vergaan, volgens Meade. Maar, die aarde het toe nie op 23 September 2017 vergaan nie. Dié voorspellings is jammer, want dit maak mense onverskillig oor Jesus se boodskap: die dag van die Here kom onverwags, soos ‘n dief in die nag. Daarom roep Paulus ons op om mekaar te bemoedig en versterk met die oog op daardie dag. Ons word aangemoedig om ‘n stil en heilige lewe te lei, gevul met hoop, gebed en vreugde.

Share

1 Tessalonisense 4:13-18 – Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 12 November 2017

Kinders is nie bang om oor die dood te praat nie. Hulle dink nog nie aan hul eie dood nie, maar het dikwels al ‘n geliefde verloor. Hierdie is ‘n goeie geleentheid om met hulle daaroor te gesels. Jy kan ook ‘n verkorte weergawe van die pragtige Ida, Always deur Caron Levis wys. Skakels na die video ingesluit. ‘n Ander opsie is om te reflekteer oor hoe ons hartseer/rou hanteer deur die storie van Tess’s Tree te vertel. Skakel ook ingesluit. Die preekriglyn begin met die boek van Kurt Vonnegut, Cat’s Cradle, na aanleiding van die atoombom wat aan die einde van WO II op Hirosjima gegooi is. In die boek verken hy die groeiende tegnologiese vermoë van die mens, en bring dit in verband met die mens se algemene dwaasheid en kortsigtigheid. Die hoofkarakter van Cat’s Cradle, John, beplan ‘n boek oor die dag dat die wêreld eindig. Terwyl hy besig is met sy navorsing kom John op ‘n hoofstuk in ‘n boek af met die titel: “What Can a Thoughtful Man Hope for Mankind on Earth, Given the Experience of the Past Million Years?” Dit neem John nie lank om die hoofstuk te lees nie, want dit bestaan uit net een woord: “Nothing”, gevolg deur ‘n punt. Vonnegut se boek beskryf die gevoel wat baie mense vandag het: daar is geen hoop op die langtermyn nie. Dit is in dié situasie wat die boodskap van 1 Tessalonisense 1:3 hoop bring. Paulus wys hoe die drie deugde van geloof, liefde en hoop saamwerk. Op verskillende maniere raak hy hierdie tema in die 1 Tessalonisense-brief aan. In ons teks is hy spesifiek besig met die derde deug: hoop. Die hoop waarvan hy praat, het betrekking op Jesus Christus wat die aarde nuut maak. Dit wat God aan Christus se liggaam in die graf gedoen het (om dit op te wek tot lewe), is wat God in Christus met die res van die skepping gaan doen. Hierdie hoop hou deug lewend. Uit die hoop word die daaglikse geloof en liefde gebore. Hoop het dus vir gelowiges alles te doen met die toekomende lewe, maar ook met hierdie lewe.

Share

1 Tessalonisense 2:9-13 – Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 5 November 2017

Paulus skrywe dat hulle opgetree het soos ’n pa teenoor sy kinders. Met Familietyd kan jy die verskillende ingeslote foto’s gebruik om pa’s se optrede te beskrywe en dan oor ons eie optrede teenoor mekaar met die kinders te gesels. Die teksindeling werk met 2:1-13 as ‘n eenheid. Aangesien hierdie die eerste van ‘n reeks preke uit 2 Tessalonisense is, word in hierdie preek van heelwat inleidende stof gebruik gemaak. Paulus het eers laat in sy bediening begin om briewe te skrywe.

Hierdie eerste brief kom ongeveer 16 jaar nadat hy die dramatiese bekering op die pad na Damaskus beleef het. In hierdie brief wys hy na Christus, weg van homself, en praat hy oor die vorming van die gelowiges om Christus na te volg tot eer van God die Vader. Paulus se bediening herinner aan die wyse waarop Johannes die Doper uitgebeeld word op die Isenheim altaar, na die skildery van Matthias Grünewald. Terwyl Christus aan die kruis ly, staan Johannes die Doper aan sy linkerkant, met ‘n lam aan sy voete. Die lam is ‘n uitbeelding van Christus se offer, terwyl Johannes se wysvinger buite verhouding groot uitgebeeld word. In Latyn staan die beroemde woorde van Johannes die Doper geskryf: “illum oportet crescere me autem minui” – “Hy moet meer word en ek minder.” Dit is wie Paulus in sy bediening wou wees: iemand wat na Christus wys, en in Jesus se Naam dissipels maak, opbou in die geloof en bind tot ‘n gemeente van die Here.

Share

Matteus 22:34-46 – Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag 29 Oktober 2017

As julle dit nog nie het nie, skaf Bybel-Media se Saamkleurpret oor die Sola’s aan. In kleiner gemeentes kan jy die prente groot druk en op ‘n tafel (of die vloer!) voor in die kerk sit, sodat kinders tydens die diens kan sit en inkleur. Daar is ook lekker stories oor reformatore, wat jy hier kan vertel. Ons het in 2012 en in 2015 voorgestel dat jy die verhaal van Luther vertel mbv akteurs. As jy dit nog nie gedoen het nie, is vanjaar natuurlik die perfekte geleentheid! Of gebruik die prettige video wat Luther se verhaal vertel, of die meer besadigde weergawe. Alle skakels ingesluit. In ons teksgedeelte word twee vrae gevra: Die eerste vraag word (36) deur ‘n wetgeleerde aan Jesus gestel, terwyl Jesus die tweede vraag aan die Fariseërs stel (42).

Die vrae skep die raamwerk vir oordenking en fokus op Hervormingsondag: “‘Meneer,’ vra hy, ‘wat is die groot gebod in die wet?'” en: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” Ons teks verbind die identiteit van Jesus as Here, ware God en Mens, die Een wat liefde volledig beliggaam, en die wese van die onderwysing van God op ‘n merkwaardige manier aan mekaar. Luther het ontdek dat hierdie Jesus die liefde en genade van God aan mense bedien. Hy beliggaam die genade van God, wat ons ontvang deur die leë hande van geloof uit te steek en dit te omhels. Dat ons ons hande uitsteek, is alleen maar die genade van God. Hierdie genade verander ons lewens totaal. Ons word ook die draers van God se aktiewe liefde na ander. Soos die Skrif ons leer. Ons doen dit alles alleen tot verheerliking van God.

Share

Matteus 22:15-22 – Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 22 Oktober 2017

Die kern van die fokusteks is opgesluit in die verse oor die muntstuk. Vertel daarom iets van die ontwikkeling van betaalmiddels en hoe dit in die NT gewerk het aan die hand van die ingeslote inligting. Ons teksgedeelte speel af in Jesus se laaste week voor sy teregstelling en dood aan die kruis. Die preekriglyn vertel iets meer van wat alles in daardie Heilige Week gebeur het sowel as die vier twisgesprekke met die Jode. Jesus se wysheid snoer egter die monde. Daarmee word Jesus se identiteit as leermeester op ironiese wyse deur die Fariseërs bevestig. Jesus is inderdaad die laaste woord van waarheid. Die kerngedagte van hierdie Skrifgedeelte onderstreep die boodskap van getrouheid aan jou Leermeester.

Share

Filippense 4:1-9 – Negentiende Sondag in Koninkrykstyd – 15 Oktober 2017

Sluit aan by vers 8 en 9 en vertel die storie van die oulike seuntjie Buddy wat heel dag TV gekyk en saam met ‘n slegte groep seuns uitgehang het en die effek wat dit op hom gehad het (Cross, L. Story Sermons for Children). Daar is ook ’n inkleurprent. Die preekriglyn sluit aan by die goeie verhouding tussen Paulus en die gemeente van Filippi. Teen hierdie agtergrond skroom Paulus ook nie om persone in die gemeente wat in onderlinge konflik verkeer het, aan te spreek nie. Hoewel die verwysing na die spanning slegs kortliks aangeraak word, kan ons nogal baie hieruit leer oor die hantering van konflik in die gemeente van die Here. Vir almal wat konflik moet hanteer (en dit is ons almal), help dit nogal om op te let wat Paulus nié sê nie, en wat hy wél sê. Wanneer ons na hierdie verhale luister, verstaan jy waarom die groot teoloog, Lesslie Newbigin, gesê het die primêre uitlegger van die evangelie is die praktiese lewe van die gemeente van Christus. Die lewe van die gemeente is die boek wat die wêreld lees, en op grond waarvan hulle besluit of dit die moeite werd is om Jesus Christus te volg. Laat ons daarom Paulus se daadwerklike optrede raaksien. Hy neem praktiese stappe om konflik met wysheid, deug en vreugde te vervang. Ons moet hom daarin navolg. Om Christus ontwil.

Share
1 2 3 4 5 19